SA kan nie 'n polisiestaking ook bekostig
SA kan nie 'n polisiestaking ook bekostig

SA kan nie 'n polisiestaking ook bekostig

Llewellyn Prince



Gerugte dat polisielede dreig om die polisiediens met 'n landswye staking oor uitstaande bevorderings te verlam, behoort vir elke Suid-Afrikaner 'n bron van uiterse kommer te wees.

Nie net omdat die algemene verkiesing om die draai is nie, maar veral omdat die land reeds gebuk gaan onder erge misdaadvlakke en allerlei sosioëkonomiese krisisse. Die punt is dit: Suid-Afrika kan nie 'n stakende polisiediens ook nog bekostig nie.

Daarom was dit die laaste paar dae ontstellend om die WhatsApp-boodskappe te sien van vermoedelik polisielede wat die indruk wek dat 'n grootskaalse staking onder polisielede dreig.

Die jongste WhatsApp-boodskap wat gister in Kaapstad die ronde gedoen het, lui onder meer dat alle “rang-geaffekteerde polisiebeamptes in die Skiereiland Dinsdagoggend (vanoggend) omstreeks 09:30 op die Parade moet aanmeld van waar hulle omstreeks 11:00 na die parlement sal beweeg”.

Die kantoor van Bheki Cele, minister van polisie, sê in reaksie daarop dat geen polisielid of -vakbond nog direk met hom oor so 'n dreigende staking gekommunikeer het nie.

Eergister is ook berig dat die polisievakbond Sapu hom distansieer van die beplanners van die staking omdat 'n staking volgens hom die laaste uitweg is. “Die polisie lewer 'n noodsaaklike diens en daarom ondersteun ons nie 'n staking nie,” sê Sapu. Popcru, die grootste polisievakbond, verwerp ook 'n staking omdat hy “geen mandaat van sy lede daarvoor ontvang het nie”.



STILLE INTERNE REBELLIE

Die staking dreig glo weens 'n stille interne rebellie wat onder laer ranggroepe, soos konstabel, sersant en adjudant-offisier, broei. Hul bevorderings is glo al etlike jare uitstaande.

Die parlement het vroeër gehoor dat sommige polisiebeamptes in hierdie range reeds tot 20 jaar nie bevorder is nie.

Cele het vroeër in die parlement laat blyk dat tot 32 053 polisiebeamptes in dié range tot dusver reeds in die huidige boekjaar bevorder is. Die res sal om finansiële redes in die volgende twee boekjaar bevorder word, veral omdat die bevorderingsproses belastingbetalers sowat R2 miljard sal kos. Dit wys dat iets tog gedoen word om die kwessie te takel.

Dit is ook gerusstellend dat genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, 'n span polisiehoës na elke provinsie sal lei om die bevorderings daar verder aan gegriefdes te verduidelik. Net so was Cele se vergadering eergister met die bevelvoerders van die land se 1 147 polisiekantore daaroor.

Omdat die grootste vakbonde nie so 'n staking steun nie, is dit belangrik dat die polisiebestuur die gerugte daarvan so spoedig moontlik in die kiem smoor en die aanhitsers daarvoor voor stok kry omdat so 'n staking vernietigende gevolge kan hê in 'n land waar misdadigers reeds optree asof hulle die oorhand het.

Misdaad raak élke landsburger, daarom sal kiesers die regering en polisiebestuur se hantering van hierdie dreigende krisis met valkoë dophou in die aanloop tot die verkiesing op 8 Mei.

*Prince is Netwerk24 se parlementêre verslaggewer.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!