SA-begroting 2018 nié uitgestel, maar onsekerheid heers
Elvira Wood - Daar heers ’n Babelse verwarring onder ekonome oor die Suid-Afrikaanse begroting vir 2018.
“Ek kan nie sien hoe die minister van finansies op 21 Februarie die begroting gaan lewer as daar nie ’n staatsrede (Sona) was nie,” sê Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group.
Vrae oor óf die begrotingsrede inderdaad op 21 Februarie gelewer gaan word, word gevra nadat Baleke Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, Dinsdag aangekondig het die staatsrede is tot verdere kennisgewing uitgestel.
Mbete het ná haar aankondiging gesê die begroting sal nie uitgestel word nie.
“Die geskeduleerde voorlegging van die nasionale begroting oor twee weke is in ag geneem toe daar besluit is om die staatsrede uit te stel en ons doen alles in ons vermoë om te verseker die begroting word geensins ontwrig of uitgestel nie,” het sy aan verslaggewers gesê.
Sy het dit egter gesê voordat Pule Mabe, ANC-woordvoerder, laat Dinsdagaand bevestig het ’n vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee, wat vir Woensdag geskeduleer was, is tot 17 Februarie uitgestel.
“Die hele saga om Sona uit te stel reflekteer baie sleg op adj. pres. Cyril Ramaphosa,” sê Roodt.
“Dit lyk nie of hy enigsins in beheer van sake is nie. Dit lyk nie of ons enigsins ’n regering het nie. Daar moet ’n sekere aanloop tot en konteks wees waarbinne die begrotingsrede gelewer word.
“Jy kan nie net die ding lees nie,” sê hy.
Roodt verduidelik dat die begroting ’n wet is en dit nie net weer verander kan word nie.
Hy sê ook dat as die begroting gelewer word sonder dat die prosesse gevolg is, daar vrae gevra kan word oor wie se begroting dit nou eindelik is – die van pres. Jacob Zuma of Ramaphosa.
“Die begroting verskaf sekuriteit aan markte.
“Hoekom markte nog nie op die nuus gereageer het nie, gaan my en ander ekonome se verstand te bowe,” sê hy.
Die rand het oornag met bykans 1,4% tot R11,95 teenoor die dollar versterk.
Die JSE se indeks van alle aandele het Dinsdag wel bykans 1,3% laer op 56 377,2 punte gesluit, maar ander wêreldmarkte het ook laer verhandel.
Roodt sê daar is reeds verlede week vrae gevra toe die Openbare Beleggingskorporasie aangekondig het dat die staatspensioenfonds ’n oorbruggingslening van R5 miljard aan Eskom gaan verskaf.
Die besluit is na bewering deur die raad van trustees van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) en die OBK se direksie geneem.
“Is dit in die begroting?” vra Roodt.
Peter Leon, vennoot by Herbert Smith Freehills, het Dinsdag op die kantlyn van die Mynbou-indaba wat in Kaapstad gehou word gesê daar is tegnies geen rede hoekom die begroting ook uitgestel moet word nie.
“Die begroting is waarskynlik klaar gefinaliseer.”
’n Woordvoerder vir die tesourie het Woensdagoggend per e-pos aan Netwerk24 bevestig so ver hulle weet gaan die begrotingsrede steeds op 21 Februarie gelewer word. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie