Só vaar die Verkrygingsraad
Vertragings en 'n tekort aan mannekrag steek 'n stok in die wiele van openbare aankope.
Augetto Graig
Struikelblokke kan in geleenthede omskep word.
Só sê me. Lischen Ramakhutla, die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se administratiewe hoof.
Sy en mnr. Patrick Swartz, die CPBN se voorsitter, het Vrydag lig gewerp op uitdagings wat die goedkeuring van groot tenders vertraag.
Volgens Ramakhutla het die raad sedert sy stigting in April 2017 die kuns verfyn om struikelblokke in geleenthede te omskep.
Sy sê 'n vyfjaar- strategiese plan is opgestel om uitdagings te oorbrug.
Dit behels onder meer dat die openbare verkrygingswet reeds in die onderhandelingsproses met buitelandse bronne van finansiering toegepas moet word om te verseker kontrakbepalings strook daarmee.
Die openbare verkrygingsproses moet ook klein ondernemings, vroue en die jeug insluit, wat strook met die staat se werkskepping- en nywerheidsbeleide, het Ramakhutla gesê.
Die standaard boddokumente moet ook hersien word om aan die raad se vereistes te voldoen.
Volgens Swartz is die regering se beleidseenheid in die proses om presies dit te doen, en die aangepaste dokumente kan hopelik binne 'n maand gebruik word.
Die raad staar ook kwessies in die gesig wat voldoening aan die vereistes van betrokke wette betref, sê Ramakhutla. Dít weens 'n gebrek aan personeel, asook weens personeel se tekortkominge.
Daar was onder meer vertragings in die aanstelling van 'n ouditeur, menslike foute, 'n gebrek aan monitering en aansoekers se trae reaksies.
Ramakhutla het gesê verskeie bestuurskwessies sal met die aanstelling van 'n regsadviseur, bestuur en bod-evalueringskomitee opgelos word.
Sy het gesê niemand is ná voorverlede week se mediaberigte oor werknemerkwessies weens beoordeling afgedank nie, en diegene wat die raad onlangs verlaat het, se werkskontrakte het verstryk.
Die meeste werknemers is op korttermynkontrakte aangestel, weens die Sentrale Verkrygingsraad se uitgerekte aanstellingsproses, het sy gesê.
Dit duur glo tot ses maande om aangestel te word, en behels 'n streng keuringsproses, waarop die ministerie van finansies aandring.
Volgens Ramakhutla het die raad ten spyte hiervan tussen April en Desember verlede jaar 35 individuele verkrygingsplanne met 'n gesamentlike waarde van N$8 miljard ontvang en geëvalueer.
Swartz het verduidelik die voorlegging van planne is die eerste stap in die verkrygingsproses.
Die raad het ook 40 uit 43 tenderaanbiedings geëvalueer.
In dié tydperk is 41 aansoeke vir die verlenging van bestaande tenders ter waarde van N$128 miljoen ontvang, en 12 verkrygingskontrakte ter waarde van N$154 miljoen is volgens Ramakhutla toegeken.
Slegs 190 van die 264 aansoekdokumente wat verkoop is, is ingehandig.
Tans word verskeie tenders oorweeg, wat onder meer insluit die aankoop van dwarslêers, asook ander projekte van die ministerie van werke en vervoer, die tender vir die Paaieowerheid (RA) se bedryfslisensie, en vir die verskaffing van farmaseutiese voorraad – een van die grootstes volgens Swartz.
Hy het gesê die verkryging van N$200 miljoen se antiretrovirale medisyne is toegeken, en is aan 'n hersieningsperiode onderhewig voor dit in werking gestel word.
Die raad wag ook vir die terugkeer van die tender vir die opgradering van lughawens, wat weens dringende veiligheidsbehoeftes tydelik teruggetrek is.
Swartz is ten volle bewus van die impak van vertragings in die verkrygingsproses op die land se ekonomie.
“Die ekonomie kort 'n inspuiting en vertragings in verkryging het nagevolge,” het hy gesê.
Volgens hom sal beter samewerking tussen rolspelers die proses bespoedig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie