• Tuisblad
  • Sake
  • Só gaan Christo Wiese se belang in Brait krimp
Su00f3 gaan Christo Wiese se belang in Brait krimp
Su00f3 gaan Christo Wiese se belang in Brait krimp

Só gaan Christo Wiese se belang in Brait krimp

Brait het belange in Virgin Active, die Britse kruidenierswaregroep Iceland en die klerewinkelgroep New Look, asook in die Suid-Afrikaanse kosgroep Premier Foods.
Nellie Brand-Jonker – Die grootste aandeelhouer in die beleggingsbeheermaatskappy Brait, Christo Wiese, gaan ná ’n reuse-kapitaalverkryging wat Woensdag aangekondig is, ’n heelwat kleiner belang oorhou.

Dit volg agt jaar nadat Wiese in 2011 die grootste aandeelhouer in Brait geword het toe dié maatskappy in ’n beleggingsbeheermaatskappy omgeskakel is.

Brait het Woensdag aangekondig hy wil R5,6 miljard insamel deur nog aandele uit te reik. Tesame met herfinansiering wat met skuldbriewe beoog word, wil hy tussen R14,4 miljard en R14,7 miljard insamel.

Wiese se beleggingsmaatskappy Titan gaan nie al sy regte uitoefen nie omdat Brait ’n groot nuwe belegger kry, naamlik die private ekwiteitsfondse van Ethos tesame met die genoteerde Ethos Capital.

Wiese se Titan gaan steeds R1 miljard belê deur die res van sy regte op te neem en ’n deel van die transaksie te onderskryf.

Wiese hou voor die kapitaalinsameling 40%. Hy het onlangs nog 46% gehou, maar het 6% aan die batebestuurder Mergence verkoop.

Die regte wat hy afstaan is om Ethos te akkommodeer en die nodige aansporing te gee vir die transaksie. Ethos gaan ná die transaksie sowat 12% in Brait hou.

Brait het belange in Virgin Active, die Britse kruidenierswaregroep Iceland en die klerewinkelgroep New Look, asook in die Suid-Afrikaanse kosgroep Premier Foods.

Die regte-uitgifte is deel van Brait se plan om sy skuldlas wesenlik te verminder en om kans te gee vir sy nuwe strategie om in die komende vyf jaar al sy bates te verkoop.

Aandeelprys val

Die nuus oor sy nuwe strategie is verlede Donderdag aangekondig en het sy aandeelprys skerp met 13% laat styg.

Dit het Woensdag in ’n stadium met byna 16% geval ná die aankondiging van die geld wat hy wil insamel.

Dit is beskryf as normaal wanneer ’n maatskappy aankondig hy gaan omskepbare skuldbriewe uitreik.

Dit word ook as normaal beskou wanneer ’n baie groot regte-uitgifte vergeleke met die markwaarde van ’n maatskappy onderneem word.

Die kapitaal wat Brait wil insamel, beloop nagenoeg 60% van wat sy markwaarde Dinsdagaand van R8,6 miljard was.

Brait het in ’n verklaring Woensdag gesê die direksie het ’n plan vir herkapitalisering aanvaar wat die gevolg sal hê dat sy skuld met tot R5,3 miljard verminder sal word.

Brait het einde September netto skuld van bykans R12 miljard gehad met twee groot vervaldatums in 2020.

Die rede vir die herkapitalisering is as volg uiteengesit: “Brait het ’n kernportefeulje van eiesoortige, finansieel sterk en kontantskeppende beleggings wat ondergewaardeer is weens die huidige hoë skuldvlakke op ons balansstaat, en kommer oor die maatskappy se vermoë om sy skuldverpligtinge na te kom.

“Die herkapitalisering spreek dit aan deur ons van ’n beduidende bedrag nuwe aandeelkapitaal te voorsien wat gebruik sal word om ons skuld tot ’n volhoubare vlak te verminder.”

Aantreklik vir Ethos

Ethos het sy eie regte-uitgifte aangekondig vir die belegging.

Peter Hayward-Butt, uitvoerende hoof van Ethos Capital, sê hulle meen Brait besit ’n aantal bates van goeie gehalte.

Volgens hom het Brait die afgelope jare te veel skuld opgeneem, en die verkryging van New Look ’n paar jaar gelede het nie daarmee gehelp nie.

Hy sê Ethos se belegging in Brait vind teen ’n “baie wesenlike afslag van die netto batewaarde” plaas van ten minste 50%.

“Dit bied ’n unieke en redelik aantreklike geleentheid vir ons.”

Brait se netto batewaarde was einde September R38 per aandeel.

Sy aandeel verhandel reeds teen ’n wesenlike diskonto tot die netto batewaarde, deels weens die kommer oor sy hoop skuld en of hy sy verpligtinge daarmee sal kan nakom.

Sy aandeelprys het in ’n stadium Woensdag met bykans 16% tot R13,91 gedaal.

Die maksimumprys waarteen die regte-uitgifte plaasvind, is R9,40 maar die prys sal eers middel Januarie bepaal word.

Jonathan Matthews, ’n vennoot van Ethos, sê hulle glo veral in die waarde wat uit Virgin en Premier ontsluit kan word.

In Ethos se aanbieding aan beleggers is gesê ’n potensiële notering van Virgin is een opsie wat uiteindelik oorweeg kan word.

Brait se beleggings in die wynmaatskappy DGB en die glasvervaardiger Consol gaan vinniger verkoop word.

Na dié transaksies sal Virgin Active Brait se grootste bate wees in Ethos Capital se portefeulje, en Premier die derde grootste.

Waarde verwater

Casparus Treurnicht, ’n portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, meen die kapitaalinsameling is nie goeie nuus vir gewone aandeelhouers nie omdat die grootste gedeelte van die waarde wat ontsluit sou word, nou verwater gaan word.

“Dit is g’n wonder die aandeelprys val soos gesien kan word nie. Afhangende van die prys ná die regte-uitgifte se datum kan ons op die oomblik aanneem tussen 400 miljoen en 500 miljoen aandele moet uitgereik word volgens die plan.

“Dit beteken die netto batewaarde val tot tussen R18,44 en R20,55 per aandeel. Dit is ’n taamlike val vanaf R38 soos wat vandag met die resultate aangedui is.”

Ethos het op sy beurt bereken die nettobatewaarde gaan ná die regte-uitgifte R21,60 per aandeel beloop. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 29° Ruacana: 21° | 28° Tsumeb: 20° | 29° Otjiwarongo: 21° | 26° Omaruru: 22° | 31° Windhoek: 21° | 26° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 23° | 30° Mariental: 25° | 30° Keetmanshoop: 23° | 33° Aranos: 24° | 32° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 23° | 29° Oranjemund: 15° | 26° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 26° Maputo: 24° | 33° Windhoek: 21° | 26° Cape Town: 18° | 24° Durban: 21° | 29° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!