SA huismark sukkel óók
Hanlie Stadler - Die droewige styging in huispryse in Suid-Afrika, wat nou al agt maande lank traer as die inflasiekoers is, duur voort.
Volgens FNB se huisprysindeks vir Februarie is die gemiddelde huis nou net 0,8% meer werd in huidige randwaarde as ’n jaar gelede.
In Januarie was huispryse 0,9% meer werd volgens FNB se aangepaste syfer.
Die syfers beteken as inflasie verreken word, het huispryse in Januarie met 5,3% gedaal. Die inflasiekoers vir Februarie is nog nie uitgereik nie, maar ’n koers van bo 6% word verwag, wat beteken dat huispryse nou al sedert Julie 2016 eintlik daal.
John Loos, huishoudelike en eiendomstrateeg van FNB, sien egter ’n silwer randjie. Van maand tot maand gemeet het huispryse in Januarie (met ’n hersiene 0,01%) en Februarie (met 0,14%) reëel gestyg, hoewel baie effens, nadat dit vyf maande lank gedaal het.
Volgens FNB is die gemiddelde huis nou reëel 23% goedkoper as die algehele rekord wat in Desember 2007 behaal is. Dit bly egter 59,9% meer werd as sowat 16 jaar gelede, einde 2000, net voordat pryse die hoogte ingeskiet het.
“Ons beskou die huidige reële prysvlakke dus steeds as baie hoog,” sê Loos.
In nominale waarde, dus sonder inagneming van inflasie, is huispryse 297,5% hoër as 16 jaar gelede.
FNB verwag dat die ekonomie vanjaar met net 1,1% gaan groei, teenoor die tesourie se verwagting van 1,3%, maar dinge soos die styging in hulpbronpryse en die einde van die droogte in groot dele van die land kan die ekonomie ’n hupstoot gee.
Dit kan in die tweede helfte van die jaar help om huisprysgroei tot meer as die inflasiekoers op te druk.
“Sekere leidende ekonomiese aanwysers dui op matig beter ekonomiese tye op kort termyn. Dit kan tot matig hoër huisprysgroei later in die jaar lei.”
Vir 2017 as geheel gaan die gemiddelde groei, op nagenoeg 3%, egter minder as die inflasiekoers beloop. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie