SA: ‘Goeie’ inflasie sal Reserwebank laat klippe kou
Die bank se kwartaallikse projeksiemodel het in Januarie gedui op ’n verlaging in die rentekoers in Maart ná dit in Januarie met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag is.
Hanlie Stadler – Dis ’n “boerpot-vraag” of die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) in Maart die rentekoers gaan verlaag of dit onveranderd gaan hou.
Die onafhanklike ekonoom Elize Kruger sê die scenario is besig om op te bou vir ’n “interessante” MBK-vergadering in Maart. Die MBK vergader van 17 tot 19 Maart en kondig die besluit oor die rentekoers op 19 Maart aan.
Kruger sê die MBK is in ’n penarie waar hy moet kies of ’n potensiële afgradering deur Moody’s Investors Service meer gaan tel as suiwer ekonomiese data.
Dit kom nadat Statistieke Suid-Afrika Woensdag bekend gemaak het inflasie was in Januarie 4,5%, ’n skerp styging van Desember se 4%.
Die Reserwebank se kwartaallikse projeksiemodel het in Januarie gedui op ’n verlaging in die rentekoers in Maart nadat dit in Januarie met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag is.
Faktore wat suggereer dat die rentekoers weer verlaag moet word, is volgens Kruger:
· Inflasie is nou al 14 maande lank op of laer as die middelpunt van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6%, al het dit in Januarie tot 4,5% gestyg.
· Die Reserwebank se verwagting vir 2020-inflasie is waarskynlik te hoog. Dit was in Januarie 4,7%, terwyl Reuters se konsensusvoorspelling 4,4% is. Kruger self voorspel slegs 4,2%.
· Kerninflasie is ook aan die daal en het in Januarie tot 3,7% gedaal – ’n aanduiding dat die Reserwebank se verwagting van ’n gemiddelde 4,3% vir 2020 te hoog is.
· Brandstofpryse gaan na verwagting in Maart daal, die derde opeenvolgende maand dat petrol goedkoper sal word en die tweede maand vir diesel. Laer brandstofpryse het ’n impak op inflasie.
· Ekonomiese groei sal waarskynlik baie traer wees as die Reserwebank se Januarie-voorspelling van 1,2%. Ekonome wat Reuters gepeil het, voorspel 0,8% en Kruger so min as 0,6%.
· Die Reserwebank se huidige voorspelling oor die gemiddelde prys van Brent-ruolie in 2020 is $66,50 per vat, maar dit verhandel tans teen sowat $58 per vat. Dis volgens Kruger nog ’n rede waarom inflasieverwagting verlaag moet word – en dus dalk ook die rentekoers.
“Miskien (hopelik!) sal die besonderhede in die nasionale begroting die waarskynlike uitkoms help sein,” sê Kruger.
Tito Mboweni lewer sy begrotingsrede op 26 Februarie.
Moody’s se besluit oor die land se kredietgradering is vir 27 Maart geskeduleer, maar die agentskap het eintlik reeds gesê hy sal wag tot die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober voordat hy die land afgradeer. Dis omdat die afgradering van die vooruitsig – van stabiel na negatief – verlede jaar nog te onlangs gedoen is.
Moody’s is die laaste van die drie groot kredietgradeerders wat Suid-Afrika nog nie na rommelstatus afgegradeer het nie.
Die Nedbank-ekonome Busisiwe Radebe en Nicky Weimar sê hoewel ’n rentekoersverlaging ’n “moontlikheid” is, verwag hulle dat dit onveranderd gehou sal word vir die res van die jaar. “Ons siening is gegrond op die onsekerheid oor of Moody’s die land se kredietgradering later vanjaar sal afgradeer en wat dit vir die rand en inflasie sal beteken. Ons reken gegewe die onsekerheid daaroor sal die Reserwebank versigtig bly en die koers onveranderd hou.”
Lullu Krugel, PwC Strategy& se hoofekonoom, en dr. Christie Viljoen, ekonoom, sê traer as verwagte ekonomiese groei gaan outomaties fiskale en skuldkoerse laat verswak. Dit kan ’n afgradering versnel. Moody’s het onlangs sy verwagting vir ekonomiese groei vir 2020 tot net 0,7% verlaag weens die impak van beurtkrag. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie