‘Só kan Proteas vir die WB oefen’

Krieket
Tinus van Staden

Uitdagende lopie-jaagtogte en teikens van meer as 300 is weliswaar nie goed vir Protea-ondersteuners se bloeddruk nie, maar volgens Reeza Hendricks is dit die perfekte voorbereiding vir die Wêreldbeker-kriekettoernooi.

Hendricks en Faf du Plessis se berekende vennootskap van 108* Vrydag in die derde eendagwedstryd teen Pakistan in Centurion, het Suid-Afrika tot ’n sege met 13 lopies volgens die Duckworth/Lewis-formule gevoer.

Hendricks (83*) en Du Plessis (40*) het die Proteas se telling tot 187/2 in 33 boulbeurte gevoer voordat die reën spel vir die tweede en laaste keer onderbreek het. Pakistan het 317 aangeteken.

In die tweede eendagwedstryd het Suid-Afrika ’n klein teiken van 204 gejaag, maar ook dié jaagtog was ’n potensiële piesangskil, aangesien die blad moeilik was en Suid-Afrika vyf vroeë-paaltjies verloor het.

“Dit is goed dat dit gebeur, want ons kan onsself uitdaag voor die Wêreldbeker-toernooi,” sê Hendricks oor die taai wedstryde tot dusver in dié reeks.

“Ons kan onsself toets in dié wedstryde deur groot tellings te jaag.

“By die Wêreldbeker-toernooi sal ons dan weet ons het die ervaring om sulke tellings suksesvol te jaag en dat ons al in sulke situasies was.”

Hendricks het sy aanspraak op ’n Wêreldbeker-plek versterk met sy beurt, maar daar is groot mededinging vir kolfplekke in die Wêreldbeker-groep.

Rassie van der Dussen het twee vyftigtalle in sy eerste twee eendagwedstryde vir die Proteas aangeteken, terwyl Aiden Markram ook nog in die wedloop is.

Hendricks dink egter nie te ver vooruit nie.

“Hierdie reeks is net nog ’n geleentheid om ’n bydrae tot die span te maak.

Ek het nou ’n paar wedstryde op my kerfstok. In die eerste paar wedstryde moes ek nog aan die spoed van internasionale krieket gewoond raak.

“Ek dink ook die mededinging is baie gesond. Dit is goed om te weet daar is ouens soos Aiden wat aan die deur klop,” sê hy.

Tog voel hy dat hy ná 12 eendagwedstryde sy voete begin vind.

“Ek het nou ’n paar wedstryde op my kerfstok. In die eerste paar wedstryde moes ek nog aan die spoed van internasionale krieket gewoond raak.”

Hendricks sê die Proteas het Vrydagaand hul oog die heeltyd op die vereiste Duckworth/Lewis-telling gehou en probeer om ná die eerste reënonderbreking die heeltyd voor dié vereiste teiken te bly.

Toe die reën die eerste keer val, was Suid-Afrika agter die vereiste telling. Ná die onderbreking, het Hendricks en Du Plessis 99 lopies in 16.1 boulbeurte opgestapel.

Hendricks het Du Plessis ook geloof vir sy senuwees van staal.

Dié kolwer het die vyf vangkanse wat Suid-Afrika in die veld verbrou het, bloot aan ’n “afdag” toegeskryf.

“Ons werk baie hard aan ons veldwerk. Justin Ontong (veldwerkafrigter) help ons baie in daardie verband.

“Vandag was net een van daardie dae.”

Die Proteas kry vandag die geleentheid om hul onoorwonne rekord in die jaarlikse Pienkdag-wedstryd op die Wanderers voort te sit.

Sedert die eerste pienk-eendagwedstryd in 2011 gespeel is, het Suid-Afrika nog nie een van die sewe pienk-wedstryde verloor nie.

As Hendricks weer speelkans kry, sal dit sy eerste pienk-wedstryd wees.

“Ek is baie opgewonde om in die Pienkdag-wedstryd te speel. Die reeks is op die spel as ons die wedstryd kan wen, so daar is baie om voor te speel,” sê hy. Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!