Su00f3 word ekonomiese groei geskep
Su00f3 word ekonomiese groei geskep

Só word ekonomiese groei geskep

Nee vir vernietigende, politieke inmenging
Ronelle Rademeyer
Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom - Ekonomiese groei is een van die belangrikste spilpunte waarom die algemene welstand en voortbestaan van die hele wêreld draai.

Hoewel dit by tye ernstig deur byvoorbeeld politieke onstabiliteit, terrorisme, oorloë en natuurrampe bedreig word, bly dit steeds een van die grootste enkele verskynsels waarvan die oorlewing van die hele mensdom afhanklik is.

Die algemene menings en kundigheid oor die ekonomiese groeiproses is in baie gevalle beperk, veral waar daar ander ideologiese politieke en ekonomiese stelsel soos sosialisme nagestreef word.

Die vraag is dus hoe ekonomiese groei geskep word? Die antwoord is in werklikheid baie eenvoudig omdat ekonomiese groei in feitlik al die lande in die wêreld suiwer deur wins gedryf en geskep word. Selfs lande wat nog aan ‘n kommunistiese politieke stelsels vasklou, het reeds lankal besef dat dit in werklikheid die enigste manier is hoe groei geskep kan word. Of vir watter ander redes het lande soos byvoorbeeld Rusland en China twee van Amerika se grootste handelsvennote geword as om die produksie- en vervaardigingskapasiteite van hul lande aansienlik uit te brei en winsgewende uitvoerealisasie vir hul produkte te vind?

Die belangriker vraag is dan hoe word wins geskep? Dit word algemeen aanvaar dat wins die verskil tussen die totale inkomste en totale koste van ‘n onderneming is. In wese kom dit grootliks neer op die eienskappe en aanwending van insette wat gebruik word om uitsette te produseer, te vervaardig of dienste te lewer, soos wat dit onderskeidelik in die primêre, sekondêre en tersiêre sektore, en gevolglik in die ekonomie as geheel, aangetref word. Hierdie proses vorm die basis vir ekonomiese groei wat in werlikheid net deur twee spesifieke hoofdrywers in al die bedrywe en sektore geskep word.

Insetkant

Die spesifieke sakebeginsels waarop die ekonomiese groeivermoë van ‘n land oor al die jare gegrond was, geld steeds vandag in ‘n hoofsaaklik kapitalistiese ekonomiese stelsel soos wat in feitlik al die Westerse lande en ook in Suid-Afrika aangetref word. Die belangrikste vereistes aan die insetkant van ’n sakeonderneming is hoofsaaklik gegrond op die pryse, kwaliteit en die beskikbaarheid van die vier basiese produksie-insette, naamlik grond en grondstowwe, kapitaal, arbeid en bestuur wat die grondslag van alle ekonomiese aktiwiteite vorm.

In ‘n vryemark word die pryse, of dan die vergoeding van hierdie produksie-insette, in die meeste gevalle deur vraag en aanbod bepaal en vrylik toegelaat om na ander aanwendings te beweeg waar die doeltreffendheid en alternatiewe verdienste daarvan die hoogste is. Die moeilikste aspek in hierdie verband is egter watter internasionale en plaaslike faktore die vraag en aanbod van elkeen van hierdie produksie-insette bepaal. Regeringsinmenging in hierdie markte ontwrig en verwring normaalweg die prysvorming van die produksie-insette tot nadeel van die meeste ondernemings, bedrywe en sektore van die ekonomie.

Die koste of vergoeding om die gebruiksreg van hierdie vier produksie-insette te bekom, is in wese die beste en enigste korrekte definisie van wat met die term ‘‘produksiekoste‘‘ bedoel word. Dit word algemeen aanvaar dat koste van die kapitaal wat in die aankoop van grond en vaste verbeterings belê is, deur rente of huurgeld bepaal word en dat rente ook die vergoeding van eie en geleende kapitaal bepaal, terwyl arbeid en bestuur deur lone en salarisse, sowel as bepaalde byvoordele wat daarmee gepaadgaan, vergoed word.

Die vraag wat normaalweg in hierdie verband gevra word, handel oor wat die vergoeding van die ondernemer is vir die besigheidsgeleenthede en markseine wat hy raakgesien het, die winsgewende en volhoubare aanwending van die basiese produksie-insette om die verlangde uitsette in terme van pryse, volume en kwaliteit te lewer en om die prysrisiko‘s wat daarmee gepaardgaan, te bestuur. Die vergoeding van die ondernemer is egter nie ‘n komponent van die produksiekoste van ’n onderneming nie en dit kan slegs een van twee vorme aanneem naamlik ‘n wins of ’n verlies.

Uitsetkant

Die pryse van die produksie-uitsette word in die meeste gevalle deur vraag en aanbod bepaal, behalwe waar regeringsinmenging ook hierdie markkragte verwring.

Baie betroubare inligting en uitgebreide kundigheid word gevolglik vereis oor al die internasionale en plaaslike faktore wat veranderings in die vraag en die aanbod van elke individuele produk kan veroorsaak, want dit speel ‘n deurslaggewende rol in die uiteindelike winsgewendheid en finansiële oorlewingsvermoë van enige besigheids-onderneming.

In die meeste gevalle waar regerings gewoonlik in die werking van die markkragte inmeng deur wetgewing in te stel wat nie naastenby markverwant is nie, word die verkeerde seine ook aan die uitsetkant van die ekonomie deurgegee. Hierdie markverwringende inmenging word uiteindelik deur die werking van die markkragte ingehaal wat dan baie addisionele koste vir al die bedrywe en sektore in die ekonomie veroorsaak, soos byvoorbeeld met die verskaffing van elektrisiteit en brandstof in Suid-Afrika.

Prysverhouding

Die winsgewendheid van enige besigheidsonderneming wat se hoofdoel daarop ingestel is om winste te realiseer wat ekonomiese groei en welvaart kan skep, word in wese deur dieselfde twee belangrike hoofdrywers bepaal.

As hierdie twee drywers nie hierdie doelwit van ‘n besigheidsonderneming op ‘n volhoubare basis kan bereik nie, is daar niks anders wat daarin sal slaag nie. Alle ander faktore wat ‘n invloed op die onderneming kan uitoefen, is dan in werklikheid onbelangrik. Hierdie drywers is ook dieselfde vir al die verskillende bedrywe en sektore van die ekonomie en bepaal daarom gesamentlik die winsgewendheid, potensiële groei en welvaart wat in die ekonomie as geheel geskep kan word.

Die eerste belangrikste dryfveer is die sogenaamde inset/uitset-prysverhouding wat die grootste rol in die winsgewendheid van enige onderneming speel. In die landbou word die winsgewendheid van enige bedryf hoofsaaklik bepaal deur die pryse wat produsente vir hul insette soos, saad, kunsmis en brandstof betaal in verhouding tot die pryse wat hulle vir hul produkte realiseer.

As die groot dryfkrag van hierdie prysverhouding in enige besigheidsonderneming ignoreer sou word en nie voldoende aandag kry hoe dit verbeter kan word nie, sal dit vir seker tot die finansiële ondergang van enige onderneming aanleiding gee.

In die produksie van mielies, byvoorbeeld, was hierdie verhouding, met die uitsondering van klimaatsomstandighede, die grootste oorsaak waarom baie kommersiële boere die bedryf in die verlede moes verlaat en waarom opkomende boere ook nie vandag maklik die mas sal opkom as ‘n verswakkende inset/uitset-prysverhouding nie ernstig ondersoek word nie.

Die winsgewendheid van ‘n beesvoerkrale word byvoorbeeld direk deur die prys van ‘n gebalanseerde voerrantsoen en die prys van beesvleis bepaal. Die algemene norm in die voerkraalbedryf is dat die prys van beesvleis 15 keer hoër as die prys van mielies moet wees om ‘n gelykbreekpunt te bereik. As die prys van byvoorbeeld mielies, wat die grootste komponent van ‘n rantsoen uitmaak, oor ‘n bepaalde periode vinniger as die prys van beesvleis styg, sal hierdie prysverhouding tot onder 15 daal en ‘n dienooreenkomstige daling in die winsgewendheid van die voerkraal veroorsaak. Die teenoorgestelde scenario sal uit die aard van die saak weer die winsgewenheid van die voerkraal verbeter.

‘n Goudmyn se winsgewendheid sal byvoorbeeld deur die prys van gouderts teenoor die prys van goud bepaal word, terwyl die winsgewendheid van ‘n steenkoolkragsentrale weer deur die prys van steenkool en die prys van elektrisiteit bepaal word. In die geval van ‘n bio-etanolaanleg wat mielies as ‘n grondstof gebruik, sal dit weer deur die prys van mielies en die prys van bio-etanol bepaal word. ‘n Ondersoek in 2005 na die vervaardiging van bio-etanol uit mielies het getoon dat die prys van bio-etanol in kiloliter byvoorbeeld minstens 2,6 keer meer as die prys van mielies moet weens om gelyk te breek. Enige verandering in hierdie prysverhouding sal die winsgewendheid van die aanleg direk beïnvloed.

Die gevolge van die verskillende redes vir die prysveranderings van beide die insette wat gebruik word om uitsette te lewer, het ‘n baie belangrike invloed op die winsgewendheid van ‘n onderneming en vereis baie navorsing en kundigheid oor die redes vir die prysveranderings. Produsente, vervaardigers en diensverskaffers sal gevolglik alle moontlike pogings moet aanwend om die mees mededingende insetpryse vir hul besighede te beding en die pryse van hul produkte so goed as moontlik te bestuur in die lig van die risiko’s wat dit mag inhou.

Doeltreffendheid

Die tweede belangrike drywer wat ‘n groot invloed op die winsgewendheid van enige onderneming het, is die doeltreffendheid waarmee die insette wat in die produksie-, vervaardigings- of diensverskaffingsproses gebruik word, omgeskakel kan word in spesifieke uitsette. Dit verwys spesifiek na die hoeveelheid insette wat benodig word om een eenheid van ‘n uitset te lewer.

In ‘n beesvoerkraal sal die doeltreffendheid van produksie byvoorbeed direk deur die hoeveelheid kilogram van ‘n gebalanseerde rantsoen bepaal word wat gebruik word om een kilogram vleis te produseer. Die algemene norm in die bedryf is dat ongeveer 7 kilogram van ‘n rantsoen nodig is om een kilogram vleis te produseer. Indien ‘n sekere voerkraal byvoorbeeld 8 tot 9 kilogram van die rantsoen nodig het om ‘n kilogram beesvleis te produseer, sal daar iewers ‘n probleem wees wat baie nadelig vir die voerkrale se winsgewendheid sal wees.

Die rede vir die probleem, afgesien van moontlike siektes of ander probleme wat die diere mag ondervind, kan tweeledig wees, naamlik die rantsoen bevat moontlik nie die regte tipe en hoeveelheid voedingstowwe nie of is dalk nie reg saamgestel nie, of die tegnologie, dit wil sê die genetiese potensiaal van die beeste, is nie in staat om die vereiste omskakeling van die rantsoen na beesvleis te lewer nie. Hierdie probleme moet dan bestudeer en opgelos word deur die regte gebalanseerde rantsoen te gebruik en byvoorbeeld net beeste wat aan die vereiste voeromsetting voldoen, in die voerkraal te voer om sodoende die doeltreffendheid en dus die winsgewendheid van die produksieproses te verbeter. Dit handel spesifiek oor die hoeveelheid en kwaliteit van die insette wat met die regte tegnologie na ‘n gegewe hoeveelheid en kwaliteit van die uitsette om te skakel.

‘n Goudmyn se doeltreffendheid sal weer bepaal word deur die hoeveelheid gouderts en die beste tegnologie wat benodig word om 1 kilogram goud te vervaardig, terwyl die doeltreffendheid van ‘n steenkoolkragsentrale deur die hoeveelheid steenkool en die beste tegnologie wat benodig word om 1 kilowatt elektrisiteit op te wek, bepaal sal word.

Dieselfde ondersoek na die vervaardiging van bio-etanol uit mielies wat in 2005 gedoen is, het byvoorbeeld getoon dat ongeveer 180 liter bio-etanol uit 1 ton mielies vervaardig kan word. Daarna is mieliekultivars deur middel van genetiese modifisering ontwikkel wat ‘n hoër persentasie fermenteerbare stysel bevat het en die doeltreffendheid van die fermentasieproses aansienlik verhoog het sodat daar vandag tot soveel as 220 liter bio-etanol uit 1 ton mielies vervaardig kan word. Die ontwikkeling van nuwe ensieme het die vervaardiging van bio-etanol teen laer temperature in die kookproses moontlik gemaak waardeur baie energie bespaar kon word. Hierdie nuwe tegnologiese ontwikkeling met die nuwe kultivars en die nuwe ensieme het die doeltreffendheid en die winsgewendheid van die vervaardigingsproses aansienlik verbeter.

Enige vermindering of verswakking in die hoeveelheid en kwaliteit van die grondstowwe wat in die produksie- en vervaardigingsprosesse ondervind sou word, sal die winsgewendheid van die onderneming aansienlik benadeel. Hierdie verbetering was ‘n duidelike bewys dat die doeltreffendheid van ‘n produksie- of vervaardigingsproses aansienlik verhoog kan word deur volgehoue navorsing oor nuwe tegnologiese ontwikkelings om sodoende die produsente en verwerkers in staat te stel om meer produkte met dieselfde hoeveelheid insette of dieselfde hoeveelheid produkte met minder insette te kan lewer.

Gevolgtrekkings

Die vraag is dus wat moet die regering doen om groter ekonomiese groei te skep.

Die antwoord is duidelik: Hy moet alles in sy vermoë doen om die winsgewendheid van die ekonomie te verhoog deur die inset/uitset-prysverhouding en die doeltreffendheid van die verskillende bedrywe en sektore sover as moontlik te verbeter. Eerder as om dit te beperk en te vernietig deur sy huidige sosiaal-maatskaplike en kommunistiese wetgewing soos onder meer die steeds toenemende belastinglas, swart ekonomiese bemagtiging en gelyke indiensneming, arbeidswetgewing en minimum lone, korrupsie asook belasting op brandstof en ander indirekte belastings.

Dieselfde geld ook vir die voorgenome hersiening en wysiging van die wetgewing wat die ANC-regering ná 1994 ingestel het deur die wetgewende paneel wat onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe aangestel is om vas te stel of hierdie wetgewing werklik die doelwitte bereik het. Daar word spesifiek gekyk na wetgewing rakende armoede, werkloosheid en ongelykheid; die skep van gelyke verdeling van rykdom, restitusie en die herverdeling van grond; die sekerheid van verblyfreg, asook nasiebou en versoening.

Hierdie stap sal ongetwyfeld die ekonomie en vooruitgang van die land baie ernstig benadeel en sal in werklikheid ‘n ekonomiese selfvernietigende proses wees. Feitlik nie een van hierdie doelwitte is enigsins haalbaar as die ekonomie nie op ‘n volhoubare grondslag sterk groei nie en dit kan op sigself geen ekonomiese groei skep nie. Die kanse is eerder baie goed dat die wysiging van hierdie wette Suid-Afrika in ‘n onderontwikkelde land soos in die res van Afrika sal laat verval, waarin minstens 85% van die inwoners van die landbou afhanklik raak en waar armoede, hongersnood en algemene agteruitgang baie groter afmetings sal aanneem wat nooit weer herstel of omgekeer sal kan word nie.

As die hersiening van hierdie wetgewing maar eerder daarop ingestel was om die ekonomie te bevry van die regering se vernietigende politieke inmenging wat geen ekonomiese groei en welvaart kan skep nie, sou dit almal in die land kon bevoordeel het. In die lig van die dreigende of selfs onvermydelike afgradering van Suid-Afrika se kredietgradering kon so ‘n stap ‘n uitstekende moontlikheid gebied het om afgraderings te vermy.

Die groot staatsman van die vorige eeu Winston Churchill het by geleentheid die volgende oor sosialisme gesê: "Socialism is a philosophy of failure, the creed of ignorance, and the gospel of envy, its inherent virtue is the equal sharing of misery.”

‘n Meer onlangse eerste minister van Brittanje, Margaret Thatcher, het jare gelede al gesê "the problem with socialism is that it eventually runs out of other people's money".

Is dit nie presies wat die afgelope jare besig is om in Suid-Afrika te gebeur nie en dat dit baie duidelik is dat hierdie tendens nie gestuit gaan word nie?

As die regering enigsins ekonomiese groei in die land wil verbeter, sal hy eerder bereid moet wees om die winsgewendheidsvlakke van al die verskillende bedrywe in die drie hoofsektore van die ekonomie te verbeter deur die probleme wat verhoed dat hulle ‘n winsgewende en volhoubare bydrae tot die totale ekonomiese groei van die land kan lewer, daadwerklik te takel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!