Só vreet administratiewe inflasie besteebare inkomste
SA’ners kon 10% ryker gewees het
Dr. Kobus Laubscher - Die bekende ekonoom Mike Schussler het interessante statistiek gepubliseer oor die omvang en impak van sogenaamde administratiewe inflasie.
Dit is die stygings in pryse van goedere en dienste wat deur die staat en/of staatsbeheerde instansies gelewer word – sogenaamde openbare goedere. Indien dié statistieke saamgelees word met die onlangse Algemene Huishoudelike Opname (GHS) van 2018, gaan die rooi ligte aan. Staatskaping het en kan die fiskus verlam, maar administratiewe inflasie is ‘n ander jakkals wat skelm vreet!
Volgens Schussler,het die Suid-Afrikaanse verbruikersprysindeks van alle items, die algemeen aanvaarde aanduiding van inflasie, sedert Januarie 2008 tot April vanjaar met bykans 85% toegeneem (in Namibië was die vergelykende syfer bykans 169%).
Suid-Afrika vergelyk met Brasilië se bykans 80%, maar is in skrille kontras met lande soos China, Rusland en Japan, waar dié syfer gedaal het. Volgens die skrywer het Mauritius met 42%, Thailand (18,7%) en Rwanda (53%) beter gevaar. Mexico gaan tans gebuk onder baie hoë inflasie, maar die totale toename oor dieselfde tydperk in daardie land was maar 58%.
Geadministreerde pryse word meestal ongesiens en ongerappoteerd deel van die mandjie wat invreet op besteebare inkomste. Die verbuiker het geen ander keuse nie as om meer te betaal vir munisipale dienste (al is dié dienste swak en selfs afwesig) en daar moet meer betaal word vir energie as kragpryse styg.
Brandstof word duurder al daal internasionale oliepryse, want die regering laai dié pryse met allerlei heffings. So word daar tans 57c per liter brandstof verhaal van verbruikers ten einde die brandstofvoorsiening per pyplyn van die Natalse kus na Gauteng te verbeter.
Daar kan wel argumenteer word dat dié belegging produktiwiteit ‘n hupstoot kan gee, maar die verbruiker se rug is besig om te knak.
Administratiewe inflasie het ‘n sneeubal-effek omdat dit gewoonlik deurgegee word na die volgende speler in die waardeketting. Uiteindelik dok die verbruiker op en die boer se plaashekprys word boonop ook afgedruk.
Alle tersaaklike dienste word gevolglik duurder, terwyl die belastinglas verder invreet op besteebare inkomste.
Getuienis van hoe die staat se geldkoffers die afgelope jare geplunder is en hoe die oorblywende geld onproduktief aangewend is en word, laat verbruikers warm onder die kraag.
Die ander kant van die munt praat weer met wat gedoen kon word indien die omvang en impak van administratiewe inflasie onder beheer was. Om goedkoper besigheid te kon doen en belegginsgvertroue te stimuleer, sou die wêreld se verskil gemaak het in terme van werkskepping.
Schussler bereken dat tot 1 miljoen meer werksgeleenthede die afgelope 20 jaar geskep kon word, as Suid-Afrika in dieselfde posisie was as Rusland, Japan en China.
Suid-Afrikaners kon volgens hom nou 10% ryker gewees het, was dit nie vir die erosie van administratiewe inflasie nie.
Die GHS van 2018 dui weliswaar op verbeterde lewensomstandighede sedert 2002, maar sosiale strukture het verander. Bevolkingsgroei was 1,3%, maar die aantal huishoudings het met 2,4% toegeneem. Huishoudings met enkel ouers het ook toegeneem, terwyl dienste ten opsigte van vroeë kinderontwikkeling (ECD) afgeneem het.
Hierdie tendens manifesteer weer later in die vorm van geld wat bestee moet word om op te vang. By gebrek daaraan as gevolg van fiskale inkorting, bly dié kinders deurlopend agter. Skolastiese vermoë en latere gereedheid in ‘n veranderde beroepsomgewing, verkneg meer mense aan die staat.
Meer mense is afhanklik van toelaes, soveel so dat dit nou die tweede belangrikste bron van inkomste is (in 45,2% van gevalle) van huishoudings, naas salarisse (met 64,8% van alle huishouding).
Meer kinders gaan skool, maar die uitkomste in terme van beroepsgereedheid is ontoereikend. Volgens die GHS moet te veel kinders skool verlaat as gevolg van ‘n gebrek aan geld.
Basiese dienste soos watervoorsiening en sanitasie het merkbaar afgeneem sedert 2014 en dit het ook ‘n merkbare invloed op lewensgehalte.
Dié tendens is verder ontwrigtend as Schussler se bevindings saamgelees word. ‘n Mens betaal vir dienste wat duurder word, maar sonder dat dié dienste verbeter.
Jan Publiek het die reg om beide euwels te pak – ‘n melkkoei-houding gaan niemand baat nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie