• Tuisblad
  • Sake
  • SA firma koop enorme winkelsentrum in Bulgarye

SA firma koop enorme winkelsentrum in Bulgarye

'n Suid-Afrikaanse onderneming sê die groei in BBP is een van Bulgarye se trekpleisters.
Balkan Retail, 'n filiaal van Hystead, wat gesamentlik deur die winkelsentrumgroep Hyprop en PDI Investments besit word, het ál die aandele in die Bulgaarse maatskappy AP Retail vir €156 miljoen verkry.

Dié maatskappy besit The Mall, 'n winkelsentrum in Sofia, die hoofstad van Bulgarye.

Dit is Hystead se vierde eiendomsverkryging in Suidoos-Europa, wat sy portefeulje se batewaarde tot ongeveer €460 miljoen opstoot.

Dié winkelsentrum is die oorheersende kleinhandeleiendom in Sofia en het 'n bruto verhuringsruimte van sowat 52 000 m² met 200 huurders, insluitende Zara, H&M, Mango en Deichmann.

Die sentrum is strategies geleë in die oostelike deel van Sofia aan Tsarigradsko­ Shose, die besigste boulevard­ in die stad.

Die omliggende omgewing het ver­skeie toringkantoorgeboue en residensiële komplekse.

“Hierdie verkryging strook met ons oogmerk om 'n winkelsentrumportefeulje van goeie gehalte in Suidoos-Europa te besit.

“Dié winkelsentrum voldoen aan ál ons vereistes ten opsigte van die gehalte daarvan, die huurdermengsel, die ligging in 'n hoofstad, asook die oorheersing in die mark waarin hy bedrywig is,” sê Pieter Prinsloo, uitvoerende hoof van Hyprop.

Vir Hystead is een van die trekpleisters van Bulgarye die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) wat 3,6% in 2015 was, 3,3% in 2016 en vir 2017 'n verwagte 2,8%.

Die verkryging is Hystead se eerste tree in 'n Europese land, wat die oorhoofse gehalte van die fonds 'n positiewe hupstoot gaan gee.

“Ons doelwit is om Hystead later te dubbelnoteer en glo dat dié verkryging die portefeulje van beduidende kritieke massa sal voorsien,” sê Prinsloo.

Hyprop se Suidoos-Europa-­strategie is om oorheersende sentrums deur Hystead te verkry. Hyprop het 'n belang van 60% in Hystead, en PDI, 'n maatskappy wat deur Louis Norval verteenwoordig word, het 40%.

Hystead besit nou vier eiendomme in Suidoos-Europa, naamlik Delta City Podgorica in Montenegro, Delta City Belgrado in Serwië, Skopje City Mall in Macedonië en The Mall in Sofia in Bulgarye. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!