Só verbeter jy bestokking met bykans 70%
Elvira Hattingh
Ten spyte van baie oneweredige reënval oor die afgelope jare, kon me. Judith Isele haar bestokking op die plaas Springbockvley in die Blumfelde-omgewing in die afgelope 11 jaar van 31 kg/ha na 45 kg/ha lig.
Sy boer vroualleen met bykans 1 000 beeste en 3 800 skape volgens holistiese bestuursbeginsels en organiese riglyne en is die eerste vrou ooit om as die Namibië Landbou-unie (NLU) se jong boer van die jaar aangewys te word. Dit was die elfde keer dat dié trofee toegeken is.
Dié geleentheid is op Woensdag 9 Maart op haar plaas Springbockvley aangebied.
Weidingbestuur
Isele gebruik haar vee as “tuiniers” van hul eie kos met die doel om die grootste potensiaal uit die grond te put, biomassa te verbeter en die produktiwiteit van die weiding te verbeter.
“My langtermyndoel is om die plaas se huidige drakrag te verdubbel en ook die diversiteit van grasspesies te bevorder.
“Tans bestaan 90% van my veld net uit twee grasspesies. Ek bewei só dat die veld optimaal gebruik word terwyl ek terselfdertyd voorsiening vir die gesondheid van die veldplante maak,” sê Isele.
Aan die begin van elke droë seisoen maak sy ’n opname van die gras in elke kamp en beplan beweiding in die winter volgens hoeveel gras per hektaar oor is.
“Ek gebruik dié inligting om uit te werk hoeveel diere ek kan aanhou met die hoeveelheid gras wat tot in Februarie beskikbaar sal wees, wanneer die groeiseisoen behoort te begin,” het sy gesê.
Springbockvley se bestokking is tans sowat drie diere per hektaar. Sy laat die weiding rusperiodes van tussen 90 en 140 dae per kamp toe.
Met haar weidingsplan maak sy seker dat twee kuddes nooit terselfdertyd by dieselfde plek water drink nie. Sy het drie groepe vee wat in verskillende kampe op die plaas wei – ’n trop skape asook ’n os- en koeikudde.
Die drie groepe volg mekaar deur al die kampe volgens ’n “rooi lyn” wat sy op ’n kaart van die plaas trek.
“Ek doen dit om al die verskillende kampe aan die onderskeie diere se hoewe en spesifieke eetgedrag bloot te stel.
“Ek fokus ook meer op die verteerbaarheid van kos en hoe goed dit groei, as op grasspesies. Ek het ’n spesifieke beweidingsplan vir die groei- en nie-groeiseisoen,” het Isele gesê.
Weidingsprojek
Isele het in Mei 2014 met ’n spesifieke weidingnavorsingsprojek begin wat tot in 2017 sal strek. Dit behels dat sy proewe in twaalf van die sestig kampe op haar plaas doen waar die weiding op verskillende maniere bewei en bestok word. Daarna word vasgestel watter uitwerking dit op die groei van die gras het.
“Elke keer vóór en ná ’n beeskudde of die skaaptrop in die kamp was, doen ek ’n spesifieke evaluasie van die gras – elke keer op dieselfde stuk gras wat met ’n GPS gemerk is. In Meimaand elke jaar, word nog ’n spesiale evaluasie gedoen.
“Die idee is eerstens om te sien of ek ’n praktiese en maklike metode kan vind om die veld se voergehalte en hoeveelheid gras te meet. Tweedens is dit om te sien hoe die veld reageer as ons dit op verskillende maniere bewei.
“Die beweidingsmetodes sluit in dubbel bestokking (in vergelyking met my huidige bestokking van 45 kg per hektaar), die toepassing van my bestaande weidingsplan asook ’n program waarvolgens my bestokking met tussen drie keer en ses keer verhoog word,” het Isele gesê.
Sedert die begin van die projek is twee groot opnames in 2014 en 2015 van die gras se biomassa gedoen. Dan word die plante in sekere dele op die plaas geoes, volgens spesies gesorteer en geweeg.
Daarvolgens kon Isele vasstel dat die swak reën verlede jaar veroorsaak het dat minder eenjarige gras ontkiem het, wat daartoe gelei het dat ’n groter hoeveelheid meerjarige gras beskikbaar was. Peulgewasse en onkruid het ook swakker ontkiem.
Produksiebestuur
Isele se visie is om volhoubaar te boer met inheemse rasse wat hoogs aanpasbaar is en nie van groot, eksterne insette afhanklik is nie. Haar doel is om vrugbare, geharde diere in groot kuddes en troppe aan te hou.
Isele het sowat 1 000 Nguni-beeste, wat hul oorsprong uit ’n Simmentalerkudde op die plaas het. Haar man het in die begin van die negentigerjare Nguni-bulle aangeskaf. Dieselfde geld vir die 3 800 Damaraskape op haar plaas, wat hul oorsprong uit Swakaraskape (toe nog karakoelskape) gehad het.
Isele en haar man het aanvanklik hul vee in vyf groepe – skape en beeste gemeng – op die plaas aangehou. Sy het hulle intussen weer in drie groepe ingedeel.
Waak teen groot veranderinge
“’n Mens moet nie sommer groot veranderinge aan kuddes of skaaptroppe aanbring nie, veral nie tydens ’n droogte nie.
“In 2013 was dit nodig om veranderinge te maak en van my beeskuddes te kombineer, maar ek het ten opsigte van onder meer die dragtigheidsyfers en vleisproduksie daarvoor betaal.
“Ek het my skaapkuddes gekombineer om te sien wat op die grond gebeur as ek die skape en die beeste in afsonderlike groepe hou. Dit het my vee egter jare geneem om by die groter groepe aan te pas,” het Isele gesê.
Ná die verskuiwing van haar diere na groter troppe en kuddes, het sy ’n daling in dragtigheid ervaar en dus vroulike diere ’n tweede keer by bulle of ramme geplaas.
“Ek is nie so bekommerd oor die uitwerking wat dit op die vrugbaarheid van my kudde sal hê nie, want danksy my rekordhouding kan ek makliker my vrugbaarste vroulike diere selekteer.”
Bestokking stelselmatig verhoog
Isele het in 2007 met ’n bestokking van 24 kg per hektaar ’n kalfpersentasie van 70% gehad. In 2009 het dié persentasie op 95% gestaan, met ’n bestokking van 34 kg/ha. In 2012 was dit 93% op ’n bestokking van 43 kg/ha, waarna die groot verskuiwings in haar kudde die kalfpersentasie na 40% in 2013 laat daal het.
In 2014 en 2015, met ’n bestokking van onderskeidelik 40 kg en 45 kg/ha, het sy ’n kalfpersentasie van 83% en 78% gehad.
Sy het intussen agtergekom dat sy nie genoeg kos vir haar groot skaaptrop kan verskaf as sy hulle slegs elke ses tot sewe dae van kamp tot kamp verskuif nie. “Dit is omdat ek nie genoeg bos en dus skaapvoer dwarsdeur die jaar het nie.”
Sedert 2005 het Isele haar bestokking stelselmatig elke jaar verhoog, ten spyte van baie oneweredige reënvalsyfers. In 2005 het dié syfer op sowat 31 kg per hektaar gestaan, waar dit in 2015 op 45 kg was.
Die vleisproduksiekurwe op haar plaas volg egter nie die bestokkingskurwe se opwaartse neiging nie en sy produseer ’n gemiddeld van 12 kg per hektaar oor die afgelope vier jaar.
Isele sê dit sal egter haar volgende stap wees om die vleisproduksie ook in pas te kry en dat sy tans eers op die verbetering van haar weiding gefokus het.
Wat dieregesondheid betref, maak Isele op natuurlike immuniteit staat.
“Ek behandel my vee nie teen siektes nie, maar doen dit eerder indirek deur weidingsbestuur, waar kampe ’n lang rusperiode gegun word en die lewensiklus van interne en eksterne parasiete gevolglik onderbreek word,” sê Isele.
Op die manier laat sy ruimte toe vir natuurlike seleksie vir aanpasbaarheid.
KASSIE
Agtergrond
Me. Judith Isele, wat op die plaas Springbockvley in die Blumfelde-omgewing boer, is die eerste vrou om as die Namibië Landboou-unie (NLU) se jong boer van die jaar aangewys te word.
Isele kom oorspronklik van Duitsland en het organiese landbou gestudeer, voor sy verder gespesialiseer het en as deel daarvan praktiese ondervinding op ’n plaas by Dordabis moes opdoen, waar sy ook haar man, Ekkehard Külbs, ontmoet het.
Hulle is getroud en sy het in November 2004 by Külbs op Springbockvley aangesluit. Külbs het die plaas in 1989 by sy ouers oorgeneem, waarna hy en Isele vir sewe jaar saam geboer het. Külbs is in Januarie 2012 in ’n fratsongeluk oorlede toe hy van ’n windpomp afgeval het.
Isele boer sedert sy dood vir vier jaar lank vroualleen op die plaas met inheemse beeste en skape. Die plaas geniet vanaf einde 2013 status as ’n organiese plaas, soos deur die Namibiese Organiese Vereniging toegeken.
Sy is ’n aktiewe lid van Blumfelde Boerevereniging, bestuurslid van die Namibiese Sentrum vir Holistiese Bestuur asook visevoorsitter van die Namibiese Organiese Vereniging. Sy is ’n stigterslid van die landbou-opleidingsentrum Krumhuk.
Sy word gereeld as ’n spreker oor volhoubare boerderypraktyke op nasionale en internasionale vlak genooi – dit sluit in die Stoettelersvereniging (NSV) se vleisproduksieskool in 2014, verskeie plaaslike weidingsforums asook die 2012 Afrika Organiese Kongres in Zambië, die 2012 Internasionale Konferensie oor Organiese Veetelery in Duitsland en die 2014 Organiese Wêreldkongres in Turkye. Haar visie is ’n winsgewende boerdery ná aan die natuur waar sy haar droom volg om die potensiaal van die grond ten volle te ontdek en deur middel van volhoubare boerderypraktyke te benut.
Springbockvley is 9 500 ha groot, is in 60 kampe van sowat 160 ha elk verdeel en het ’n gemiddelde reënval van sowat 260 mm per jaar, hoewel sy tot die einde van Februarie 2016 nog slegs 82 mm ontvang het. Sedert 1960 het gemiddeld 172 mm reën teen die einde van Februarie geval, wat weer eens toon dat vanjaar uitsonderlik droog is.
Isele het jakkalswerende heinings as grensdrade om roofdiere uit te hou en het in 2013 elektriese omheining aangeskaf.
Springbockvley se water lê vlak, wat beteken boorgate word meestal net tot op ’n diepte van tussen 5 m en 25 meter gesink. Sy het tans agt boorgate op die plaas en 17 waterpunte. Die grond op die plaas bestaan uit ’n mengsel van sanderige grond en kalkklippe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie