• Tuisblad
  • Sake
  • SA drink meer wyn as koffie, maar bier is bobaas

SA drink meer wyn as koffie, maar bier is bobaas

Hanlie Stadler – Suid-Afrikaners bestee meer aan bier as aan enige ander vloeibare verversing – alkoholies én nie-alkoholies.

Om die waarheid te sê, hulle bestee gemiddeld drie keer meer aan bier as aan die tweede gewildste drinkgoed, wat gaskoeldrank is. (Sien ook grafika's hiernaas.)

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) bestee Suid-Afrikaners gemiddeld 35,6% van hul drankbegroting aan bier en 13,3% aan gaskoeldrank.

Suid-Afrikaners is ewe lief vir koffie as vir tee, blyk uit die syfers: Albei verteenwoordig 5,6% van die gemiddelde drankbegroting.

Dié syfers beteken beslis nie Suid-Afrikaners bestee 35,6% van hul hele begroting aan bier nie – dis slegs die persentasie van hul besteding aan drank. Bier verteenwoordig slegs 2,14% van ’n gemiddelde Suid-Afrikaner se totale besteding.

As dit by wyn kom, lyk dit asof rooiwyn effens gewilder is onder Suid-Afrikaners. Nagenoeg 3,9% van drankbesteding is aan rooiwyn en 3,2% aan witwyn vir die totale persentasie van net minder as 7,2% (afronding is ter sprake).

En hier is die grootste raaisel: Wes-Kapenaars betaal die heel meeste vir wyn, selfs al word die meeste wyn in dié provinsie vervaardig en al hoef dit nie ver vervoer te word winkel toe nie. Om die waarheid te sê, wyn is die goedkoopste in Limpopo, die provinsie die verste van die wynhartland.

In die Wes-Kaap kos ’n gemiddelde bottel rooiwyn ’n hele R88,50 - ’n hele R24,12 méér as die nasionale gemiddelde van R64,83 en R37,73 duurder as in die provinsie waar wyn die goedkoopste is, Limpopo.

SSA sinspeel daarop dat noordelike provinsies dalk minder kieskeurig is oor watter wyn hulle koop.

Inflasie van drinkgoed

Rooibostee kos nou ’n allemintige 17,9% duurder as ’n jaar gelede. Dít teenoor gemiddelde inflasie van net 4,4%. Dis die grootste styging van enige vloeistof wat SSA meet en word toegeskryf aan die jare lange droogte in die Cederberg-omgewing, waar die meeste van die land se rooibostee verbou word.

Gaskoeldrank het 12,4% per bottel of 9,4% per blikkie duurder geword, wat toegeskryf kan word aan die suikerbelasting wat in 2018 in werking getree het.

Kitskoffie is die enigste drinkding wat nou goedkoper is as ’n jaar gelede, hoewel net met 0,3%. Koffiebone (gemaal of heel) het wel duurder geword, hoewel net met 2,8%.

5 gewildste drinkgoed

1. Bier

2. Gaskoeldrank

3. Alkoholiese vrugtedrankies

4. Wyn

5. Whisky – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!