Só speel mynbousake op verkiesing in

Politieke partye bespreek mynboukwessies in die lig van die streek- en plaaslike owerheidverkiesings.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Namibiese streek- en plaaslike owerheidverkiesings is om die draai op 25 November en Republikein het vrae aan politieke partyverteenwoordigers gestel om te hoor waar hulle ten opsigte van mynbou staan.

Die vrae was redelik spesifiek rakende mynboudorpe en -kwessies gerig, hoewel verskeie politici nie met antwoorde gereageer het nie.

IPC WIL VERNUWE

Die nuwelingparty Independent Patriots for Change (IPC), wat maar vier maande bestaan, se nasionale hoofsekretaris, me. Christine Aochamus, het wel noukeurig geantwoord. Die IPC erken die bydrae van mynbou tot ontwikkeling in Namibië en veral in die “mynboudorpe”.

Volgens Aochamus is ’n koersverandering in mynboubeleggings te bespeur, naamlik dat wyer ekonomiese ontwikkeling ondersteun word. “Hierdie skuif in prioriteite moet ondersteun en uitgebrei word, terwyl verseker word selfs ’n maatskaplik betrokke mynbousektor dra steeds sy regmatige deel tot inkomste vir Namibië by,” sê sy.

Die IPC het waardering vir Namdeb, die diamantmynbouvennootskap tussen De Beers en die regering, wat jaar op jaar miljarde in die belastingkas laat vloei. Namdeb se bydrae tot die ontwikkeling van Oranjemund is ook uitgelig.

Aochamus sê die kwessie is eerder Namdia, “wat duidelik wys dat ’n staatsonderneming nie met die private sektor kan meeding nie, meestal vanweë strukturele ondoeltreffendheid, hoë bedryfskoste en die betaling van hoë salarisse aan uitvoerende beamptes,” sê sy.

Die IPC het egter besware rakende die voortbestaan van die Sperrgebiet, wat Aochamus beskryf as “’n argaïese teruggryp na ons verlede van onderdrukking, toe die regte van die burger vertrap is en hulle agter kunsmatige gordyne soos die ‘Rooi Lyn’ beperk was,” sê sy.

Die IPC soek Oranjemund se steun om te kyk of die belegging in Namdia nie beter vir hul dorp se ontwikkeling bestee kan word nie. Die party soek ook Lüderitz se steun om spoorvervoer en die uitvoer van steenkool uit Botswana te bevorder, vir die verslapping van beperkings op toegang tot bewaarde gebiede vir toerisme, en die ontbinding van Namibia Wildlife Resorts (NWR).

Vir Tsumeb se toekoms steun die IPC Dundee Precious Metals se pogings tot beter openbare gesondheid op die dorp en beplan die party groter klem op omgewingsbewaring. IPC-raadslede sal ook noukeurig Dundee se winste en belastingbetalings dophou, sê Aochamus.

In die Kavango en die Rundu-omgewing is die IPC heeltemal teen hidrobreking gekant en verkies volhoubare energie-ontwikkeling bo die ontginning van enige fossielbrandstof, sê sy.

LPM SIEN ‘LANDSVERRAAD’

Die meeste insette op Republikein se vrae is in verband met die Erongostreek en Arandis ontvang.

Landless People’s Movement (LPM) se kandidaat vir Walvisbaai, mnr. Jade McClune sê: “Die Swapo-regering het massiewe belastingtoegewings aan reusekorporasies soos Areva uit Frankryk en die Chinese staatsbeheerde Husabmyn aangebied. Nadat hierdie maatskappye nie behoorlik belas is nie, gaan dieselfde regering na Europa en China om miljarde dollars te leen om sy bedryfsuitgawes te finansier. Dit is direkte verraad van die belange van huidige en toekomstige geslagte.”

McClude sê die LPM verwerp die voorstel dat plaaslike owerhede in die streek grond aan myne verkoop om vir mynwerkers huise te bou.

“LPM sal verkies ’n hernubare 99-jaar huurkontrak verseker grond vir die Namibiese mynwerkers, wat dan deur die myn steun kan kry om hul eie huise te bou,” sê hy. Behuising en deeglike belasting is McClune se prioriteite in mynbou.

AR Sê OOR CHINA

Die Affirmative Repositioning (AR) se Swakopmund-kandidaat, mnr. Stefanus (Sporo) Iiyambo, het ook mynbou op Arandis en in Erongo aangespreek.

Iiyambo sê Rössing is grootliks verantwoordelik vir Swakopmund se ontwikkeling en het ook die teerpad tussen Swakopmund en Arandis vergroot.

Uraanmynbou en China gaan volgens Iiyambo saam. Hy is ten gunste van China se belegging in Namibiese mynbou, en wil sien dat mynboumaatskappye mense oplei en infrastruktuur langs die kus ontwikkel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!