'Só toets ons vir bakterieë, chemikalieë'

'n Wêreldklas laboratorium werk daagliks hard om seker te maak Windhoek se water is drinkbaar.
Elvira Hattingh
Die gehalte van altesaam 10 000 watermonsters uit verskillende dele van Windhoek word maandeliks, volgens die hoogste internasionale standaarde, deur die munisipaliteit se Gammams-laboratorium vir wetenskaplike dienste getoets.

Dit sluit in toetse vir chemikalieë, parasiete, virusse, stowwe wat met die werking van hormone in mense kan inmeng, asook mikrobiologiese organismes.

Die water wat vanuit Windhoek se water­herwinningsaanlegte kom, ondergaan meer toetse as byvoorbeeld dié wat deur nasionale damme verskaf word. Gevolglik kan die munisipaliteit met sekerheid bevestig dat die stad se herwinde water van uitstekende gehalte is.

Die Windhoek se munisipaliteit het onlangs 'n mediatoer van hul laboratorium by die Gammams-aanleg vir waterwerke aangebied om te demonstreer dat die hoogste standaarde met die toetsing van die stad se water gehandhaaf word.

Die toetse bewys deurentyd dat die stad se water van uitstekende gehalte is.

Die laboratorium se hoofwetenskaplike, mnr. Kosmas Nikodemus, het verduidelik dat huishoudelike rioolwater eerstens na die Gammams-aanleg gaan vir behandeling, waarna dit ook na die meer moderne Goreangab-aanleg vir verdere behandeling gestuur word.

Water gaan ook na die ouer Goreangab-aanleg, maar water vanaf dié aanleg word hoofsaaklik as gryswater gebruik. Dit dien onder meer om sportvelde in Windhoek nat te maak. Soms word die Gorean­gabdam se water ook vir gryswaterdoeleindes gebruik.

Die munisipaliteit se Ujams-aanleg ontvang rioolwater van die stad se nywerhede af, wat metale bevat en gevolglik te toksies is om by Gammams te suiwer.



VERSPREIDING VAN HERWINDE WATER

Die munisipale herwinningsaanlegte lewer tans altesaam sowat 20% van die stad se drinkwater. Tog ontvang geen gebied in Windhoek uitsluitlik herwinde water nie, het Nikodemus gesê.

“Die water van al Windhoek se onder­skeie bronne, wat ook damwater en boorgatwater insluit, word by 'n pompstasie naby die Westelike verbypad gemeng. Daarvandaan word dit na die res van die stad versprei.

“Die suide, suidweste en suidooste van die stad het aanvanklik egter meestal boorgatwater ontvang, omdat dit naby aan die boorgate geleë is en die infrastruktuur nog nie bestaan het om water uit byvoorbeeld die Avis-woonbuurt na die pompstasie by die Westelike verbypad te kry nie,” het hy gesê.

“Sedert Desember het die noorde van die stad algaande ook meer boorgatwater ontvang en tans word infrastruktuur aangelê sodat die res van die stad ook van die boorgatwater in die suide gebruik kan maak.

“In Olympia is 'n reservoir wat water vanaf die boorgate ontvang en voorts sal boorgatwater ook na die vyf groot sentrale reservoirs gepomp word, waarvandaan dit ook na die pompstasie vir vermenging geneem sal kan word.

“Daar is egter bitter min stede in die wêreld wat water van verskeie bronne af ontvang, wat ons waterverspreidingsnetwerk baie kompleks maak. Die meeste het óf boorgat- óf oppervlakwater, terwyl ons drie bronne het,” het Nikodemus gesê.



WATERMONSTERS

Voorts is daar aan die media gewys hoe watermonsters op verskillende punte in die stad geneem word.

“Daagliks word altesaam 90 watermonsters geneem. Dit is gelyk aan 1 800 monsters per week en 10 000 toetse per maand wat in die laboratorium gedoen word,” het Nikodemus gesê.

“Ons het 121 punte in die stad wat volgens sekere skedules getoets word. In sommige gevalle word monsters daagliks geneem, terwyl watermonsters twee keer 'n week by reservoirs geneem word. By ander punte word dit weekliks, maandeliks of jaarliks geneem. Dit hang af van faktore soos die waterdruk, hoe digbewoon die gebied is en waar die punte geleë is.

“Ons fokus veral op plekke waar baie mense bymekaar kom, soos by skole en klinieke.”

Die punte waar watermonsters geneem word, word net vóór watermeters geplaas omdat die neem van 'n monster vereis dat die waterstelsel eers gespoel word. Kliënte kan kla as hulle vir dié water wat uitloop, moet betaal.

Elke punt word met 'n spesiale sleutel gesluit sodat die water nie uitgetap of besoedel kan word nie. Voor die neem van 'n monster word 'n spesiale koperkraan ingedraai. Die kraan word dan toegelaat om voluit vir sowat drie minute lank te loop om seker te maak daar word nie monsters van stagnante water geneem nie.

Daarna word die koperkraan gesteriliseer met behulp van 'n gasvlam sodat akkurate mikrobiologiese monsters geneem kan word. Die doel is om enige organismes wat van elders kom en dalk binne die koperkraan aanwesig kan wees, eers dood te maak.

Die kraan word dan toegelaat om weer vir 'n sekere tydperk te loop sodat die ­koperkraan kan afkoel.

Monsters word in steriele bottels geneem. Toetse vir chloor-inhoud, temperatuur, asook die water se pH-balans word onmiddellik gedoen. Die minimum toelaatbare hoeveelheid is 0,21 mg chloor per liter water.

Die monsters word dan na die laboratorium vervoer in sakke wat die temperatuur daarvan min of meer stabiel hou.



VERSKEIE PARAMETERS GETOETS

Nikodemus sê daar word vir verskeie parameters in die laboratorium getoets omdat ons water herwin word. Waar die plaaslike laboratorium nie die kapasiteit het om sekere toetse te doen nie omdat dit te gekompliseerd of te duur is, of omdat hulle nie die nodige toerusting het nie, word monsters weggestuur.

“Ons toets byvoorbeeld vir virusse deur monsters weekliks na die Universiteit van Pretoria te stuur – die enigste instansie in Afrika wat daarvoor kan toets. Monsters word ook na 'n tweede laboratorium in die buurland gestuur om vir gevaarlike parasiete te toets, soos byvoorbeeld dié wat van diere se mis af kom en gastro-intestinale toestande by mense kan veroorsaak.

“Die parasiete kom dikwels in oppervlakwater voor wat naby plase geleë is. Tot dusver is egter geen van dié parasiete in ons water gevind nie,” het hy gesê.

“Ons toets vir stowwe wat ontwrigtend op die menslike hormoonstelsel kan werk en stuur monsters hiervoor na 'n laboratorium in Frankryk.”

Oor die moontlike opbou van byvoorbeeld hormone in die water, het Nikodemus gesê die munisipaliteit is doeltreffend in die bekamping daarvan.

“Ons metode van waterherwinning by die Goreangab-aanleg (WINGOC) verlaag dié vlakke baie doeltreffend. By dié herwinningsaanleg word sekere prosesse soos osonisering en suiwering deur korrel-geaktiveerde koolstof gevolg - wat dit heeltemal verwyder.

“Ons laboratorium-toetse lewer die bewys daarvan.”

Hy het verder gesê die hormoonvlakke wat in die water voorkom wat deur NamWater gelewer word, is onbeduidend.

“Ons toets ook die water wat van NamWater af kom waar dit aan ons by die reservoir naby die Simon de Wittbrug gelewer word,” het hy gesê.



LABORATORIUM: MIKROBIOLOGIE

“Rioolwater moet mikro-organismes bevat as aanduiding dat ons suiweringstelsel reg werk. Terselfdertyd moet jou drinkwater vry daarvan wees.”

Me. Kayeuna Basson, hoof van die laboratorium se afdeling vir mikrobiologie, het getoon hoe die teenwoordigheid van dié organismes in water vasgestel word. Die laboratorium maak van die membraan-filtreringstegniek gebruik om bakterieë vas te vang.

“Ons moet kan vasstel hoeveel mikro-organismes in rioolwater teenwoordig is. Die rede waarom die organismes in rioolwater moet voorkom, is omdat die suiweringsproses biologies is. Ons maak gebruik van mikrobiologiese organismes om onsuiwerhede in die water af te breek,” het sy gesê.

“Ons gebruik 'media', 'n tipe kos wat mikro-organismes aanmoedig om te groei. Dit help ons om te identifiseer watter van hulle in die water voorkom. Hulle reageer op die kos en is andersins te klein om te sien,” het sy gesê.

“Verskillende bakterieë groei teen verskillende temperature en pH-balanse. Sommige groei in anaërobiese toestande – daar waar geen suurstof teenwoordig is nie.

“Mikro-organismes groei slegs in omgewings waar hulle genoegsame kos het en die regte temperatuur en pH-vlakke gehandhaaf word. As die water vry van mikrobiologiese lewe is, sal niks groei nie, al voeg jy media by,” het Basson gesê.



LABORATORIUM: CHEMIE

Die waarnemende hoof van die laboratorium se afdeling vir chemie, mnr. Venus de Klerk, het gewys waar rioolmonsters vir toetsing van onderskeie waterherwinningsaanlegte af ontvang is.

Hy het getoon hoe 'n fisiese analise van die onderskeie watermonsters gedoen word, wat behels dat die pH-balans, geleibaarheid asook die troebelheid of “karakter” van water getoets word. Die geleibaarheid dui aan hoeveel ione of opgeloste soliede dele in water voorkom.

Die laboratorium beskik ook oor organiese koolstofontleders, wat moet vasstel hoeveel opgeloste organiese koolstof in die riool- en drinkwater voorkom. De Klerk het ook 'n masjien gewys wat vir onder meer kalium, magnesium, natrium, kalsium, chloried en bromiede toets en sowat N$1,5 miljoen kos.

“Bromiede beland dikwels in die water as gevolg van nywerhede se aktiwiteite en kom ook in huishoudelike riool­water voor. Dit is in die meeste sepe teenwoordig,” het Nikodemus verduidelik.

“Die Gammams-aanleg kan dit nie uit die water verwyder nie, maar by die Goreangab-aanleg ondergaan die water verdere suiwering deur osonisering, wat die bromiede oksideer. Dit stel ons in staat om dié middel tydens verdere suiweringsprosesse na internasionaal aanvaarbare vlakke te verlaag, wat nie gesondheidsgevare inhou nie.”

Nikodemus het ook gesê watermonsters word by onderskeie nywerhede geneem om besoedelingsbeheer toe te pas.

“Ons het 'n afdeling wat hiervoor verantwoordelik is en nywerhede moet ook betaal volgens die konsentrasies van middels wat in hul afvalwater voorkom.”

Die hardheid van water word ook in dié afdeling getoets en verder word die afvalwater vir onder meer ammoniak, fosfaat, nitrate en sianied getoets.

“Die masjien wat hierdie werk verrig, kos ook sowat N$1,5 miljoen,” het De Klerk gesê.



ISO-STANDAARDE GEHANDHAAF

Me. Maria Ndafyaalako, 'n wetenskaplike wat in die laboratorium se afdeling van gehaltebestuur betrokke is, sê as dit by gehaltebestuur kom, word daar by die internasionale ISO/IEC 17025 gehou – 'n akkreditasiestelsel wat vir die meeste laboratoriums wêreldwyd geld om te verseker dat resultate geldig, konsekwent en akkuraat is.

“Die handhawing van die standaarde is vir ons baie belangrik, want Windhoek is die eerste stad ter wêreld wat drink­water direk herwin. Daarom moet ons seker maak dat ons aanlegte korrek funksioneer,” het sy gesê.

Volgens Ndafyaalako word hul laboratorium vyfjaarliks deur Sadcas, die akkreditasie-liggaam vir laboratoriums in Suider-Afrika, evalueer voor 'n nuwe akkreditasie-sertifikaat uitgereik word. Verder word hulle ook jaarliks besoek en geassesseer om seker te maak die voor­skrifte word presies uitgevoer.

Die jaarlikse besoeke vind lukraak plaas en die laboratorium word nie vooraf gewaarsku nie.

Sy het gesê sodra die laboratorium resultate uitreik, word 'n akkreditasie-­merk daarop gedruk wat oral in die wêreld erken word.

“Ons doen ook toetse vir private kliënte, soos byvoorbeeld boere wat hul boorgatwater wil laat toets. Ons kan ook help met die interpretasie van watertoetse vir dié kliënte,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!