Su00ea nu00f3u00fa jou su00ea oor ondersese fosfaatmyn
Su00ea nu00f3u00fa jou su00ea oor ondersese fosfaatmyn

Sê nóú jou sê oor ondersese fosfaatmyn

Die omgewingskommissaris aanvaar tot die einde van vandeesweek insette oor dié beplande mariene projek.
Augetto Graig
Augetto Graig - Belanghebbers en geraaktes van die voorgestelde Sandpiper- mariene fosfaatmynprojek het tot Vrydag die geleentheid om insette daaroor te lewer.

Namibian Marine Phosphate (NMP) is vasbeslote om met die projek, ter waarde van miljoene, voort te gaan.

Geskrewe insette kan nog tot 17:00 Vrydag by die ministerie van die omgewing en toerisme se omgewingskommissariskantoor ingedien word.

Daarná sal die insette saamgevat en hersien word, en aan mnr. Teophilus Nghitila, die omgewingskommissaris, voorgelê word.

Hy sal besluit of die projek goedkeuring verdien en sy besluit aan die minister van die omgewing en toerisme voorlê.

Nghitila het voorheen reeds goedkeuring vir dié projek toegestaan, maar verskeie klagtes oor ’n tekort aan geleenthede vir openbare insette het die minister, mnr. Pohamba Shifeta, laat besluit om meer tyd vir die lewer van insette toe te staan.

Shifeta het die tyd vir verdere beraadslaging met ses maande van 29 Junie af verleng.

Toepaslike dokumente, asook die omgewingsevalueringsverslag, kan vandeesweek by die maatskappy se hoofkantoor in Meersig op Walvisbaai nagegaan word.

Dié dokumente is ook by die ENSafrica-kantoor in Windhoek en op Swakopmund vir openbare inspeksie beskikbaar.

Die nieregeringsorganisasie Swakopmund Matters is egter nie gelukkig met die vordering van dié proses nie.

In ’n brief wat die organisasie vandeesweek aan Nghitila gerig het, sê omgewingsbewaarders die tekort aan inligting oor die deel van die Sandpiper-projek wat op land plaasvind, wek kommer.

Sandpiper beoog om jaarliks 5 miljoen ton sand van die seebodem af aan wal te bring om vir fosfaat ontgin te word.

Dít sal sowat 140 km suidwes van Walvisbaai af plaasvind.

Swakopmund Matters het vrae oor die goedkeuring van die perseel, oor beraadslaging met geraakte gemeenskappe, oor hoe van die oorskot ontslae geraak sal word en of ’n omgewingsimpakstudie gedoen is.

Volgens Swakopmund Matters moet die see- en landaspekte van die voorgestelde projek saam oorweeg word alvorens enige besluite geneem word.

“Die projek sal soveel skade op land as ter see veroorsaak. Die vervaardiging, berging en vervoer op land sal ernstige gevolge hê, waarvan u sekerlik bewus moet wees, aangesien dit al verskeie kere onder u aandag gebring is,” het hulle aan die omgewingskommissaris geskryf.

Hulle benadruk dat wetenskaplikes reeds bewys het die projek hou ernstige gevolge vir die mariene omgewing en die plaaslike visvangbedryf in.

Openbare beraadslaging met alle belanghebbers het volgens Swakopmund Matters geensins plaasgevind nie.

“Verskeie openbare vergaderings moet ander beraadslaging aanvul,” het die groep geskryf.

Volgens hulle sal dit aangesig tot aangesig kontak behels, wat gesprek tussen 'n wye verskeidenheid rolspelers moontlik maak.

“By sulke vergaderings kan die werklike voornemens van voorstanders van die projek duidelik gemaak word. Laasgenoemde kan die stemme hoor wat uitroep teen wat hulle as aanstootlik en verwerplik beskou.

“Dit moet herhaal word: Openbare mening kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer