SA kan leer by Botswana
Die buurland se welvaart is hoofsaaklik te danke aan die diamantbedryf.
Ulrich Joubert – Sedert onafhanklikheid in 1966 word Botswana as een van die suksesstories in Afrika beskou.
Dit is een van Afrika se mees stabiele lande met die langste ononderbroke veelparty-demokrasie op die vasteland.
Hoewel minder ernstige vorme van misdaad voorkom, kan reisigers met gerustheid in die land reis sonder om geweld te vrees, Mense is oor die algemeen vriendelik en hulpvaardig teenoor jou as reisiger.
Die land is relatief vry van korrupsie. Wanneer jy by die Botswana-grenspos aanmeld, begroet ’n groot plakkaat jou met die woorde: “Warning. Botswana does not tolerate corruption.” Die land het egter ook sy probleme en het in ’n stadium die hoogste MIV/vigs-besmettingskoers ter wêreld gehad.
Die Kalahari-woestyn beslaan 70% van Botswana. Die Okavango-delta in die noorde, ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, is in goeie reënjare waterryk. Tans is dié delta egter besonder droog omdat die reënval in Angola – waarvandaan sy water kom – baie skraal was. Verder noord is die Chobe-wildtuin met sy groot troppe olifante. Daar is meningsverskille oor die regeringsbesluit om die jag van olifante toe te laat. Bewaringsbewustes is gekant hierteen, terwyl sommige inwoners meen olifante rig baie skade aan die omgewing en aan boere se eiendom aan.
Ongelukkig kom stroping reeds voor en is daar kommer of die owerhede in staat sal wees om dit te beheer in dié ylbevolkte land met die grootste olifanttroppe op die vasteland.
Met onafhanklikheid van Brittanje in 1966 was Botswana een van die armste lande in Afrika, maar vandag is dit een van die rykstes. In 1966 was die per capita-inkomste sowat $70. Van 1966 tot 2014 het Botswana die derde sterkste per capita-groei ter wêreld gehad – ná China en Suid-Korea.
Volgens Trade Economics-statistieke is Botswana se per capita-inkomste tans $7 523,22 teenoor Suid-Afrika se $7 432,90.
Botswana se welvaart is hoofsaaklik te danke aan die diamantbedryf. Toerisme en die uitvoer van beesvleis is ook belangrik, maar tans beslaan diamantuitvoer meer as 60% van alle uitvoer. Ander uitvoer-goedere is koper, nikkel en tekstiel.
Die belangrikste uitvoermarkte is België, Indië, die Verenigde Arabiese Emirate en Suid-Afrika. Suid-Afrika lewer 66% van alle invoer-goedere, met Kanada, China en Israel as ander belangrike invoerbronne. Omdat Botswana se geldeenheid, die pula, sterker is as die rand, word invoergoedere vanuit Suid-Afrika goedkoper soos waargeneem in die petrolprys wat op 24 Junie $0,86/liter in Botswana was teenoor die $1,14 in Suid-Afrika.
Tydens onafhanklikheid was die Botswana-ekonomie op landbou gegrond. Diamante is in 1967 by Orapa sowat 400 km noordoos van Gaborone, die hoofstad, ontdek.
Die Debswana Diamant Mining Company word 50% deur die staat en 50% deur De Beers besit. In terme van die waarde van diamante wat geproduseer word, is Botswana die wêreld se toonaangewende diamantprodusent.
Die tweede belangrikste bron van welvaartskepping is die toerismebedryf met ’n baie wye verskeidenheid van besienswaardighede. Dit strek van die droë Kgalagadi-oorgrenspark tot die waterryke Okavangodelta en die Chobe-wildreservaat in die noorde.
Die groot verskeidenheid klimaatstoestande bring mee dat ’n groot verskeidenheid van diersoorte besigtig kan word. Baie van die natuurreservate is nog ongerep en bied aan diegene wat regtig ’n bos- of woestynervaring wil beleef die ideale omstandighede. Dit bring egter mee dat gewone voertuie nie oral die mas sal opkom in die sand of modder nie.
Tans is die Okavango te droog om wild per boot te kan besigtig. Daar is kommer dat klimaatsverandering daartoe kan lei dat die Okavango sy aantreklikheid as binnelandse wildreservaat verloor. Daarom is samewerking met Angola belangrik om hierdie welvaartskeppende bate se waterbronne te verseker.
Die uitvoer van beesvleis na veral die Europese Unie word geknou weens bek-en-klouseer wat sy oorsprong by wildreservate se buffeltroppe het.
Daar is ’n dubbele buffelheining tussen die Okavango en die aangrensende beesboere, maar dit word ongelukkig nie altyd behoorlik in stand gehou nie. Gevolglik meng wild en beeste. Waar beesvleisuitvoer in ’n stadium die tweede belangrikste bron van inkomste vir die land was, het dit nou tot die derde plek teruggesak.
Hoewel Botswana en Suid-Afrika se per capita-welvaart op dieselfde vlak is, is die land steeds baie afhanklik van gebeure in Suid-Afrika. Volgens Trade Economics is Botswana se bruto binnelandse produk (BBP) $19 miljard teenoor die $366 miljard van Suid-Afrika.
Die Internasionale Monetêre Fonds verwag dat Botswana van 2019 tot 2020 teen 4,5% sal groei en teen 4% van 2021 tot 2023. Daarteenoor is die groeiverwagting vir Suid-Afrika in 2019-’20 heelwat minder as 1%. Maatskappybelasting in Botswana is 22% en persoonlike-inkomstebelasting 25%, terwyl die Mei-inflasiekoers 2,6% was.
Die werkloosheidskoers in Botswana was in 2017 18% teenoor die huidige amper 28% in Suid-Afrika. Baie van die 2,29 miljoen Botswana-inwoners is egter afhanklik van ’n bestaansekonomie.
Armoedige omstandighede heers met dikwels geen lopende water of elektrisiteit nie, maar jy sien nie bedelaars, plakkerskampe of plastieksakke wat die wêreld vol rondwaai nie.
Betogende Suid-Afrikaners kan ’n les leer by ons buurman!
· Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie