SA huishoudings byna ‘R500 mjd. armer’
Volgens ’n navorser en ekonoom van die verbruikersafdeling van Momentum, meet hulle die balansstaat van huishoudings deur hul skuld van hul bates af te trek om hul welvaart te bepaal.
Nellie Brand-Jonker
Verlede jaar was ’n verwoestende jaar vir huishoudings in Suid-Afrika, waarin hulle byna R500 miljard armer geword het.
Dít is die bevinding van navorsing oor die welvaart van huishoudings wat deur die Universiteit van Suid-Afrika en Momentum gedoen is.
Volgens Johann van Tonder, navorser en ekonoom van die verbruikersafdeling van Momentum, meet hulle die balansstaat van huishoudings deur hul skuld van hul bates af te trek om hul welvaart te bepaal.
Die impak van inflasie word dan afgetrek sodat die netto welvaart in reële terme gekry kan word – of anders gestel, die koopkrag van die gesin.
Volgens hom het Suid-Afrikaanse huishoudings in die vierde kwartaal van verlede jaar R449,8 miljard minder koopkrag gehad as in die ooreenstemmende kwartaal in 2017.
“Dit is die grootste daling in huishoudings se reële netto welvaart sedert die resessie van 2009,” sê Van Tonder.
Die daling is grootliks veroorsaak deur die skerp daling van R428,6 miljard in die waarde van hul bates. Die bates wat ingesluit word in die navorsing is grootliks die geld wat mense vir hul aftrede spaar in pensioenfondse.
Boonop het uitstaande skuld met sowat R21,2 miljard toegeneem.
Volgens Van Tonder toon die daling in die bates hoe kwesbaar die ekonomie en markte is vir negatiewe binnelandse en internasionale gebeure.
Die waarde van die bates in pensioenfondse het gedaal omdat aandeelpryse gedaal het. Dit is toegeskryf aan binnelandse faktore soos swak ekonomiese groei, hernude beurtkrag in die vierde kwartaal, beleggers se vrese oor grondonteiening sonder vergoeding en die indruk dat die Reserwebank se onafhanklikheid in gevaar is, die inflasiekoers en stygende staatskuld.
HANDELSOORLOG
Internasionale faktore wat bygedra het is die handelsoorlog tussen Amerika en China en ander politieke gebeure soos Brexit.
“Die daling in huishoudings se welvaart is kommerwekkend omdat dit weer lei tot stadiger ekonomiese groei en werkskepping.”
Van Tonder sê in ’n verklaring dit vergroot die kans dat die middelklas nie genoeg geld gaan hê om ’n aanvaarbare lewenspeil met aftrede te behou nie.
“Die ekonomie gaan meer kwesbaar en sensitief word vir negatiewe skokke en dit gaan weer veroorsaak dat huishoudings armer word.”
Momentum en Unisa het op grond van inligting wat die Reserwebank uitreik geraam die reële waarde van huishoudings se netto welvaart het in die vierde kwartaal van verlede jaar R6 882,5 miljard beloop – dieselfde vlak as waarop dit vier jaar gelede was.
Volgens hom is die situasie nog erger as huishoudings se netto waarde as ’n persentasie van hul bruto inkomste uitgedruk word. Dié verhouding is nou op dieselfde vlak as in die eerste kwartaal van 2012. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie