Só kan Poetin van aggressie weerhou word
Leopold Scholtz
Op bl. 132 van die vermaarde Amerikaanse joernalis Bob Woodward se nuutste boek, Fear: Trump in the White House, is ’n terloopse paragraaf wat egter van ingrypende betekenis vir die internasionale politiek is.
Dit handel oor die Amerikaanse minister van verdediging, James Mattis, en lui: “Russia had privately warned Mattis that if there was a war in the Baltics, Russia would not hesitate to use tactical nuclear weapons against NATO. Mattis . . . began saying that Russia was an existential threat to the United States.”
Dis eintlik verbasend dat ’n deurwinterde joernalis soos Woodward niks verder oor die saak skryf nie. Dis moontlik omdat dit nie sy eintlike fokus – die skrikwekkende chaos wat pres. Donald Trump om homself geskep het – is nie.
Hoe ook al, dis moeilik om Woodward nie op sy woord te glo nie. Woodward, een van die twee joernaliste wat pres. Richard Nixon in die Watergate-skandaal tot ’n val gebring het, het ’n reputasie van pynlike noukeurigheid. Hy het verskeie ander boeke oor vorige presidente geskryf, wat almal goed ontvang is.
Dié terloopse opmerking wys ewenwel hoe na die wêreld die laaste jare aan ’n katastrofe gekom het. Ná die einde van die Koue Oorlog was die algemene optimistiese mening dat die bedreiging van ’n allesvernietigende kernoorlog tot die verlede behoort, maar Woodward wys dat dit weer terug is.
Dit bevestig vroeëre berigte oor die Russiese besetting van die Krim in 2014. Toe het ingeligte joernaliste onthul dat pres. Wladimir Poetin sy kernwapens in alle openheid (sodat die Amerikaanse satelliete dit kon sien) in ’n staat van paraatheid gebring het.
BOODSKAP ONMISKENBAAR
Die boodskap destyds was onmiskenbaar: Amerika, moenie eers daaraan dínk om jul afkeurende woorde met dade op te volg nie. Ons gaan vir julle hárd slaan.
En inderdaad, sowel Amerika as Navo het geraas en harde geluide laat hoor, maar niks gedóén nie. Hulle kón nie.
Poetin is ’n meesterlike taktikus. In die Krim, die Oekraïne en in Sirië het hy gewys dat as hy êrens ’n gaping gewaar, vát hy hom. As hy geen gaping gewaar nie, soek hy nie moeilikheid wat kon gebly het nie.
In die geval waaroor Woodward skryf, was Poetin se boodskap duidelik: As ek besluit om die drie Baltiese state (Estland, Letland en Litaue) te vat, moenie my probeer keer nie, want dan is daar gróót moeilikheid.
Die vraag is hoe om daarop te reageer, en met ’n taktikus soos Poetin is die antwoord in teorie eenvoudig: Moenie ’n gaping skep nie.
Die drie Baltiese state, synde lidlande van Navo, val almal onder die beskerming van art. 5 van die Navo-Handves – ’n aanval op een is ’n aanval op almal.
Dít is die enigste doeltreffende manier om Poetin van verdere aggressie te weerhou. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie