Su00f3 werk landbou in inperkingstyd
Su00f3 werk landbou in inperkingstyd

Só werk landbou in inperkingstyd

Talle landboubedrywighede word as noodsaaklik beskou; tog moet die WHO se voorskrifte steeds nougeset nagekom word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Tydens die inperkingstyd mag naweekboere nie heen en weer vanaf hul plase en wonings in dorpe beweeg nie.

Voltydse boere en plaaswerkers mag wel om mediese redes reis, asook om noodsaaklike voorrade vir hulself, hul families of werknemers aan te skaf. Vee mag ook na veilings en slagplase geneem word.

Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het Dinsdag in ’n brief aan belanghebbendes in dié bedrywe uiteengesit watter dienste en bewegings tydens Namibië se 21-dae inperkingstydperk toelaatbaar is.

Schlettwein sê veeartsenydienste, plantgesondheidsdienste en ontsmetting by toegangspunte moet voortgaan sodat seker gemaak word dat die produksie, verwerking, stoor, vervoer en aflewering van kosse kan voortgaan.

Veilings kan ook gehou word en abattoirs se werksaamhede mag voortgaan, terwyl spanne wat verantwoordelik is vir die instandhouding van internasionale grensdrade asook die veterinêre kordonheining, met werk moet voortgaan.

By veeveilings mag diegene wat ’n spesifieke rol daar moet vervul, dit slegs bywoon nadat hul koors gemeet is. Geen kinders word toegelaat nie, terwyl voorsiening gemaak moet word dat mense hul hande kan was en droogmaak. Sosiale distansiëring moet deurgaans gehandhaaf word.

Verder word uitvoersertifikasie, die beheer van in- en uitvoere, die uitreik van vee se vervoerpermitte, waterverskaffingsdienste en diagnostiese laboratoriumdienste as noodsaaklike dienste beskou wat nie gestaak kan word nie.

Meulens, landbouverwerkers en voervervaardigers in beide die vee- en gewasbedryf mag voortgaan met werksaamhede, terwyl sake by die aktekantoor voortgesit moet word en elektrisiteitsverskaffing, veiligheidsdienste asook inligtingtegnologiedienste nie gestaak kan word nie.

Droogtehulp moet voortgaan, asook werksaamhede op Groenskemas en plase self.

Schlettwein sê tydens die vervoer van plaas- en fabriekwerkers in groepe moet gehoor gegee word aan voorskrifte van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), wat insluit sosiale distansiëring en beskermde kleredrag, waar van toepassing.

Boere, lede van die publiek of maatskappye wat noodsaaklike dienste aan plase of landelike huishoudings lewer, moet kan reis. Dit sluit in dié wat plaastoerusting vervoer, verskaffers van masjinerie en -diensverskaffers.

Slagplase, verwerkingsaanlegte, verpakkingsaanlegte en meulens mag met normale werksure voortgaan, maar dis verpligtend om hande skoon te was by alle toegangspunte en sosiale distansiëring is van toepassing waar mense in rye moet staan.

Hier moet duidelik afgemerk word waar mense in rye moet staan om seker te maak ’n afstand van 2 meter word gehandhaaf, terwyl abattoirs, meulens, verwerkings- en verpakkingsaanlegte in die tyd van skofte, korter werksure of minder personeel gebruik moet maak.

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!