Su00f3 lyk die robot wat waarskynlik jou werk gaan vat
Su00f3 lyk die robot wat waarskynlik jou werk gaan vat

Só lyk die robot wat waarskynlik jou werk gaan vat

William Horne – Ons wag dalk steeds op vlieënde motors, maar die toekoms van robotte wat dikwels net in wetenskapsfiksieflieks uitgebeeld is, is hier, en dis gelyktydig wonderbaarlik en angswekkend.

Ondernemings kan nou outonome robotte aanskaf wat nie vasgeskroef is in ’n fabriek nie, maar wat eerder kan rondloop en take verrig met die behendigheid van ’n volslae biologiese lasdier.

Hy is geel, gemaak van metaal en sy naam is Spot.

Boston Dynamics, een van die wêreld se voorste vervaardigers van robotte, het ná byna drie dekades sy eerste futuristiese produk beskikbaar gestel vir Jan Publiek.

Spot is die eerste algeheel outonome robot van die wêreld se voorste vervaardiger van mobiele robotte, Boston Dynamics, om op kommersiële skaal aan die wêreld beskikbaar gestel te word vir gebruik in talle verskillende ondernemings en omgewings.

Die maatskappy het tot dusver net robotte vir die geheimsinnige Amerikaanse Defence Advanced Research Projects Agency (Darpa) ontwerp en verskaf. Nou kan ek en jy ons eie Spot aanskaf, soort van.

Dié robot, wat aan ’n hond herinner, is egter nie juis bedoel vir die man op straat nie; dit dien eerder as ’n eerste weergawe van ’n nuwe tipe produk wat ondernemings kan benut om take te verrig.

Maar moenie Spot onderskat nie. Selfs net sy komiese houding terwyl hy stap, is die hoogtepunt van dekades se ontwikkeling om robotte mobiel te maak; om nie eens te praat van outonoom nie.

Spot dien hoofsaaklik as ’n platform vir ontwikkeling. Hy is modulêr ontwerp in sowel sy hardeware as programmatuur sodat hy aangepas kan word soos ondernemings se behoeftes aanpas en daar nuwe take vir hom uitgedink word.

Boston Dynamics beskou Spot as die ideale werker in die konstruksie-, veiligheid- en olie- en gasbedryf.

Toerusting soos kameras, LiDAR (’n soort radar), arms en sensors kan op sy rug gemonteer word om gespesialiseerde take te verrig. Spot kan selfs deure oopmaak, vir homself of sy maats.

Want, ja, Spot ken die konsep van spanwerk. ’n Groep van dié “robothonde” kan saam ’n taak verrig en selfs mekaar se batterye omruil as dit uitgeput is.

Spot kan byvoorbeeld toesig hou oor ’n afgeleë windplaas of kragaanleg en basiese onderhoud uitvoer sodat werknemers nie ver afstande hoef af te lê vir eenvoudige take nie.

In noodgevalle kan Spot ook na gevaarlike gebiede gaan om data in te samel voordat mense ingestuur word. Die robot kan moontlik selfs sy arms gebruik om beseerde mense te red.

Volgens Boston Dynamics is die mikpunt egter dat ondernemings self bepaal hoe en waar hulle Spot wil benut deur sy programmatuur soos nodig aan te pas. Dié aanpassing tot die programmatuur is ook blykbaar so maklik soos om ’n app vir ’n webwerf te kodeer.

Die BBC berig Spot kan tans teen die prys van ’n klein motor gehuur word.

Die verwagting is dat die prys van Spot sal verlaag soos wat die tegnologie ontwikkel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!