Su00f3 help Eskom Guptas om Optimum te koop
Su00f3 help Eskom Guptas om Optimum te koop

Só help Eskom Guptas om Optimum te koop

Jana Marx en Andrea Küsel – Mosebenzi Zwane, destydse minister van minerale hulpbronne, Rajesh “Tony” Gupta en Salim Essa, die Gupta-regterhand wat namens dié familie met Eskom geskakel het was almal in Desember 2015 saam in Switserland om die mynreus Glencore te oortuig om die Optimum-myn aan die Guptas te verkoop.

Só het Clifton Ephron, voormalige bestuurshoof van Glencore Coal South Africa, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Ephron het getuig dat Zwane die vergadering geïnisieer het, hoewel hy voorheen telkens ontken het dat hy by só ’n vergadering was.

Ephron het getuig hoe Glencore op verskeie maniere geboelie is om die Optimum-myn aan die Gupta-beheerde Tegeta Exploration & Resources, ’n filiaal van die Guptas se beheermaatskappy, Oakbay Investments, te verkoop.

Die transaksie is in Switserland beklink, waar Ephron en ander Glencore-grootkoppe saam met Zwane, Essa, wat homself glo as Zwane se raadgewer voorgestel het en Gupta teenwoordig was.

Optimum is uiteindelik teen minder as die myn se uitstaande bankskuld van R2,5 miljard gekoop.

Die moeilikheid begin

Ephron het getuig die moeilikheid het begin toe Optimum sy kostepluskontrak met Eskom, wat sedert die 1970’s kom, beëindig het, en in 1993 ’n vasteprysooreenkoms gesluit het.

Waar ’n kostepluskontrak baie sekuriteit vir die verskaffer bied, was Optimum se steenkoolpryse nou onderhewig aan onder meer die jaarlikse inflasiekoers.

Optimum het onderneem om jaarliks ’n minimum van 6,5 miljoen ton steenkool aan Eskom te lewer vir ’n tydperk van 25 jaar. Die kontrak is in 2008 hersien en verder verleng.

Optimum verloor sy eerste miljoene

Ephron het getuig Optimum het die lae uitvoerpryse in Julie 2013 begin voel.

Die myn het miljoene rand verloor en op Eskom se versoek weer met onderhandelinge begin.

Terwyl die onderhandelinge aan die gang was, het Eskom Optimum swaar boetes opgelê vir swak gehalte steenkool.

Ephron het getuig dat Optimum teen daardie tyd tot R100 miljoen per maand verloor het.

Glencore se inspuiting van R480 miljoen het die myn van ondergang gered. Dit was benewens die bankskuld wat Optimum reeds gehad het.

Brian Molefe kelder nuwe ooreenkoms

Glencore moes onderhandel, omdat hy besef het hy sou steenkool teen onder kosprys aan Eskom moes verskaf, as hy aan Eskom se eise sou voldoen.

Die partye het uiteindelik ’n ooreenkoms bereik, wat deur Eskom se tenderdireksie goedgekeur is.

Brian Molefe, wat toe as uitvoerende groepshoof van Eskom aangestel is, het die ooreenkoms ná die goedkeuring van die direksie egter van die hand gewys.

Ephron het getuig Glencore het aanhou probeer, maar “ons was voor ’n muur”.

Volgens ’n verklaring deur Ngoako Ramatlhodi, die destydse minister van minerale bronne, wou Molefe die Optimum-kontrak opskort, omdat Glencore Eskom glo R2 miljard in boetes geskuld het.

Eskom hou betalings terug

Oakbay Investments het tussen 2013 en 2015 die eerste koopaanbod van R2 miljard gemaak, maar Glencore was volgens Ephron so besig om sake met Eskom te herstel, dat hy nie juis ag daarop geslaan het nie.

Op ’n dag het Glencore ’n brief van Cliffe Dekker Hofmeyr ontvang dat Optimum-boetes van meer as R2 miljard aan Eskom betaal moes word.

Eskom het opgehou om Optimum vir sy steenkool te betaal en Optimum het later opgehou om steenkool aan die Hendrina-kragstasie te verskaf.

Optimum is in Augustus 2015 in sakeredding geplaas.

Op 22 September 2015 het oudpres. Jacob Zuma aangekondig dat hy Zwane as minister van minerale hulpbronne aanstel.

Voeg bates by, vra Eskom

Op ’n vergadering in November 2015 het Matshela Koko, voormalige Eskom-hoof, ’n ander deuntjie gesing en gesê Eskom sal nie die koop steun as dit nie al die bates van Optimum Beherend insluit nie.

Oakbay se aanbod vir Optimum, met al die bykomende bates, was R1 miljard. Ephron het egter dié aanbod op ’n vergadering met Ajay Gupta van die hand gewys.

Optimum gesluit

Ephron het getuig dat Optimum met kennisgewings bedien is omdat hy glo veiligheidsregulasies oortree het. Hoewel die “oortredings” ’n skag sonder ’n lisensie, en ’n mynoperateur wat nie ’n veiligheidsgordel gedra het nie, ingesluit het, is die oortredings as enorm beskou en is die myn summier gesluit.

“Daar is geen manier dat dié redes daartoe kon lei dat ’n hele myn nie meer bedryf kon word nie,” het Ephron getuig.

Ephron sê Glencore het dit as ’n waarskuwing vir die likwidasie gesien. Glencore het daaruit verstaan dat hulle die koopaanbod moet ondersteun, of Optimum word gelikwideer.

* Voorheen is getuig Eskom het die Guptas R600 miljoen voorgeskiet om die myn te koop. Die nasionale tesourie het bevind die voorskot was onwettig.

* Tegeta, die Optimum-steenkoolmyn, die Optimum-steenkoolterminus in Richardsbaai en verskeie ander maatskappye wat aan die Guptas behoort, is sedert Februarie 2018 in sakeredding. Op 20 Februarie 2019 is berig Optimum behoort binne ses weke weer steenkool aan Eskom se Hendrina-kragstasie te kan lewer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer