SA en Namibië buig knie voor Zim

Skouspring
Zimbabwe se jeugdige springruiters het onlangs op Otjiwarongo kleingeld van hul Namibiese en Suid-Afrikaanse mededingers gemaak toe die tweede been van die Afrika-skildkompetisie daar aangebied is.

Die byeenkoms was spesifiek op jong ruiters gemik om hulle te ontwikkel met die geleentheid om op hoogtes van 80 cm op internasionale vlak deel te neem.

Soos die gebruik met perdesport is, moes die besoekers op perde kompeteer wat deur plaaslike lede van die Namibiese Skouspring- en Ruiterkunsvereniging verskaf is.

Namibië het goed in die dresseer-afdeling begin toe Nina Cerezo op Buellsport Roaxanne met ’n skamele 33 strafpunte die pas vir die eerste van drie dissiplines aangegee het. Cerezo se spanmaat, Marlene Reisenauer met Seeis Miss Caprivi, was net een punt agter haar.

Die Suid-Afrikaner Beth Coxon-Gilliat op die rug van Callaho Abraham en die Zimbabwiese ryer Carry Day met Two Boy het ook beide op 34 punte geëindig. Laura Jakob op Buellsport Lord was die derde Namibiër in die voorste vier met 35.

In die landloop-afdeling (crosscountry) is die Namibiërs behoorlik uit die saal gelig. Cerezo het van haar perd afgeval het en Reisenauer se ros het by dieselfde hindernis drie keer geweer om te spring en so is beide Namibiërs gediskwalifiseer.

Jayd Bassi Hanssen op Assegai Scandal het 40 strafpunte in die dresseer op die lyf geloop en dit met ’n verdere 21 in die landloop aangevul. Slegs Jakob en Buellsport Lord het vir Namibië ’n skoon ronde behaal.

Suid-Afrika het op hul geleende perde nog swakker as Namibië gevaar. Sue Sadler (Muleb), Jamie Behrens (Buellsport Sitatunga) en Amy Coxon-Gilliat (Zambesi) kon ook nie die baan baasraak nie. Beth Coxon-Gilliat met Callaho Abraham was die ster met net een strafpunt wat teen haar aangeteken is.

Dit was die jong Zimbabwiese ruiters onder die ervare leiding van Celeste Wright wat in dié item die bordjies verhang het. Beide Carrie Day op Two Boy en Erin Johnson met Kiara het ’n skoon ronde behaal, met Holly Morris met Ceyenne teen wie 13 strafpunte aangeteken is. Zoe Day op Claratal Avanti het die verkeerde roete ingeslaan en is ook gediskwalifiseer.

Skouspring was die derde dissipline waar die meeste van die spanne goed gevaar het, maar dit was Zimbabwe wat opnuut die toon aangegee het. Namibië en Suid-Afrika kon nie die Zimbabwiese springers met punte inhaal nie en die oostelike buurland wen die afdeling met 1 159 punte, terwyl Namibië en Suid-Afrika onderskeidelik 2167 en 3154 aanteken.

Die algehele individuele wenner van Zimbabwe, Carrie Day met Two Boy, het met 34 punte koning gekraai, terwyl Suid-Afrika se Beth Coxon-Gilliath met Callaho Abraham op 35 tweede geëindig het. Erin Johnson (Zimbabwe) op Kiara was derde met 36.

Die voorste Namibiese ruiter op Otjiwarongo was Laura Jakob op Buellsport Lord.

Die derde byeenkoms van die Afrika-skildkompetisie sal later vanjaar deur Suid-Afrika aangebied word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!