SA firmas ver agter met planne oor klimaat
SA firmas ver agter met planne oor klimaat

SA firmas ver agter met planne oor klimaat

Francois Williams



Die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) het Maandag die vyfde keer 'n verslag oor 15 JSE-genoteerde maatskappye (insluitend Eskom) se blootstelling aan en reaksie op die risiko's van klimaatsverandering uitgereik.

Uit die 15 maatskappye het tien klimaatsverandering as 'n wesenlike sakerisiko geïdentifiseer, maar slegs drie (African Rainbow Minerals, Anglo American en South32) het die korttermyn-, mediumtermyn- en langtermynimpak daarvan op hul ­sakebedrywighede, strategieë en finansiële beplanning uitgespel.

Net agt van die 15 maatskappye het teikens om hul kweekhuisgasvrystelling te verminder.

ArcelorMittal SA, Eskom, PPC, Sappi, Absa, Investec en Standard Bank het nog nie teikens vir laer kweekhuisgasse gepubliseer nie, volgens die CER se verslag.

Verder het net een van die banke, Nedbank, sy kredietblootstelling aan koolstofverwante bates openbaar gemaak, en net twee banke, Nedbank en Standard Bank, het 'n gedeeltelike beleid oor die finan­siering van steenkoolmyne en steenkoolkragstasies.

Die CER het tien van die grootste vrystellers van kweekhuisgasse in Suid-Afrika gekies vir sy studie, asook die vyf groot banke:

• African Rainbow Minerals

• ArcelorMittal SA

• Anglo American

• Eskom

• Exxaro Resources

• Goldfields

• PPC

• Sappi

• Sasol

• South32

Banke:

• Absa

• FirstRand

• Standard Bank

• Nedbank

• Investec

Volgens die CER se ontleding is Eskom die grootste enkele vry­steller van kweekhuisgasse in Suid-Afrika. Sy vrystelling van 205,5 miljoen ton koolsuurgas per jaar verteenwoordig 'n geraamde 39% van die totale kweekhuisgasvrystellings in Suid-Afrika.

Ná Eskom kom Sasol met 71,29 miljoen ton, ArcelorMittal SA met 14,82 miljoen ton, en South32 met 14,43 miljoen ton.

Daiyaan Halim, regsnavorser vir die CER se program vir korporatiewe verantwoordbaarheid en deursigtigheid, sê maatskappye behoort verslag te doen oor hoe hulle hul kweekhuisgasse verlaag, en banke behoort 'n strategie te hê om hul kredietblootstelling aan koolstof-intensiewe bedrywe te verminder.

Al die maatskappye wat bestudeer is, het 'n opsomming gekry van die CER se ontleding, en verskeie van hulle het gereageer met bygewerkte inligting oor hul klimaatrisiko's.

Volgens Halim is dit baie bemoedi­gend om te sien dat sommige maatskappye bereid is om hul ­strategieë te verbeter.

“Maar dit is duidelik dat Suid-­Afrikaanse maatskappye nog 'n lang pad het om te loop.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!