Só ruk kospryse jou sak nou

Die oorhoofse inflasiekoers vir Julie was 5,1% in die buurland – die eerste keer in tien maande dat dit meer as 5% is.
Hanlie Stadler – Die spoed waarteen vleis duurder word, het vir die 12de maand in ’n ry verlangsaam.

Vleisprysinflasie was in Julie 5,6% – ’n stewig tien persentasiepunte laer as die 15,6% op die hoogtepunt in September 2017. (Sien grafika.)

Die syfers kom uit die inflasiesyfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdagoggend uitgereik het. Die oorhoofse inflasiekoers vir Julie was 5,1%, die eerste keer in tien maande dat inflasie meer is as 5%.

Vier koskategorieë is nou goedkoper as ’n jaar gelede: brood- en graanprodukte (-3%), vette en olies (-1,7%), vrugte (-4,2%) en suikerprodukte (-5,5%). (Sien grafika.)

Die skerpste styging van alle basiese kossoorte is groente se 8,8%.

Hoewel die totale mandjie vleisprodukte wat die SSA meet steeds duurder word, word varkvleis wel goedkoper weens die uitwerking van die listeriose-epidemie einde verlede jaar.

Een van die land se grootste poloniefabrieke, die Enterprise-fabriek in Polokwane, is steeds gesluit sedert dit in Maart as die bron van die epidemie geïdentifiseer is.

Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê navorsing van die Amerikaanse departement van landbou voorspel dat die aantal beeste wat vanjaar geslag gaan word, 4% hoër gaan wees, wat kan help om die styging in beesvleispryse in toom te hou. Tans kla heelwat verbruikers oor hoeveel duurder ’n biefstuk is as ’n jaar gelede.

Melk, prys en eiers is as gesamentlike kategorie 4,2% duurder as ’n jaar gelede. Die prysstygings in dié kategorie is betreklik wisselvallig – dit was 4,5% in Mei en 3,8% in Junie. Die stygings kan minstens deels toegeskryf word aan die laaste stuiptrekkings van die voëlgriepepidemie wat ’n jaar gelede die opskrifte oorheers het, sê Sihlobo.

Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agri-Sake, sê hoër melkproduksie het gehelp om die kategorie se stygings ietwat in toom te hou.

Sihlobo sê ’n toename in die invoer van eiers uit Amerika en Lesotho kan binnekort ook help om die plaaslike voorraad aan te vul en prysstygings te beperk.

Die daling in die prys van brood en graanprodukte, vette en olies, vrugte en suikerprodukte – neigings van die afgelope paar maande – duur voort. Dit word toegeskryf aan die rekordgraan- en -oliesaadoeste van 2017.

Sihlobo sê die grootste risiko vir kospryse op mediumtermyn is die verwagte El Niño-weerverskynsel met sy verwagte warmer, droë toestande.

Dit kan tot in 2019 duur en die nuwe oes somergewasse laat krimp. “Daar sal binne ’n maand of wat groter helderheid hieroor wees.”

Die Internasionale Navorsingsinstituut vir Klimaatwetenskappe (IRICS) reken daar is tans ’n 60%-kans dat El Niño wel voor die einde van 2018 gaan ontwikkel, en ’n 70%-kans dat dit in die middel van die somer van die 2018-’19-oes kan tref.

Makube sê ’n bogemiddelde oes van 13,8 miljoen ton mielies word vir die pas afgelope oes voorspel, wat die prys nog lank laag kan hou.

Makube skryf die skerp styging in groentepryse – van 8,8% jaar op jaar – toe aan die uitwerking van die Wes-Kaapse droogte op produksie.

“Op kort termyn is die prysneigings vir grane sywaarts, met ’n beperkte kans dat dit styg gegewe die oorvloedige voorraad.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!