• Tuisblad
  • Sake
  • Só daal Johann Rupert se salaris by Richemont
Su00f3 daal Johann Rupert se salaris by Richemont
Su00f3 daal Johann Rupert se salaris by Richemont

Só daal Johann Rupert se salaris by Richemont

Die sakemagnaat het gesê dit is tyd om meer verantwoordelikheid aan ’n groep jonger bestuurders te oorhandig, hoewel die “orkes nog ’n bietjie van ’n dirigent” nodig het.
Nellie Brand-Jonker – Johann Rupert, voorsitter van Richemont, se vergoeding het met bykans 12% in die pasafgelope boekjaar gedaal. Die jaarverslag vir die boekjaar tot einde Maart toon Rupert het 2,7 miljoen Switserse frank verdien. Dit is in vandag se wisselkoers gelykstaande aan R39,9 miljoen.

Die jaarverslag toon Rupert het die vorige boekjaar 3,06 miljoen frank verdien, wat beteken hy het die afgelope jaar 366 825 frank minder verdien.

Richemont, wat deur die Rupert-familie beheer word, het Woensdag sy jaarvergadering gehou waar alle besluite goedgekeur is.

In die jaarverslag word gesê die totale vergoeding wat aan die voorsitter van die direksie betaal word, word jaarliks deur die vergoedingskomitee hersien.

Geen verduideliking vir die verlaging is gegee nie.

Dit hou moontlik daarmee verband dat Richemont verlede jaar ’n uitvoerende hoof aangestel het.

Jérôme Lambert, wat in 2017 op die direksie aangestel is, is as uitvoerende hoof aangestel. Hy was sedert November 2017 die bedryfshoof.

In die jongste jaarverslag word gesê Rupert se vergoeding is van Oktober 2017 af verlaag.

Bloomberg het in September verlede jaar berig Rupert gee verdere beheer oor aan Lambert as deel van ’n geleidelike oorgee van die leisels. Dit sal meebring dat Rupert minder met die daaglikse bestuur van Richemont te doen sal hê.

Die stap het gekom nadat vrae ontstaan het oor die opvolgers van ander ouerwordende reuse in die bedryf vir luukse goedere, insluitende Bernard Arnault van LVMH en Patrizio Bertelli van Prada.

Die jaarverslag toon Lambert het 5,3 miljoen frank verdien, wat 10% meer as die vorige boekjaar is.

Lambert se aanstelling het gekom nadat Rupert twee jaar vantevore weggedoen het met die pos van uitvoerende hoof toe hy gesê het die maatskappy is te groot vir een persoon om te bestuur.

Rupert, wat 69 is, is in 1988 op die maatskappy se direksie aangestel en het van 2002 tot 2013 as voorsitter gedien. Hy het ’n sabbatsjaar geneem vanaf die jaarvergadering van 2013 af en is weer in September 2014 as voorsitter aangestel.

Rupert het in die twee boekjare tot einde Maart 2016 en 2017 in elk 3,2 miljoen frank verdien. Sy vergoeding het daarna in die boekjaar tot einde Maart 2018 reeds met 182 000 frank gedaal.

Richemont se bestuur is die afgelope jare redelik verander toe opvolgers vir ouer bestuurslui aangestel is.

Rupert het volgens Bloomberg in 2017, toe sy seun Anton as direkteur aangewys is, gesê hy (Anton) gaan nie ’n uitvoerende rol hê nie, maar dien as ’n skakel tussen die beherende aandeelhouer en die bestuur van Richemont.

Hy het gesê dit is tyd om meer verantwoordelikheid aan ’n groep jonger bestuurders te oorhandig, hoewel die “orkes nog ’n bietjie van ’n dirigent” nodig het.

Die jaarverslag toon sy seun Anton, ’n nie-uitvoerende direkteur, het sy vergoeding vir sy pligte as nie-uitvoerende direkteur van die hand gewys. Hy het dit ook in die vorige boekjaar gedoen.

Rupert is een van die rykste mense in die wêreld. Volgens Forbes se lys van die wêreld se rykste mense van 2019, wat in Maart uitgereik is, is hy een van die miljardêrs in dollarterme op die ranglys. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!