SA Ekonomie: Alles hang af van beurtkrag, beleid

Huishoudings in die buurland het hul besteding in die tweede kwartaal met 2,8% verhoog.
Nellie Brand-Jonker – ’n Resessie is vermy in die tweede kwartaal nadat die land se ekonomie met 3,1% gegroei het, maar ekonome waarsku om dit vol te hou is beleidsekerheid nodig en daar moenie weer beurtkrag kom nie.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die beter as verwagte BBP-syfers is goeie nuus vir die ekonomie want dit bevestig ten minste Suid-Afrika het ’n “tegniese resessie” vermy - dis wanneer daar twee agtereenvolgende kwartale van ’n inkrimping is.

Die groei is beter as verwag want ekonome het in ’n peiling van Bloomberg geglo dit gaan sowat 2,5% wees.

Die groei volg op die inkrimping van 3,2% in die eerste kwartaal van die jaar nadat erge beurtkrag beleef is. Dit was die ergste inkrimping in een kwartaal sedert 2009.

Die groei in die tweede kwartaal is die sterkste sedert die vierde kwartaal van 2017.

Huishoudings eet nie uit nie

Die besteding in die ekonomie word ook gemeet en toon huishoudings het hul besteding in die tweede kwartaal met 2,8% verhoog.

Dit is grootliks vanweë die besteding op kos en drinkgoed.

“Huishoudings het hul besteding op uiteet en akkommodasie ingeperk. Die besteding op restaurante en hotelle het met 3,8% verminder,” het Statistieke Suid-Afrika in ’n verklaring gesê.

Die tweede kwartaal se syfer word vergelyk met die eerste kwartaal se lae groei wat veroorsaak is deur die “eenmalige hoogs ontwrigtende impak van beurtkrag”, sê Parsons.

“Daar bestaan geen rede vir selfvoldaanheid oor hoe die ekonomiese groei vir die volle jaar gaan lyk nie gegewe die kwesbare plekke in die ekonomie,” het Parsons gesê.

Hy meen die ekonomie gaan onwaarskynlik vanjaar beter as 0,6% groei.

“Dit is heeltemal te laag om die land se sosio-ekonomiese kopsere op te los. Dit beklemtoon die behoefte aan die dringende implementering van hervorming wat groei bevorder – vroeër eerder as later.

“Om die verbetering in die ekonomie volhoubaar te maak en vinniger te laat groei, is meer beleidsekerheid nodig om beleggersvertroue en werkskepping te verseker.”

Hy meen een manier om dit reg te kry is met die nasionale tesourie se groeistrategie wat verlede week uitgereik, maar dit benodig wye steun.

Nicky Weimar, Johannes Khosa en Dennis Dykes, ekonome van Nedbank, sê die einde van beurtkrag het ’n groot verskil gemaak en het steun gebied aan die normalisering van produksie in die mynbou- en vervaardigingsektore.

Hulle maan egter daar is nie werklike bewyse van enige betekenisvolle opwaartse momentum in enige van die groot sektore nie.

“Die land bly kwesbaar vir enige ontwrigting in kragverskaffing, ’n afswaai in die internasionale sakesiklus, plaaslike kostedruk en brose verbruikersvertroue.

“Die vooruitskatting vir die res van 2019 lyk gedemp. Matige groei word vir die tweede helfte voorspel mits die land nie weer beurtkrag kry einde van die jaar wanneer Eskom sy instandhouding in die somermaande versnel nie.”

Ook Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê die groei in BBP in die tweede kwartaal hou meer verband met die lae basis in die eerste kwartaal en die stabilisering van kragvoorsiening in die tweede kwartaal as wat dit dui op ’n “volhoubare omkeer in ekonomiese aktiwiteit”.

Hodes sê sentiment en vaste belegging deur die private sektor en derhalwe ekonomiese groei, kan net gelig word as die regering dit baie makliker maak om sake te doen in Suid-Afrika terwyl die versnelde implementering van belangrike hervorming noodsaaklik is.

Mynbou groei sterk

Die sterkste groei het van die mynbedryf gekom met 14,4% in teenstelling met die inkrimping van -10,8% in die eerste kwartaal.

Die groei van die mynsektor het een persentasiepunt tot die groei in BBP bygedra.

Dit was die sterkste vertoning deur die mynboubedryf in drie jaar sedert die tweede kwartaal van 2016 toe dit met 16% gespring het, volgens Statistieke Suid-Afrika. Die produksie van ystererts, mangaan en steenkool het die sterkste bydraes hiertoe gelewer.

Die finansiële sektor het met 4,1% gegroei danksy ’n sterker vertoning van die bank- en versekeringsektor.

Stewige verkope van groothandel, die kleinhandel en motorbedryf het die handelsbedryf met 3,9% gelig.

Die staatsdiens het sy grootste uitbreiding sedert die tweede kwartaal van 2014 beleef. Volgens Statistieke Suid-Afrika is dié groei gestut deur ’n toename in indiensname tydens die nasionale verkiesing in Mei.

Die landbou-, konstruksie- en vervoersektor het gekrimp.

Die inkrimping in die landbousektor is weens laer oeste.

Nedbank se ekonome verwag landbou gaan in die tweede helfte van die jaar beter vaar omdat die verbod op die uitvoer van vleis gelig is en wintergewasse herstel het ná beter as verwagte reënval.

Die konstruksiebedryf bly in ’n resessie en het vir die vierde kwartaal agtereenvolgens ingekrimp. Die sektor beleef al sedert die eerste kwartaal van 2017 wisselvallige groei en het vir nege van die afgelope tien maande ingekrimp. Die tweede kwartaal se inkrimping is deur Statistieke Suid-Afrika toegeskryf aan aktiwiteit wat afgeneem het in die bou van nie-residensiële geboue en konstruksiewerke.

Aan die bestedingskant van die ekonomie het vaste kapitale besteding in die ekonomie met 6% gestyg vergeleke met ’n inkrimping van 4%. Dit het 1,1 persentasiepunte tot die BBP-groei bygedra.

Dit is die eerste styging in vaste kapitale besteding sedert die vierde kwartaal van 2017.

Die syfer sluit in die vaste investering van die private sektor wat met 15% gespring en 10 persentasiepunte tot die styging in kapitale besteding bygedra het.

Nedbank sê dit is ondanks beleidsonsekerheid, kommer oor internasionale groei en kragtekorte wat steeds sakevertroue aftrek.

Daarteenoor het die vaste investering deur die staat met 17% gedaal. Nedbank se ekonome sê dit is nie verrassend nie gegewe die begrotingsbeperkinge. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!