Só maak, benut Krumhuk biochar

Voigts voer biochar vir haar vee en gebruik dit in die groentetuin.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Biochar-produksie is een van die “seëninge” wat Namibië se verbossingsprobleem kan bring omdat dit as ‘n waardeketting groot belofte vir die land inhou.

Só sê mnr. Progress Kashandula, uitvoerende hoof van die Namibia Biomass Industry Group (N-Big). Hy het joernaliste onlangs tydens 'n inligtingsdag op die plaas Krumhuk van me. Mareike Voigts, toegespreek.

Tydens die geleentheid is gewys hoe biochar gemaak word, in die grond ingewerk kan word vir die produksie van groente en deur vee benut kan word.

“Die oormatige vorming van ‘n ‘kombers van bosse,’ wat die grootste dele van ons landbougrond oorgeneem het, skep geleenthede wat volhoubaar getakel kán word,” het Kashandula gesê.

“In die eerste plek kan biochar bydra tot die verbetering van grond – veral as dit kom by grond se vermoë om water te hou.

“Tweedens kan dit bydra tot die gesondheid van diere se verteringstelsels en derdens kan dit help met die versagting van die impak van klimaatsverandering.”

SO WERK DIT

Dr. Ibo Zimmermann van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST) het tydens ‘n praktiese demonstrasie aan joernaliste gewys hoe biochar produseer word.

“Biochar word in die sogenaamde Kon-Tiki kiln gemaak, wat tregtervormig ontwerp is om goeie gehalte biochar te lewer,” het Zimmermann verduidelik.

“Dit brand teen ‘n hoër temperatuur as die houtskool wat op die meeste plase in tradisonele kilns produseer word,” het hy gesê en bygevoeg dat die pirolise-olie, wat in houtskool voorkom en die porieë blokkeer, meestal wegbrand in die veel warmer Kon-Tiki kiln.

“Later, wanneer die biochar met water geblus word, blaas die stoom die oorblewende pirolise-olies weg.”

Zimmermann sê die bykans tregtervormige Kon-Tiki kiln, waarop besluit is ná vele proewe en toetslopies met verskillende kiln-vorms, is die een wat die beste lugvloei toelaat. Dit is genoem na die Kon-Tiki-eilande in die Stille Oseaan.

“Die lug kolk in die rondte van onder in die kiln tot bo en help om die olies uit die hout te verwyder. Die olie brand weg bo in die kiln. Dit beteken die Kon-Tiki kiln veroorsaak veel minder rook as die tradisionele houtskool kilns,” het hy gesê.

Hy het gewys dat daar aanvanklik net ‘n bietjie hout in die Kon-Tiki kiln gegooi word en sodra die eerste as daarop verskyn, word méér hout bygevoeg. “Gewoonlik, as dit behoorlik gedoen word, sal ‘n groot Kon-Tiki kiln ná sowat ses ure tot bo vol wees.”

Hy het toe water in die kiln ingetap om die biochar te blus.

“Dié water kan afgetap word en as ‘n tonikum vir plante aangewend word, of in gevalle waar water skaars is, weer hergebruik word om die biochar te blus.”

Hy sê die afgetapte water is ‘n waardevolle produk en is meestal te sterk om net so op plante te gebruik. Dit word in 'n verhouding van 1:10 met water verdun. Hy sê as die water meer as een keer gebruik word om die biochar te blus, moet dit nog meer verdun word voor dit op plante gebruik kan word.

Nadat die biochar met water geblus is, word dit toegelaat om vir ‘n paar ure tot ‘n dag te lê sodat dit kan uitdroog. Dan word dit fyngemaal, met ‘n meul of deur ander meer tradisionele metodes.

PLANTE

Krumhuk se eienaar, me. Mareike Voigts, sê indien die fyngemaalde biochar sonder enige ander byvoegings in die grond geplaas word, sal dit waarskynlik oeste in die eerste jaar verminder.

“Die rede is dat dit voedingstowwe uit die grond kan onttrek.”

Sy het gewys dat hulle op Krumhuk onder meer beesmis, ‘n tipe planttee waarin mikrobe groei asook kompostee met die biochar meng, voor dit in die grond ingewerk word. Daar word ook genoeg water by die mengsel gevoeg, want biochar neem ook baie water op.

“Ons meng dus die biochar met voedingstowwe, mikrobes en vog. Dan laat ons dit eers vir ‘n paar ure rus, sodat die biochar dit alles in sy porieë kan opneem.

“Dit is baie belangrik dat die biochar nie ‘droog’ in die grond ingewerk word nie, anders sal dit baie vog uit die grond onttrek,” het Voigts verduidelik.

As dit by haar eie organiese groentetuin kom, werk Voigts tien ton van die biocharmengsel per hektaar in die grond in. Kenners stel voor dat tot 40 ton per ha gebruik kan word. “Die biochar bly vir dekades lank in die grond teenwoordig, terwyl dit help om voedingstowwe en water beter ‘vas te hou’ – tot voordeel van die plante,” sê sy.

Voigts voer ook skoon biochar vir haar hoenders wat dit nie dadelik gulsig opvreet nie, maar tog ‘n groot bak oornag leeg vreet.

Zimmermann sê as biochar aan vee gevoer word, kry jy toegevoegde waarde. “Die vee skei dit in hul mis uit en dit word op dié manier tot voordeel van die grond in die veld versprei, of daar waar die diere loop.”

Sy het verduidelik dat Krumhuk ‘n ten volle organiese plaas is waar geen chemikalieë gebruik word nie en waar onder meer organiese groente, suiwelprodukte en vleis geproduseer word. Hulle bak ook brode en maak quiches. Dit word by die Biomarkt in Windhoek, asook die aanlyn winkel Organic Box en in sommige restaurante in Windhoek verkoop.

“Krumhuk se leuse is ‘in harmonie met die natuur’,” het sy gesê.

KASSIE

In ‘n handleiding genaamd "Biochar from Namibian encroacher bush" wat onlangs deur die Bush Control and Biomass Utilisation Project vrygestel is, word verduidelik dat biochar ‘n swart koolstof is, soortgelyk maar ook verskillend van houtskool.

Volgens die handleiding is boere en landbouers oraloor die wêreld daarin geinteresseerd vanweë biochar se weerstand teen bevogtiging en mineralisering, sy poreuse tekstuur asook sy absorberingsvermoë.

Dit beskik oor die vermoë om gasse, vloeistowwe en opgeloste soliede materiaal tydelik aan sy oppervlakte te laat vasklou, terwyl dit ook stowwe soos ‘n spons kan opsuig.

Biochar kan in grond ingewerk word, wat die fisieke, chemiese en biologiese eienskappe daarvan positief beïnvloed en so die produktiwiteit daarvan verbeter.

“Biochar kan sy volle potensiaal bereik in Namibiese toestande – wat insluit dat grond arm is aan voedingstowwe en reën skaars is.

“Grond wat met biochar behandel word om die organiese koolstof daarvan te verhoog, is meer bestand teen weeruiterstes soos droogtes en vloede en kan ook meer water hou en vir beter landbouproduksie sorg,” verduidelik die handleiding.

Die byvoeging van biochar in veevoer is ‘n nuwe verwikkeling, maar daar is reeds bewyse dat dit voordelig vir dieregesondheid is.

“Indien dit korrek gegee word en diere kan kies of hulle daarvan wil eet of nie, is gevind dat dit vertering en diere se groeitempo verbeter.

“Verder verbeter dit vee se algehele gesondheid en voorkoms en verminder dit die produksie van metaan onder beeste, terwyl dit ook vet in beeste en die proteïen in hul melk verhoog.

“Vanweë sy stabiliteit en weerstand teen vertering en ontbinding, hou die byvoeging van biochar tot veevoer verdere voordele in as vee se mis in die grond ingewerk word."

Volgens die handleiding is biochar se byvoeging tot grond voordelig as teenvoeter vir klimaatsverandering .

“Die toevoeging van biochar tot die grond kan bykomende koolstof vir duisende jare lank ‘vasvang’, dus is dit ‘n manier om klimaatsverandering te beveg.

“Daar word geraam dat 1 kg biochar wat in die grond ingewerk word, tot 3 kg koolstofdioksied (CO2) kan absorbeer.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!