SA-beesuitvoere: TB-toetse afgeskaf
SA-beesuitvoere: TB-toetse afgeskaf

SA-beesuitvoere: TB-toetse afgeskaf

Dis nie duidelik of Suid-Afrika Namibië se TB-vrye status aanvaar nie; dog het die land skynbaar ingestem dat beeste voorts sonder toetse ingevoer mag word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Dr. Milton Maseke, die direktoraat veeartsenydienste (DVS) se hoof-veeartsenybeampte, het gister die versekering gegee dat Namibiese speenkalfboere voorts hul diere na goedgekeurde Suid-Afrikaanse­ abattoirs en voerkrale­ sal kan uitvoer sonder om enige tuberkulose (TB)-toetse te doen.

Ander uitvoervereistes of standaard operasionele prosedures (SOP) geld egter steeds.

Die versekering volg nadat verwarring in landboukringe geheers het oor ''n mediaverklaring wat vroeër die dag uitgereik is waarvolgens die ministerie van landbou, water en bosbou onlangs tot ''n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse departement van landbou, water en visserye (DAFF) se veterinêre-owerheid kon kom dat beeste nie meer binne 30 dae voor dit uitgevoer word, teen TB getoets hoef te word nie.

Volgens gerugte was die verklaring op ''n misverstand gegrond en het die twee lande se regerings verskillende interpretasies van die ooreenkoms gehandhaaf.

Maseke het egter gesê die misverstand behels “''n klein tegniese kwessie” oor die buurland se aanvaarding van Namibië se TB-vrye status. “Ons hanteer dit en dit sal nie aan die feit verander dat speenkalfboere voorts hul individuele vee sonder TB-toetse kan uitvoer nie. Die Suid-Afrikaanse regering het dit so bevestig en die mediaverklaring kan, tot verdere kennisgewing, as korrek aanvaar word,” het Maseke aan Republikein gesê.

Die Lewendehaweprodusente-­organisasie (LPO) se voorsitter, mnr. Piet Gouws, sê die afstel van hierdie toetse beteken die grense is nou oop vir onbelemmerde handel onder SOP-vereistes met goedgekeurde abattoirs en voerkrale, iets waarvoor boere baie dankbaar is. Tog kom dit teen ''n prys vir speenkalfprodusente.

“Die uitvoerkwessie, wat behels het dat hersiene regulasies vir die invoer van vee na Suid-Afrika die plaaslike speenkalfmark bykans tot stilstand gedwing het, het egter ''n enorme ekonomiese impak op speenkalfprodusente gehad. Sommige sê hulle het verliese van N$400 000 tot N$500 000 gely,” het hy gister aan Republikein gesê.

“Ons verstaan die aantal toetse wat tot dusver gedoen is, het bewys Namibiese speenkalwers hou geen TB-risiko in nie. Dit is egter jammer dat ons jarelange goeie rekord in verband hiermee nie genoeg gewig tydens onderhandelinge gedra het nie.

“Die vraag kan tereg gevra word of Suid-Afrika eerlik was toe hulle die dieregesondheidstatus as rede aangevoer het en of dit nie wel ''n ekonomiese oorweging was nie?

“Dit is ook jammer dat speenkalfprodusente bykans finansieel geruïneer is voor hierdie verwikkelinge plaasgevind het. Het die verantwoordelike regeringsinstansie die Namibiese produsent, kommunaal en kommersieel, se saak sterk genoeg gedryf met die volle besef van die implikasie van hierdie beperkinge?” het Gouws gevra.



BRING VERLIGTING

Die Vleisraad meen die afskaffing van die toetse bring verligting.

Die hoofbestuurder, mnr. Paul Strydom, het gister gesê hulle is opgewonde oor die nuwe wending.

“Eerstens bring dit verligting ten opsigte van vee se welsyn, want die toetse het vereis dat hulle baie gewerk en hanteer moes word, wat stresvol is. Tweedens help dit om koste te verminder,” het hy gesê.

Altesaam 18 abattoirs en voerkrale het tot dusver goedkeuring verkry en dit sluit onder meer in Mae West Feedlot, Braams Feedlot, Morgan Beef Feedlot, Cartol Abattoir, GWK Feedlot & Abattoir, Muller en Vermaas Feedlot, Mushlendow Feedlot, Karan Beef, asook Sparta.

Dit volg nadat hersiene regulasies­ vir die invoer van vee na Suid-Afrika­op 1 Julie in werking getree het en die Namibiese speenkalfmark­ bykans tot stilstand gedwing het. Daarna is ''n ooreenkoms in September vanjaar met DAFF bereik waarvolgens vee onder SO-prosedures na sekere goedgekeurde abattoirs en voerkrale in Suid-Afrika uitgevoer kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!