SA firma ontgin helium vir VSA
SA firma ontgin helium vir VSA

SA firma ontgin helium vir VSA

Liesl Peyper – Suid-Afrikaanse helium uit die omgewing van Virginia, Theunissen en Welkom kan gou gebruik word om vuurpyle in Amerika te lanseer.

Die energiemaatskappy Renergen het in die afgelope week ’n lening van $40 miljoen (meer as R600 miljoen) bekom van die Amerikaanse staatsagentskap Overseas Private Investment Corporation (Opic).

Daarmee sal hy ’n pypleiding kan aanlê om skagte te verbind wat vir die ontginning van die gas gegrawe is.

Renergen sal ook ’n aanleg oprig om die aardgas wat ontgin is, in metaan en helium te skei.

Daar is wêreldwyd ’n groot tekort aan helium, ’n edelgas. Dit is ’n noodsaaklike komponent vir ’n verskeidenheid toerusting, byvoorbeeld mediese skanderingsmasjiene, selfone, rekenaars en mikroskyfies.

Dit word ook gebruik vir die lansering van vuurpyle.

Stefano Marani, uitvoerende hoof van Renergen, sê die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa moes verlede jaar die lansering van ’n vuurpyl na die son met twee weke uitstel omdat daar nie toe helium beskikbaar was nie.

Daar is tans kopers in die mark wat bereid is om R2 600 vir ’n kilogram helium te betaal, sê Marani.

Hoeveel gas is daar?

Rapport het in 2016 berig dat voorlopige verslae daarop gedui het dat groot hoeveelhede gas in die omgewing van Virginia, Theunissen en Welkom lê. Renergen het tot dusver 12 skagte daar gesink.

Ongeveer 4,7 miljoen kilogram helium is beslis beskikbaar, maar die waarskynlike hoeveelheid word op ongeveer 28 miljoen kilogram geraam.

“Maar dan moet die helium aan sekere voorwaardes voldoen: Dit moet in vloeibare vorm wees, laboratorium-gegradeer wees (99,9% suiwer) en in ’n spesiale houer wees vir die vervoer daarvan.”

Die maatskappy reken hy kan binne twee jaar helium begin uitvoer.

“Die aanlê van die pypleiding sal nie soseer baie lank duur nie, maar die konstruksie van die toerusting vir die skeiding van die gas sal langer neem omdat dit oorsee gedoen moet word,” sê Marani.

Die boerderygemeenskap was aanvanklik heftig gekant teen die ontginning van gas in die gebied uit vrees dat dit ’n negatiewe uitwerking op produktiewe landbougrond sou hê.

Die geskille is intussen bygelê, sê Marani.

“Ons het ’n inklusiewe verhouding met boere in die omgewing en hulle weet presies wat ons beoog.

“Die skagte wat ons sink, laat ’n geringe voetspoor en beslaan vyf meter by vyf meter. Boonop beperk ons ons bedrywighede tot onproduktiewe landbougrond waarop daar nie gesaaides is nie.”

Die gasontginning wat Renergen sal doen, behels die boor van vlak skagte om gas na die oppervlak te bring. Dit is ’n gans ander proses as die omstrede hidrobreking (fracking) wat in die Karoo beoog word om aardgas te ontgin, sê Marani.

“Ons gebruik ook nie water vir die ontginningsproses soos met hidrouliese breking nie.”

Die lening van Opid strek oor ’n tydperk van 12 jaar en word teen ’n baie gunstige rentekoers toegestaan wat gegrond is op die opbrengskoers van Amerikaanse staatseffekte.

Renergen is op die JSE sowel as die Australiese aandelebeurs genoteer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!