Só het Britse Leeus van 1974 byna stof gevreet

Een van die merkwaardige vertonings in die land se rugbygeskiedenis word vandag gedenk.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Internasionale rugbyspanne het nog altyd klippe gekou wanneer hulle toerwedstryde teen Suidwes-Afrika in Windhoek kom speel het – ’n tuisrekord wat in toetse ná onafhanklikwording in 1990 bly voortleef.

Selfs die onstuitbare Britse Leeus van 1974 was op hierdie dag (18 Mei) 46 jaar gelede bitter gelukkig om ’n vroeë wekroep te oorleef op pad na hul geskiedkundige segetog om die reeks van vier toetse teen die Springbokke met 3-0 te wen (die vierde toets op Ellispark was gelykop met 13-13).

Jan Ellis – teen daardie tyd allerweë gereken as die wêreld se beste flank – het as kaptein sy Suidwes-span gelei om uiteindelik ’n skitterende, spannende, omstrede stryd net met 23-16 teen die uitsoekkombinasie van Engeland, Wallis, Ierland en Skotland prys te gee. Rustyd was die Leeus met 10-9 voor.

Die botsing in Windhoek was wedstryd nommer twee van die Britte se allemintige 22 toerwedstryde, waarvan die toerspan uiteindelik 21 gewen het.

Die punteverskil van sewe sou tot einde Juniemaand die naaste wees wat die Leeus aan ’n pak slae gekom het, toe die Vrystaat in Bloemfontein in wedstryd 12 ook met 11-9 moes knak. Tussendeur het die Leeus toe reeds die Springbokke in die eerste twee toetse opgeneuk (12-3 in Kaapstad en 28-9 in Pretoria) en later in Port Elizabeth die reekssege met 26-9 ingevryf.

VOORBLADNUUS

Op die voorblad van die Maandag se Die Suidwester het wyle Des Erasmus geskryf: “Suidwes-Afrika het die naweek onverwags op ’n nuwe front deurgebars om homself as van die allergrootste belang vir die Republiek te bewys. Dié keer was dit op die gebied van Suid-Afrika se nasionale sport, rugby.

“Die veelgeroemde Britse Leeus het Saterdagmiddag in die Suidwes-stadion teen ’n magtige vertoning deur die Suidwesters aangesukkel na ’n omstrede oorwinning van 23-16.

“Twee aspekte van die wedstryd staan bo die eindtelling uit. Die eerste is die wyse waarop 13 000 toeskouers van alle rasse en kleure hulle hoegenaamd nie gesteur het aan internasionale stormpies wat deur die wedstryd ontketen is nie.

“Ten tweede het Suidwes klinkklaar aan Suid-Afrika bewys hoe hy [te midde van groeiende druk vir totale sportisolasie teen apartheid] sy internasionale aansien in die toetsreeks teen die Leeus kan behou.

“Op die speelveld self het Suidwes ’n reeks swakhede in die Leeu-mondering geopenbaar – ’n span wat op ’n paar spelers na die magtige All Blacks in 1971 op eie bodem geklop het.

“Die belangrikste hiervan is dat die Leeus in die lynstane kwesbaar is, nie daarvan hou om rugby in trurat te speel nie, swak skrumdrukkers is en maklik verplig kan word om hul patroon te laat vaar en volgens dié van hul opponente te speel.

“Die Leeus het die lynstane gewen, maar dit was swak besit, aangesien die bal aanhoudend geklap is. Dit het die beroemde Walliese skrumskakel en kaptein vir die dag, Gareth Edwards, agter die lynstane die prooi van Suidwes se losvoorspelers gemaak.

“Die Leeus was oorhoops met elke hoë skop wat die Suidwesters gegee het. Hul senters en vleuels was traag om die heelagter in sodanige gevalle te gaan help.”

In sy opsomming op die agterblad het Erasmus uitgewys dat die gevaarlike Gareth Edwards se drie van ’n vyfmeterskrum ná 28 minute eintlik geen drie moes gewees het nie en eerder ’n strafskop vir Suidwes, omdat die Wallieser oor die doellyn gekruip het waar die vleuel Wilem Prinsloo hom grond toe gebring het.

“Met beter stelskopwerk kon Suidwes selfs gewen het, maar ’n gelykoptelling van 19-19 sou baie nader aan reg volgens die verloop van die wedstryd gewees het.”

Volgens Erasmus was rotsvaste verdediging, ’n ongekende vasberadenheid, die meesterplan van dok Gerrit Pool (SWA-afrigter) en sy breinstrust asook harmonieuse spanwerk van die ander redes vir die “uiters koppige” Suidwes se goeie vertoning.

Die man wat die wedstryd dalk die beste opgesom het, was die Walliese linkervleuel JJ Williams, wat pas uit die kleedkamer net kop geskud en aan niemand in besonder nie gesê het: “Te hard, te hard. Ek het dit nooit verwag nie.”
Toe hy gevra is wat dan so hard was, het hy gesê: “Die laagvatte, die wedstryd en die veld.”

SPANPOGING SOOS MIN

Die individue in die SWA-span teen die Britse Leeus in Windhoek op 18 Mei 1974 het die volgende lofprysings van rugbyskrywers Des Erasmus en Cor Leijenaar in die Maandagkoerant ontlok:

15 Johan Smuts (United), 21 jaar oud en neutvars in provinsiale rugby, het ’n onvergeetlike laagvat op die voortsnellende vleuel JJ Williams uitgevoer.

14 Willem Prinsloo (Talpark). Die beste drie van die wedstryd, volgens die Leeus-spanbestuurder Alun Thomas, is deur dié sneltrein gedruk. Ná ’n skrum het hy vanaf ’n heelagterposisie in die agterlyn gespring, die bal van Germishuys gekry en op die Leeus se 10-meterlyn deurgebreek. Hy het Andy Irvine (heelagter van Skotland) met spoed geklop en in die hoek gaan druk.

13 Kobus Germishuys (Walvisbaai), ’n slimkop wat ’n groot hand in Willem Prinsloo se skitterdrie gehad het.

12 Bampie Meyer (United), die senter wat sedert Saterdag vir die Leeus “meneer laagvat” is.

11 Nick Smith (Walvisbaai), sommer “sement” soos die mense sê, het aan die Leeus gewys hoe hard en taai spelers van dié geweste nou eintlik is.

10 Deon Karg (United) het verdedig soos wat Suidwesters hom nie ken nie. Twee van sy strafdoele en ’n doelskop was oor en hy was bitter ongelukkig dat nog ’n skuins strafdoel van die regoppaal af teruggespat het.

9 Tobie van Zyl (United) was die ratse klein woelwater agter die skrum na wie almal agterna belangstellend uitgevra het. “Hy het baie moontlikhede en daar gaan in die toekoms nog baie van hom gehoor word,” het die Bokkeurder prof. Daan Swiegers gesê.

8 Hendrik Schrader (United): Van die Leeus wat die hardste geval het, het keer op keer vir Schrader bo-op hulle gekry.

7 Geoff Parker (Wanderers): Die kantman het vir Chris Ralston ongenadiglik gesmeer toe dit wou lyk of die groot Engeland-slot deur is.

6 Jan Ellis (kaptein, Wanderers): Die wêreld se beste voorspeler was op sy allerbeste as speler en leier. Sy gebruiklike drie het hy gedruk en vuur onder 14 ander Suidwesters ingeblaas toe almal verwag het die kole gaan as word. Vir sy drie het hyself met ’n hoë skop vir Irvine in besit laat betrap en só ’n aanvallende vyfmeterskrum afgedwing, wat effens geswaai het voor hy die bal opgeraap en oorgeduik het.

5 Tiny van Rensburg (Walvisbaai) het Suidwes laat saamgesels in die lynstane tot hy 20 minute voor die einde ’n skouer beseer het.

4 Japie Coetzee (Wanderers): Die man wat die Leeus ontsenu het met die inskoppe en afskoppe en in die vastelos gewoel het.

3 Hennie Coetzee (United) was op sy beste wanneer die pap in die vastelos wou oorkook.

2 Piet van der Merwe (Walvisbaai) was bedrywig en het Ken Kennedy van Ierland in die vaskopstryd met 2-1 geklop.

1 Bees de Jongh (Polisie), die knapsak in die voorry, het krag met krag beantwoord.

Die reserwes was Louis Kruger (haker, United), Mof Prinsloo (stut, Walvisbaai), Percy Montgomery (skrumskakel, Walvisbaai) en John Blaauw (vleuel, Wanderers).

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!