Su00f3 klop Piet Gouws se hart
Su00f3 klop Piet Gouws se hart

Só klop Piet Gouws se hart

Die man wat die leisels van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) by Mecki Schneider oorgeneem het, het met Die Boer oor sy ideale gesels.
Elvira Hattingh
Wie is Piet Gouws? Waar boer jy, hoe lank is jy al daar op die plaas?

Ek is soms bang dat my liefde vir my land aan afgodediens kan grens. So ook my passie vir boerdery en georganiseerde landbou. My laerskoolloopbaan het ek by tannie Annie Zwiebel in destydse Emma Hoogenhoutskool oorkant Windhoek Hoërskool (WHS) begin. Dit was ook by WHS waar ek my skoolloopbaan voltooi het.

Ná my studies in BSc.(Agric) met veekunde en weidingsleer aan Kovsies, begin ek as landbouvoorligter by die destydse eerstevlak-regering onder Nico de Klerk en Lutz Matthiesen werk. Ek het toe ook deeltyds my honneurs in dierevoeding gedoen. Later het ek vir die Bonadei-groep hul byna 92 000 ha beesgronde bestuur voordat ek plaas toe is.

Ek is getroud met Mariana, wat ek destyds op die Kovsie-kampus ontmoet het. Sy is ’n nooi Van Niekerk wat op besproeiingsgronde by Hartsvallei, meer spesifiek Tadcaster, grootgeword het. Die harde, warm en dorre noordweste waar ons boer, was ’n ontsaglike aanpassing vir haar, maar sy is ’n wonderlike tuisteskepper en het werklik ’n utopiese tuiste vir ons gesin geskep hier op Nimmerrus waar ons die afgelope 26 jaar boer.

Ons is geseënd met twee pragtige, hardwerkende kinders. Pieter, ons oudste, en sy vrou Marnarie, het ook nou die geloofstap geneem en hul gewig by die boerdery kom ingooi. Ons is die trotse oupa en ouma van ‘n pragtige kleindogter, Eldene. Pieter is ook verteenwoordiger vir Cipla-veemedisyne en die feit dat hulle plaas toe kom, maak 1+1 nie 2 nie, maar 4!

Kara, ons dogter, is ’n mediese verteenwoordiger in Windhoek en tree Januarie in die huwelik. Beide ons kinders het ook aan Kovsies honneursgrade behaal. Pieter in landbou-ekonomie en Kara in remediërende onderwys.

Wat is jou boerdery-filosofie?

Ons is ontsettend bevoorreg om in hierdie dankbare land te mag omgaan met die Skepping en die grond van ons nageslag te mag benut. Daarom het ons die verantwoordelikheid om dit wat aan ons toevertrou is, te verbeter, infrastruktuur te ontwikkel, produksiepotensiaal te ontsluit en deur dit alles, die grond in ’n beter toestand oor te dra aan ons opvolgers.

Ek jaag nie geld nie. Boerdery is weliswaar ’n besigheid, maar die winsgewendheid is baie laag. Indien dié kwaliteit leefwyse nie vir jou is nie en as die hele gesin nie betrokke is en dit begryp nie, moet jy liewer nie boer nie.

Die “wittebrood” van boerdery en die romanse van “plaas” het deur al die jare se lief en leed, swaar en lekker, nog nooit vir my opgehou nie.

Hoe lank dien jy al in die strukture van georganiseerde landbou?

Soos dit mos maar gaan, word die “nuwelinge” te vining in boerevereniging-besture opgeneem.

Ek was op Excelsior BV se bestuur sedert 1992 en as voorsitter sedert 1994 tot ek in 2005 die streekverteenwoordiger vir Outjo op die NLU se uitvoerende raad en LPO geword het. Mens kan maar sê ek is my hele boerderytermyn al by georganiseerde landbou betrokke.

Wat sien jy as die grootste uitdaging vir jou termyn as voorsitter van die LPO?

Ek glo dat die regering werklik die beste vir Namibië en sy burgers wil doen, maar daar is ’n enorme verskil in hoe kommersiële landbou deur die bril van die amptenary in die ministerie van landbou, water en bosbou gesien word en hoe die bestaande kommersiële sektor dit sien.

Ons het die verantwoordelikheid om hierdie amptenare te oortuig dat dit wat ons in belang van kommersiële landbou doen, geskied in belang van die totale landboubedryf en al die produsente.

Landbou gaan tans deur ’n intense droogte en gepaard daarmee is pryse en markte onder druk en produsente is swaar belas. Georganiseerde landbou het ’n funksie te vervul deur produsente weer ’n toekomsvisie in die bedryf te gee.

Die winsgewendheid van veral beesboerdery is erg onder druk. Hoe lyk die pad vorentoe?

Moeilike vraag. Regeringsbeleide het natuurlik n groot impak op produksie en winsgewendheid, maar ek is bekommerd dat ons produsente te veel fokus op dit wat ons beperk en in die proses talle geleenthede miskyk.

Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir dit waaroor ons beheer het en dit so goed en doeltreffend as moontlik doen.

Ek dink daar is nog ruimte vir verbetering by onder meer rekordhouding, kuddebestuur en -gesondheid, weidingsbestuur en ontbossing, roofdierbekamping en arbeidsbestuur.

Dit is makliker gesê as gedaan met swak reënval, grondgebruiksveranderinge, arbeidswetgewing ensovoorts, maar ek is oortuig dat beter doeltreffendheid hier sal bydra tot verhoogde inkomste.

Verder sal ons produsente bemagtig moet word en vertroud raak met moderne tegnologie en hulpmiddels soos Agristat, om beter te meet en te evalueer.

Buite die plaashekke dink ek produsente moet aandag skenk aan vennootskapsboerderye ten einde die ekonomie van skaal te kan benut.

Die vleisbedryf is dinamies en ons produsente moet innoverend dink ten opsigte van nuwe markte en markgeleenthede.

Klimaatkundiges skets ’n donker prentjie vir Namibië met betrekking tot hoër temperature en groter wisselvalligheid in die reënval. Watter aanpassings moet veeprodusente maak?

Ek wens ek kon soos Donald Trump sê dit is ’n foefie en in Namibië is dit nogal soms moeilik om nie met hom saam te stem nie. Ons ken hierdie land van ons as een met meer droogtes en swaarkry as voorspoedsjare, maar ons kan nie naïef wees en dit ontken nie.

In hierdie tydstip sal dit gevaarlik wees om te sê wat ons moet doen aangesien daar nog nie ’n vaste neiging is van waarheen klimaatverandering beweeg nie.

Weiveldverbetering is waarskynlik die eerste stap om ons teen klimaatsverandering te buffer.

Wat is jou Kersboodskap aan die land se produsente?

Ek sê altyd vir die jong boere wat nou hul eerste droogte beleef dat

in die ellendige droogtejare van die vroeë 90’s het ek ’n grootvee-lening gehad, speenkalfpryse het oornag geval van N$7,00 per kilogram tot N$3,50 en rentekoerse het gestyg tot 27%.

Ons het daardeur gekom met vasbyt en deursettingsvermoë en besparing. Ons sal altyd swaar tye beleef in hierdie wonderlike land, maar die goeie tye maak dubbel en dwars daarvoor op. Ons weet mos ons stap nie die pad alleen nie, maar ons het ’n liefdevolle Versorger en Saligmaker wat weet wat ons nodig het en wat goed is vir ons.

As ons hierdie Kerstyd saam met ons familie en geliefdes kuier en God se liefde en seën ervaar, al het dit dalk nog nie gereën nie, moet ons kyk hoe ons in 2017 deel kan wees van sy plan. En dit is om Namibië die vooruitstrewende land te maak wat Hy die potensiaal voor gegee het.

Kom ons raak aktief betrokke in ons gemeenskap en georganiseerde landbou en maak onsself onmisbaar omdat ons deel is en nie buite staan en kritiseer nie.

Kom ons vier die lewe in dankbaarheid omdat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy enigste seun gestuur het om te sterf sodat ons die lewe in oorvloed kan hê. As ons in sy wil lewe, kan ons Namibië die glimlag op die gesig van Afrika maak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer