Su00f3 lyk eerste buffel uit u2019n proefbuis
Su00f3 lyk eerste buffel uit u2019n proefbuis

Só lyk eerste buffel uit ’n proefbuis

Die wêreld se eerste proefbuisbuffel is op ’n plaas in Limpopo gebore. Pumelelo, wat in Zoeloe “sukses” beteken, is onlangs die eerste keer aan die media gewys op Frans Stapelberg se plaas, Lekkerleef, naby Marble Hall.
Ronelle Rademeyer
Seugnet van Zyl

Dr. Morné de la Rey, ’n veearts en eienaar van die Embrio Plus-sentrum vir kunsmatige inseminasie op Brits in Noordwes, het saam met ’n span geassisteerde reproduktiewe tegnologie (GRT) gebruik om die kalfie voort te bring.

De la Rey sê dié tegnieke sal in die toekoms gebruik kan word om bedreigde wildspesies van uitwissing te red.

“Hoewel die gebruik van GRT in wildbestuur nog in sy kinderskoene is, word dit al hoe meer deel van die werklikheid. Dié sukses is besonder belangrik vir die teel van bedreigde spesies in die toekoms, en dít is waarom ons die werk aanpak.”

Die tegniek is soortgelyk aan in vitro­-bevrugting.

“Omvattende navorsing moes eers gedoen word oor hoe om die eierselle te laat ryp word en te bevrug, en hoe om die embrio’s tot ’n gevorderde ontwikkelingstadium te inkubeer omdat elke spesie se vereistes vir groei verskil en elke spesie verskillende voedingstowwe gedurende die laboratoriumfase benodig.”

Só werk dit

Die oösiete (eierselle) van ’n buffelkoei is geoes terwyl die buffelkoei onder narkose was.

Die eierselle is ryp gemaak en in vitro bevrug met bevrore buffelsemen.

Die semen is ontdooi en toe in ’n laboratorium-inkubator laat groei.

Ná ’n groeiproses van sewe dae is die embrio in Suri, ’n surrogaatbuffelkoei, geplaas. Sy het die fetus die volle termyn van 11 maande gedra.

Sy het op 28 Junie gekalf, en dit was ’n gesonde buffelbulletjie.

DNS-monsters wat van Pumelelo geneem is, het bevestig dat Vasti en Goliat, onderskeidelik die koei en bul wat in die proses gebruik is, wel sy ouers is.

Die buffels wat vir die prosedure gebruik is, is deel van ’n trop wat reeds meer as 17 jaar op die Stapelberg-plaas is. Hulle is gebruik omdat hulle al gekondisioneer is om veeartsenykundige roetineprosedures toe te laat sonder dat narkose daarvoor nodig is.

De la Rey se werk word beskou as die eerste tree in ’n internasionale gesamentlike poging om bedreigde wild­spesies soos die noordelike witrenoster te red.

In die wêreld is net drie noordelike witrenosters oor. Dit is ’n renosterbul genaamd Sudan en sy twee koeie, Najin en Fatu, in die Ol Pejeta-bewaringsgebied in Kenia.

Die laaste noordelike witrenoster in Amerika het verlede jaar in die San Diego Zoo-wildpark gevrek.

“Die eerste stappe wat vir wildbewaring gedoen moet word, sal altyd habitatsbeskerming wees, gevolg deur die beskerming van die diere self.

Benewens die basiese stappe is daar egter ’n behoefte aan verbeterde teelpraktyke om te verseker dat die getalle van bedreigde spesies vermeerder.”

De la Rey het wêreldwyd erkenning verwerf vir sy betrokkenheid by die kloning van die eerste dier in Afrika, ’n holstein-verskalf genaamd Futhi, wat in April 2003 gebore is.

Geen semen of bul was by die proses betrokke nie. Futhi het ontwikkel uit ’n enkele sel wat deur ’n biopsie uit die oor van ’n skenkerkoei geneem is.

Die sel is daarna in ’n leë koei-eiersel geplaas, en dít is later in ’n ontvangerkoei geplant.

-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!