SA grense van 1 Oktober vir buitelandse toeriste oop
SA grense van 1 Oktober vir buitelandse toeriste oop

SA grense van 1 Oktober vir buitelandse toeriste oop

Namibië se suidelike buurland sal ’n lys opstel van lande met hoë infeksiekoerse en dié inwoners sal nie daarheen mag reis nie.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die Suid-Afrikaanse staatshoof, pres. Cyril Ramaphosa, het Woensdagaand aangekondig Suid-Afrika gooi sy grense vir buitelandse toeriste op 1 Oktober oop.

Buitelanders sal die land slegs deur die Kaapstad-lughawe, O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg en King Shaka in Durban, asook sommige oop grensposte met sy onderskeie buurlande kan binnegaan.

Dit beteken kommersiële vlugte daarheen vir sake-, ontspannings- en ander besoeke kan hervat.

Suid-Afrika beweeg Sondag na vlak 1 van inperking.

Suid-Afrika sal ’n lys opstel van riskante lande met hoë infeksiekoerse en dié mense sal nie daarheen mag reis nie. Die lys sal op die nuutste statistiek gegrond wees.

Buitelandse toeriste sal met aankoms in Suid-Afrika ’n negatiewe Covid-19-toetsuitslag (nie ouer as 72 uur nie) moet toon én hul simptome sal op lughawens gemonitor word.

Daar is geen kwarantyn vir toeriste nie, maar enigeen met simptome of wat vir ’n toetsuitslag wag, moet op eie koste in kwarantyn gaan.

Volgens die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, is dit noodsaaklik vir die Namibiese toerismesektor dat die suidelike grensposte na Suid-Afrika heropen word.

Suid-Afrika was volgens die Toerismestatistiekverslag van 2019 die tweede grootste toerismemark vir Namibië.

Betroubare bronne in die toerismebedryf voorspel dat die twee groot suidelike grensposte met Suid-Afrika, Ariamsvlei en Noordoewer, nie net vir noodsaaklike dienste sal heropen nie, maar ook vir reisigers weens die twee lande se noue bilaterale betrekkinge.

Paetzold het benadruk die grensposte na lande van die Kavango-Zambezi-oorgrensgebied (Kaza) is ewe belangrik om oop te maak, “want ons is baie gretig om oorgrenstoerisme te hervestig”.

Angola, Zambië, Zimbabwe en Botswana is ook in die toptien toerismemarkte vir Namibië.

Namibië het reeds op 1 September die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) vir buitelandse toeriste oopgemaak.

Verreweg die meeste toeriste wat Suid-Afrika besoek, is van Suider-Afrikaanse lande. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was 72,7% van toeriste wat die land in 2019 besoek het van dié gebied, terwyl 1,6% van ander Afrika-lande afkomstig is. Die res (25,5%) is van oorsese lande afkomstig.

Die meeste toeriste wat Suid-Afrika in 2019 besoek het, was van Zimbabwe (2,25 miljoen), Lesotho (1,5 miljoen) en Mosambiek (1,3 miljoen). Die drie lande het sover onderskeidelik 7 576, 1 327 en 5 713 aangetekende gevalle van die coronavirus.

[email protected]; Bykomende bron: Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!