SA het genoeg kos, maar dis te duur
Suid-Afrika beskik oor genoeg kos, maar weens die hoër kospryse het meer as 6 miljoen mense in lae-inkomste-huishoudings te min kos om te eet.
Riana de Lange - Stygende voedselpryse, met sekere voedselitems waarop veral armer huishoudings staatmaak wat tussen 5% en 35% duurder is as ses maande gelede, het voedselsekerheid in Suid-Afrika geknou.
Die land het verlede jaar tot die 69ste posisie uit 113 lande teruggesak op die internasionale voedselsekerheidsindeks. In 2019 was ons nog 44ste.
Volgens die indeks, wat deur The Economist en die internasionale landboumaatskappy Corteva gepubliseer word, het Suid-Afrika in 2020 slegter gevaar in die subindeks oor die bekostigbaarheid van kos. Bekostigbaarheid dra ’n swaar “gewig” en dit het Suid-Afrika algeheel laat terugsak.
Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, sê op sy beurt Suid-Afrika het beter gevaar in die ander drie subindekse – beskikbaarheid van kos, gehalte en veiligheid en natuurlike hulpbronne – as in 2019.
Suid-Afrika hét genoeg kos, maar weens die hoër kospryse het meer as 6 miljoen mense in lae-inkomste-huishoudings te min kos, omdat hulle nie meer kan bekostig nie. Voedselprogramme wat as vangnette vir kwesbare huishoudings dien, het ook agteruitgegaan, sê Sihlobo.
Hoewel Suid-Afrika se telling net een punt laer is as in 2019, het ander lande hul posisie verbeter en daarom is ons nou laer op die ranglys.
Hy sê die data stem ooreen met bevindings in die derde sarsie Nids-Cram (National Income Dynamics Study – Coronovirus Rapid Mobile Survey)-verslae oor die impak van die Covid-19-pandemie.
In November en Desember het 41% van huishoudings gesê hulle het nie genoeg geld vir die maand se kos nie, teenoor 38% tydens die tweede peiling.
Die Pietermaritzburg Economic Justice & Dignity (PMBEJD)- groep, wat gereeld syfers oor huishoudings se voedseluitgawes publiseer, sê in Februarie het die huishoudelike kosmandjie (met 44 produkte) sowat R4 000 gekos. Dit is nagenoeg R145 (of 3,8%) duurder as in September verlede jaar.
Die prys van ’n sak 30 kg mieliemeel het byvoorbeeld met 13% opgeskiet, terwyl 10 kg witsuiker 5% duurder is, 5 kg suikerbone 35% en 25 witbrode 4%.
Al dié produkte is van die kossoorte wat lae-inkomste-huishoudings eerste koop.
As die prys van kernkositems styg, is daar minder geld vir belangrike voedsame kos (soos vleis, eiers, groente en vrugte) wat nodig is vir ’n sterk immuunstelsel.
Die kernkossoorte dra 54,5% tot die totale koste van die huishoudelike kosmandjie by.
Die PMBEJD sê die koste om ’n basiese voedsame dieet vir ’n huishouding van sewe te verseker, was in Februarie R4 868,71 per maand, maar huishoudings van dié grootte het gemiddeld minstens 18% te min per maand aan basiese voedsame voedselsoorte bestee.
Sihlobo benadruk Suid-Afrika het nie teruggesak op die voedselsekerheidsindeks op grond van beskikbaarheid nie, want Suid-Afrika se goeie oeste het hom ’n stewige telling op die subindeks van beskikbaarheid gegee.
Vanjaar se verwagte kommersiële mielieoes van 15,8 miljoen ton (2020: 15,3 miljoen ton), beteken Suid-Afrika sal in die 2021-’22-bemarkingsjaar steeds ’n netto uitvoerder van mielies wees.
Justin Choe van die kantoor van die hoofekonoom van die Amerikaanse departement van landbou het vroeg in Maart tydens ’n aanlyn kongres van Graan SA gesê hulle raam Suid-Afrika kan tot 16,5 miljoen ton mielies lewer.
Die hoë verbruikersvraag en ook hoër vraag na veevoer soos verbruikers wêreldwyd meer proteïen eet, bied bykomende uitvoergeleenthede vir Suid-Afrika.
Volgens Choe kan Suid-Afrika in die bemarkingsjaar tot 3 miljoen ton mielies uitvoer.
Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom, sê die belangrikheid van voedselsekerheid vir Suid-Afrika, asook vir buurlande soos Botswana en Namibië waarheen mielies as ’n stapelvoedsel uitgevoer word, moenie onderskat word nie.
Voedselsekerheid vir die land is die regering se verantwoordelikheid en nié dié van landbouprodusente nie, sê hy. –Netwerk24
KASSIE
Geen leë maag in Finland
· Finland beklee die topposisie in die voedselsekerheidsindeks, gevolg deur Ierland en Nederland.
· Brittanje is op nommer 6, Japan op 9 en Amerika nommer 11.
· Duitsland beklee die 13de posisie en Australië is 31ste.
· In Afrika het Marokko, Algerië, Tunisië en Egipte die beste voedselsekerheid, gevolg deur Suid-Afrika. (Namibië word nie in die indeks gelys nie.)
· Wat die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) betref, is almal buiten Indië, op nommer 71, beter daaraan toe as Suid-Afrika.
· Rusland is in die 24ste posisie, China 30ste en Brasilië 50ste.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie