SA-kabinet 'n ‘duidelike kompromis’
Pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika het Maandagaand die span ministers met wie hy sal regeer aangekondig.
Pres. Cyril Ramaphosa het duidelik ’n politieke kompromis aangegaan met sy kabinetskommeling en daarom was daar ’n gedeeltelike skoonmaakproses eerder as ’n volskaalse “reiniging”.
So het Daniel Silke, onafhanklike politieke ontleder, Maandagaand Ramaphosa se laataand-kabinetskommeling opgesom.
Hy het dit as “mark- en beleggersvriendelik” bestempel aangesien die ekonomiese groep aansienlik geskommel is.
“Ek dink dit bring geloofwaardige mense na die kabinet van wie die beleggersgemeenskap hou en wat hulle respekteer. Ek dink dit sal lof van die sektor ontvang.”
Volgens Silke is die nalatenskap van oudpres. Jacob Zuma steeds in die kabinet. “Suid-Afrika sou graag wou sien dat mense soos Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini verwyder word, maar hulle is behou. Dit is ’n teken dat Ramaphosa nie daarin geslaag het om die kompleksiteite van die interne ANC-politiek af te skud nie.
“Hy is grootliks gedwing om David Mabuza as adjunkpresident aan te stel. Sy teenwoordigheid in die kabinet sal Suid-Afrika altyd daaraan herinner dat Ramaphosa nie in staat was om die juk van die Zuma-era af te skud nie. Dit sal as ’n kompromis-kabinet beskou word,” het Silke gesê.
Hy sê aan die “positiewe kant” is Des van Rooyen, Lynne Brown en Mosebenzi Zwane uit die kabinet verwyder. “Daardie drie het duidelik hul plig versuim weens hul verbintenis met staatskaping. Daar was ’n gedeeltelike skoonmaak van die kabinet, maar duidelik het die politieke kompromis wat Ramaphosa noodgedwonge moes maak hom daarvan weerhou om dit heeltemal skoon te maak,” sê Silke.
Prof. Mcebisi Ndletyana, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, het gesê kabinetskommelings is nooit maklik nie omdat ’n paar faktore opgeweeg moet word. “In dié geval moes die president probeer het om eenheid te verseker en om die soort mense in te bring wat diens sal lewer.”
Oor die behoud van Bathabile Dlamini sê hy sy is die president van die ANC-vroueliga en is afkomstig van KwaZulu-Natal. “Die president moet KwaZulu-Natal tevrede hou – dit was duidelik ’n politieke skuif wat hy uitgevoer het. Onthou, die kabinet moet verder gesnoei word ná die verkiesing aanstaande jaar, so die president wou nie te veel veranderinge maak nie.”
Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê: “Oorwegend, met enkele uitsonderings, behoort pres. Cyril Ramaphosa tevrede te wees dat hy gekry het wat hy wou hê.
“David Mabuza was nie sy keuse nie, maar dit is duidelik dat hy ’n kompromis met die party moes aangaan en dalk ook omdat Mabuza ’n beduidende rol gespeel het in sy oorwinning as ANC-leier in Desember.
“Sfiso Buthelezi as adjunkminister van landbou, gee die boere ’n swak hand om mee te speel, veral gegewe die debat oor art. 25 van die Grondwet oor onteiening sonder vergoeding wat in die komende weke op die agenda van die parlement is. Die boere behoort ook baie op hul senuwees te wees oor die nuwe minister van landelike ontwikkeling, Maite Nkoana-Mashabane.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie