Su00f3 gaan Zeder se PepsiCo-dividend dalk lyk
Su00f3 gaan Zeder se PepsiCo-dividend dalk lyk

Só gaan Zeder se PepsiCo-dividend dalk lyk

Hanlie Stadler



Zeder se aandeelhouers kan ’n spesiale dividend van tussen R2,49 en R2,78 per aandeel verwag indien PepsiCo se oorname van Pioneer Foods slaag.

Dis tot 25 keer méér as die finale dividend van 11c per aandeel wat die maatskappy vanjaar uitgekeer het.

Zeder besit meer as 58 miljoen Pioneer-aandele, ’n belang van 28,23%, wat dié beleggingsbeheerfirma Pioneer se grootste aandeelhouer maak. Zeder gaan na verwagting R6,41 miljard ontvang wanneer Pioneer aan die Amerikaanse kosreus verkoop word.

Dié voorgenome transaksie, wat meer as R23 miljard werd is, is verlede Vrydag aangekondig. PepsiCo bied R110 per Pioneer-aandeel aan. Die direksie van Pioneer en Zeder steun die oorname, maar aandeelhouers van albei maatskappye, sowel as die JSE, Reserwebank en Mededingingskommissie moet dit nog goedkeur. Dit gaan na verwagting teen Februarie 2020 voltrek word.

Pioneer is die plaaslike eienaar en vervaardiger van onder meer Marmite, Sasko, Bokomo, Ceres, Liqui Fruit en tientalle ander welbekende koshandelsname.

Zeder het Donderdagmiddag uiteengesit hoe hy die verwagte R6,41 miljard sal bestee:

· R1,59 miljard gaan gebruik word om skuld te verminder;

· Tussen R4,25 miljard en R4,75 miljard gaan vir die spesiale dividend gebruik word; en

· Wat oorbly (tussen R70 miljoen en R570 miljoen, na gelang van die spesiale dividend waarop besluit word), gaan gebruik word om in nuwe geleenthede te belê of nog geld in Zeder se oorblywende portefeulje te belê.

Benewens sy belang in Pioneer besit Zeder onder meer 97,4% van die vrugte-uitvoergroep CapeSpan, 41,1% van die landboudienstefirma Kaap Agri, 29,3% van die hoender- en eierprodusent Quantum Foods, en 95,3% van die saadprodusent Zaad.

Zeder wys daarop dat die transaksie sy waarde op grond van die som van sy dele sal verhoog van 19 Julie se R6,36 per aandeel tot R6,62 per aandeel, ook teen marksluiting op dieselfde dag. Dis indien die waarde van Pioneer op R110 per aandeel bereken word, soos aangebied deur PepsiCo, plaas van op die werklike aandeelprys op dié dag van R102,50.

Zeder se aandeelprys verhandel teen ’n aansienlike afslag op sy som-van-sy-dele-waardasie. Die aandeel het wel die afgelope week met meer as 20% opgeskiet danksy die aankondiging en het Donderdag op R4,77 gesluit. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer