Su00f3 kan virus SA ekonomie verder knou
Su00f3 kan virus SA ekonomie verder knou

Só kan virus SA ekonomie verder knou

Hanlie Stadler



Suid-Afrika kan in 2020 tot R200 miljoen se besteding deur Chinese toeriste kwyt wees, 'n agterstand kan in die plaaslike produksie van motors ontstaan, selfone en ander tegnologie kan skaarser raak, en selfs Swart Vrydag en Kersfees 2020 se verkope kan geknou word.

Dis maar enkele van die uitwerkings van covid-19 op Suid-Afrika se ekonomie wat Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC Strategy&, en dr. Christie Viljoen, ekonoom, uitlig in 'n verslag daaroor wat onlangs gepubliseer is.

Die sekondêre invloede van covid-19 – soos die skerp verswakking van die rand en die vryval in aandeelpryse – gaan verbruikers óók raak. Dit sal ingevoerde produkte duurder maak en die opbrengs op spaargeld, ook vir aftrede, knou.

Toby Hudson, die batebestuurs­firma Schroders se hoof oor ­Asiatiese aandele, sê nog 'n belangrike faktor wat nie buite rekening gelaat moet word nie, is die invloed wat covid-19 wêreldwyd op verbruikers en maatskappye se vertroue het.

Dit kan besteding en beleggings ­negatief raak. Suid-Afrika se sake- en verbruikersvertroue is reeds op van die laagste vlakke tot nog toe.

Dawie Roodt, ekonoom van Efficient Group, sê 'n derde ronde gevolge op die plaaslike ekonomie sal volg indien die virus in Suid-Afrika ontdek word.

In die lig van Covid-19 voorspel die meeste ekonome nou dat die resessie vir 'n derde kwartaal gaan voortsleep. Dit beteken 'n kwartaallikse inkrimping word ook in die eerste kwartaal van 2020 voorspel.

Suid-Afrika se ekonomie is verstrengel met dié van China, sy grootste handelsvennoot, en daar is kwalik 'n bedryf wat nié geraak word deur die ontwrigting in produksie in China nie.

In 2018 het Suid-Afrika R16,3 miljard se produkte vanuit China uitgevoer, 18,5% van alle invoer, en R9,6 miljard se goedere uitgevoer, 10,7% van die totale uitvoer.

Die Internasionale Monetêre Fonds het onlangs bereken die virus gaan Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) minstens 0,2 van 'n persentasiepunt traer laat groei weens die uitwerking daarvan op China.

Dis indien die Chinese ekonomie in 2020 teen 5% groei pleks van teen 6%, soos in die ergste moontlike situasie voorspel word.

Só 'n situasie kan 2020-groei in Suid-Afrika tot tussen 0,3% en 1% afdruk, na gelang van verskillende instellings se voorspellings vóórdat die invloed van covid-19 verreken is.

Dié lamlendige groei sal volg op 2019 se groei van slegs 0,2%, die traagste sedert 2009, toe die ekonomie in die nadraai van die wêreldwye ­finansiële krisis met 1,5% ingekrimp het.

Dié jaar was Suid-Afrika ook in 'n ­resessie, waarin hy in die vierde kwartaal van 2019 verval het.

Daarna kan verbruikers se hoër ­besteding danksy belastingverligting wat pas deur Tito Mboweni, ­minister van finansies, aangekondig is, die ­ekonomie 'n hupstoot gee.

Krugel sê dit word reeds duidelik hoe Chinese vervaardiging geknou word deur die virus. Die statistiekeburo se aankoopbestuudersindeks (PMI) het in Februarie tot 'n rekord­laagtepunt van 35,7 punte getuimel – vanaf 50 punte. Die indeks meet die ­prestasie van meestal grootskaalse, staats­beheerde vervaardigers.

Nog 'n PMI, van Caixin, meet private nywerhede en het van 51,1 punte tot 40,3 geval – die laagste sedert die peiling in 2004 gedoen word.

Nicky Weimar, Johannes Khoza en Candice Reddy van Nedbank se ­ekonomiese eenheid sê in 'n verslag oor die BBP-syfers mynbou en vervaardiging sal die swaarste getref word deur die virus.



Hoekom China saak maak

Azad Zangana, ekonoom van ­Schroders, sê China se rol in die wêreld­ekonomie het dramaties ­verander sedert die vorige groot ­pandemie, die ernstige akute respira­toriese sindroom (Ears) van 2014. In daardie stadium het China 4,2% van die wêreld se ekonomie vereenwoordig en 18% van die wêreld se BBP-groei bygedra. Teen 2018 het dit tot onder­skeidelik 15,8% en 35% gestyg.

China verteenwoordig ook 28,4% van wêreldwye vervaardiging, teenoor 16,6% vir die VSA.



Wanneer herstel handel?

Groot onsekerheid heers oor die mate waarin produksie ná die Chinese ­Nuwejaar op 25 Januarie – wanneer die meeste Chinese na hul geboorteplekke terugkeer – hervat is.

Schroders sê migrasiedata van die firma Baidu dui daarop dat 'n groot persentasie werkers nog nie terug is in produksiesentra nie.

Agterstande by Chinese hawens is aan die toeneem en die plaaslike wynbedryf het reeds kommer uit­gespreek oor die invloed daarvan op hul verkope.



Waar virus die hardste slaan

Onder die bedrywe wat die ergste geraak word, is:

• Mynbou: Die vraag na Suid-Afrika se grootste uitvoerproduk na China – dinge soos ystererts en steenkool – sal daal, onder meer omdat staalvervaardiging in China geknou word.

• Tegnologie: 85% van selfone wat in Suid-Afrika verkoop word, word in China vervaardig, volgens Krugel en Viljoen. Apple, Samsung en Microsoft het reeds gewaarsku hulle verwag 'n voorraadkrisis.

• Motorvervaardigers: 'n Tekort aan onderdele kan plaaslike produksie kniehalter.

• Toerisme en gasvryheid: Krugel en Viljoen raam dat R200 miljoen se besteding deur Chinese toerisme gaan opdroog. Suid-Afrika het in 2018 nagenoeg 97 000 Chinese besoekers ontvang, die sewende grootste bron van buitelandse besoekers; die ekonome reken dit gaan vanjaar 15% minder wees. Die gemiddelde toeris bestee R11 500 per besoek. Die Chinese regering het alle reis uit die land uit verbied.

• Kleinhandel: Shoprite, Woolworths en Massmart het reeds aangedui dat alles van winterklere tot verwarmers op hul rakke geraak gaan word deur die virus. Bestellings van miljoene rande is gekanselleer; alternatiewe vervaardigers kan die produkte nie betyds vir winteraankope lewer nie.

• Private hospitale: Krugel en Viljoen sê baie Chinese kom deesdae Suid-Afrika toe vir mediese behande­ling.

• Konstruksie: Groot vertragings word beleef in produkte soos metale wat in Asië gekoop word.

• Landbou: Die grootste krisis blyk te wees oponthoude by Chinese hawens weens die afwesigheid van honderde werkers. Talle mense in die wynbedryf het onlangs aan Wineland.co.za gesê dis 'n logistieke nagmerrie en die wyn bereik nie hul uiteindelike bestemmings nie. 'n Groot deel van Suid-Afrika se landbou-insette, insluitend chemikalieë, word ingevoer en verskaffers waarsku 'n bykomende lewertyd van 50 tot 60 dae vir invoer uit China moet in berekening gebring word, berig Rapport.

• Visserye: Reuters berig China se verbod op die invoer van seekos einde Januarie beteken uitvoerkreef van R340/kg moet nou plaaslik verkoop word teen sowat R120/kg.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!