SA familie is klaar met Isis – nou wil hulle huis toe
Integrasie van terugkerendes sal in samewerking met Moslem-owerhede in die land moet geskied, sê 'n kenner.
Erika Gibson
'n Suid-Afrikaanse familie van sewe sit in vrees in 'n vlugtelingekamp in Jordanië vasgekeer. Hulle hoop Suid-Afrika sal hulle terugneem nadat hulle hulle vroeër by die terreurgroep Isis in Irak aangesluit het, het Cage, 'n drukgroep vir die regte van aangehoudenes, die afgelope week gesê.
Dié familie, en ander wat nou spyt is oor hul besluit om die land te verlaat, kan die Suid-Afrikaanse regering in 'n netelige posisie plaas.
Maar Saad Kindeel, die Irakse ambassadeur in Suid-Afrika, sê die regering moet bitter versigtig wees voordat hy sulke Isis-vegters toelaat om terug te keer.
Burgers van sowat 100 lande wat hulle by Isis aangesluit het, probeer nou na hul eie lande terugkeer nadat Irakse regeringsmagte Isis in Junie in Mosoel verslaan het. Nou maak die Irakiërs jag op vlugtende terroriste.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het vroeër gesê Kindeel het geen mandaat om vir die Suid-Afrikaanse regering opdrag te gee oor hoe hy met sy burgers moet handel nie. Maar Kindeel sê hy is bekommerd oor veiligheidskwessies weens die vloei van terroriste tussen Irak en Suid-Afrika.
Bewyse
Alwyn Griebenow, 'n prokureur wat 'n groep Suid-Afrikaners verteenwoordig het wat in 2004 'n staatsgreep in Ekwatoriaal-Guinee wou gaan uitvoer, meen Isis-lede sal moeilik in Suid-Afrika vervolg kan word. “Daar sal heel waarskynlik nié teen hulle opgetree kan word nie, want daar sal nie genoegsame bewyse wees dat hulle wel aan gevegte deelgeneem het nie. Die intelligensiedienste sal sekerlik 'n oog oor hulle hou, maar dis omtrent al.”
Karen Jayes van Cage wil weens hul “weerlose situasie” nie die familie van sewe se identiteit bekend maak nie, maar dit is bekend dat die sewe 'n baba insluit.
Verlede jaar het die Moosagie-egpaar van Port Elizabeth die Suid-Afrikaanse ambassade in Turkye om hulp genader nadat een van hul seuns in 'n skietgeveg tussen Isis en Irakse regeringsmagte gewond is.
Voordat hy gewond is, het dié seun, Muhammad Eesa, in die sosiale media gespog dat hy ongelowiges (infidels) onthoof het.
Volgens Jayes moet die Suid-Afrikaanse veiligheidsowerheid versoeke om terug te keer objektief oorweeg en gemeenskappe aanmoedig om die terugkerendes toe te laat om 'n vreedsame lewe hier te lei.
Dr. Ahmed Haroon Jazbhay van Media Review Network, 'n Moslem-drukgroep, sê dit is hartseer dat soveel mense deur Isis se propaganda om die bos gelei is. In die meeste gevalle is hulle wreed deur die werklikheid ontnugter. “Daar is wel van hulle wat in die geheel geradikaliseer is, maar ander het die lig gesien. Hulle begryp dat hulle verkeerd was.”
Volgens hom sal die integrasie van die terugkerendes in samewerking met Moslem-owerhede in die land moet geskied. “Verwerping kan tot verdere radikalisering lei,” het Jazbhay gesê. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie