Su00f3 verander senior sekondu00eare onderwys
Su00f3 verander senior sekondu00eare onderwys

Só verander senior sekondêre onderwys

Graad 10-leerlinge sal van vanjaar af fisika en chemie as twee afsonderlike vakke volg.
Dani Booysen
Dani Booysen – Namibiese hoërskoolonderwys begin vanjaar met die grootste akademiese omwenteling sedert Cambridge-leerplanne kort ná onafhanklikwording aanvaar is en mettertyd toenemend by plaaslike behoeftes aangepas is.

Die nuwe leerplan vir die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat op Gewone Vlak (NSSCO), wat graad 10- en graad 11-leerlinge vanjaar en volgende jaar sal volg, bestaan uit vier studievelde: natuurwetenskappe, geesteswetenskappe, tegnologie en handel.

Wiskunde bly, soos Engels, verpligtend. Leerlinge moet nog ‘n taal neem, twee vakke uit hul bogenoemde studieveld, een bykomende vak uit ‘n lys van 19 beskikbare vakke, en vier ondersteuningsvakke. Dit is ‘n totaal van 10 vakke, met ses eksamenvakke.

Gesondheid en maatskaplike sorg word reeds as nuwe keusevak gelys, maar sal nie reeds in 2019 aangebied word nie. Die vak moet leerlinge voorberei op beroepe in die gesondheids- en maatskaplike sektore.

Toestemming sal nodig wees om net een taal te neem.

Ondersteuningsvakke is lewensvaardighede (Life Skills), kuns, inligting en kommunikasie, liggaamlike opvoeding en ‘n leesperiode.

Die moontlikheid van keuses sal van die beskikbaarheid van onderwysers afhang.

HANDBOEKE EN GELD

Skole het, sover vasgestel kan word, nog nie handboeke vir die nuwe NSSCO-leerplan ontvang nie, hoewel bestellings reeds geplaas is. “Groot onsekerheid heers hieroor,” sê ‘n skoolhoof. Instruksies aan skole sê die huidige NSSCO-boeke kan steeds gebruik word.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur wou nie meer inligting verstrek as om te sê voorgeskrewe aankoopprosesse word gevolg nie.

Volgens me. Sanet Steenkamp, permanente sekretaris van onderwys, kuns en kultuur, het die ministerie ‘n hertoegewysde bedrag van N$380 miljoen ontvang toe die nasionale begroting in Oktober hersien is.

Van dié bedrag is N$170 miljoen nodig om ‘n tekort in geld vir salarisse van Januarie tot Maart 2019 te betaal. Die oorblywende N$208 miljoen is vir die aanstelling van ekstra onderwysers en die implementering van die nuwe leerplan.

NUWE SLAAGVEREISTES

Die nuwe slaagvereistes vir die interne eksamen wat graad 10’s vanjaar sal skryf, is ‘n gemiddeld van 40% of ‘n E-simbool vir Engels en vier ander eksamenvakke.

“Dit gaan vir seker na beide kante druk op die stelsel plaas,” sê ‘n skoolhoof.

As meer graad 10’s moet herhaal, sal daar groter klasse in 2020 wees. Omdat alle graad 10’s minstens in beginsel kan slaag, kan daar in 2020 ook groter graad 11-klasse wees.

Streng voorskrifte word oor ekstra bystand gestel aan leerlinge wat nie graad 9 of 10 slaag nie. Grensgevalle wat bevorder mag word, sluit in leerlinge wat 2% swakker as die vereiste gevaar het.

Wanneer ‘n leerling reeds gedruip het en dan bevorder moet word, skryf beleid voor so ‘n leerling moet steeds bykomende bystand ontvang.

Die amptelike omsendskrywe wat in Mei 2018 oor die nuwe bedeling uitgestuur is, benadruk die belang om ouers en skoolgemeenskappe voortydig oor veranderinge in te lig. Dit is moeilik om vas te stel of dit oral in die land gebeur het.

Streekkantore is opdrag gegee om skole wat vir die eerste keer NSSCO aanbied met monitering en praktiese hulp by te staan. Personeel van kundige skole in die omgewing moet vir dié doel ingespan word.

WISKUNDE

Tans kan graad 11- en 12-leerlinge wiskunde vir die NSSCO op kern- of uitgebreide vlak (Core of Extended) volg. Die nuwe leerplan voorsien net vir laasgenoemde.

Dieselfde skoolhoof verwag prestasie in wiskunde kan drasties beïnvloed word en dus slaagpersentasies. “Ek voorspel ‘n groot kopseer,” sê hy. “Sommige kinders het werklik nie die aanleg vir wiskunde nie.”

Uitslae sal in 2020 bewys of daar ‘n groter slagting plaasvind.

Wiskunde bly verpligtend en onderwysbeleid bestempel dit as ‘n sleutelvak vir elke leerling se ontwikkeling.

Volgens dr. Patrick Simalumba, van die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (Nied), is wiskunde reeds van 2012 af verpligtend vir NSSCO. “Die prestasie van leerlinge is bevredigend; nie sleg nie,” sê hy.

GRAAD 12

Een skoolhoof is positief dat graad 12-leerlinge in die jaar lange nuwe leerplan vir die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat op Gevorderde Aanvullende Vlak (NSSCAS) meer doelgerig sal kan werk as in die huidige leerplan van twee jaar vir graad 11 en 12. “Die vernuwing is baie positief vir leerlinge wat in Suid-Afrika of elders wil gaan studeer,” sê hy.

Leerlinge wat ses vakke op die nuwe vlak in een jaar wil voltooi, sal volgens Nied aansienlike bykomende hulp benodig. Die ministerie beveel ‘n minimum van drie vakke en ‘n maksimum van vyf vakke vir NSSCAS aan. Graad 12’s sal lewensvaardighede (Life Skills) en inligting en kommunikasie as hul twee ondersteuningsvakke neem.

Simalumba voorspel ‘n toename in NSSCAS-studente, ondanks die feit dat baie leerlinge tans minder as drie of selfs net een vak (hul moedertaal) op hoërvlak volg. ‘n Bekommernis is dat hoërvlakkandidate sal verminder.

Volgens Simalumba gaan daar egter meer NSSCO-skole wees, wat ‘n breër vervoerband na graad 12 sal bied.

Republikein het verskeie opvolgvrae aan die ministerie gerig, waarop antwoorde nog verwag word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!