'SA kan moontlik teen 6% groei'

Die vraag word gevra of politieke en ekonomiese gebeure die laaste paar jaar Suid-Afrika se groeipotensiaal permanent skade aangedoen het.
Riana de Lange - Al is die ANC verlig omdat die “tegniese resessie” eers verby is, is Suid-Afrika se groeikoers traer as die res van die wêreld s'n, te laag om armoede te verlig en werk te skep soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), en stadiger as die bevolkingsgroei, wat beteken ons word armer.

Op 'n jaargrondslag het die ekonomie met 1,1% gegroei, wat laer is as die bevolkingsgroei teen 1,6%.

Hoewel die ekonomie in die tweede kwartaal teen 2,5% (seisoenaangepaste geannualiseerde syfer) gegroei het op 'n kwartaalgrondslag, is ons in 'n ekonomiese droogte, sê Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-universiteit sê die NOP het 'n mikpunt van 5,4% groei per jaar tot 2030 gestel.

Onder die gunstigste plaaslike en internasionale omstandighede kan Suid-Afrika se ekonomie tot 6% per jaar groei, sê hy.

Verlede jaar was dit 'n skamele 0,3% en vanjaar word tussen 0,5% en 0,8% verwag. Groei was sedert 2011 elke jaar swakker.

Vyf jaar al boer ons teenoor die res van die wêreld ook agteruit.

“Die vraag is nou: Het politieke en ekonomiese gebeure die laaste paar jaar Suid-Afrika se groeipotensiaal permanent skade aangedoen?” vra Parsons.



afgradering

Hoewel kredietgraderingsagentskappe aanvanklik baie klem gelê het op die begrotingstekort en regeringskuld, fokus hulle al meer op ekonomiese groei, sê Ackerman.

“Hoe swakker groei is, hoe makliker val dinge aan die inkomstekant plat. Ek twyfel of die tweede kwartaal se groeisyfers kredietgradeerders gerus sal stel. Indien dinge voortgaan soos nou, is die kans redelik sterk dat ons afgegradeer sal word binne die volgende ses maande.”

Hy glo egter nie dit sal al in Desember gebeur nie, maar kan volg op die begrotingsrede in Februarie.

Kamilla Kaplan van Investec sê ná twee opeenvolgende kwartale waarin bruto vastekapitaal-vorming gestyg het, het dit in die tweede kwartaal met 2,6% ingekrimp weens minder investering in die private sektor, wat twee derdes van totale beleggings uitmaak.

Ackerman sê die groot kwartaallikse afname (geannualiseerd) in konstruksie kwel hom – 13% vir residen­sieel en 5% vir nieresidensieel.

“Dit wys maatskappye wat geld maak, wil nie belê nie en wag op ekonomiese en politieke sekerheid. Dit is ook waarom hulle op R1 400 miljard in kontant sit. As jy nie belê nie, bou jy nie kapasiteit nie en rem die ekonomie verder.”

Wêreldwyd is sake- en verbruikersvertroue 'n leidende aanwyser. Daar hoef nie jare van sterk ekonomiese groei of duisende werkgeleenthede geskep te word voordat vertroue terugkeer nie, sê hy.

Politieke sekerheid en sakevriendeliker beleidsrigtings ná die ANC-leierskonferensie in Desember kan kwynende vertroue herstel.

Kaplan sê in die tweede kwartaal het agt van die 10 ekonomiese sektore gegroei. Die grootste bydraes het gekom van landbou (0,7 persentasiepunt tot die finale syfer) en die finansiëledienstesektor (0,5 persentasiepunt).

Landbouproduksie was vir die derde agtereenvolgende maand hoër danksy gunstige weersomstandighede. Ekonome sê hoewel landbouproduksie met sowat 33% gegroei het, dra dit net 4% tot die nominale BBP by.

Hamlet Hlomendlini van Agri SA sê hy is bekommerd dat langertermynaanwysers steeds op gedempte groei vorentoe dui.

Die land sukkel steeds met rekordvlakke van werkloosheid en armoede, lae beleggersvertroue en beleidsonsekerheid.

Zuzana Brixiova, ontleder by Moody's, het Donderdag in 'n verslag gesê armoede en werkloosheid in Suid-Afrika sal druk op regeringsbesteding plaas wat weer implikasies vir fiskale konsolidasie het.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!