SA kernkragkundiges in aanvraag
Baie van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) se kundige mense het al afgetree, maar hul kundigheid is steeds beskikbaar.
Francois Williams
Suid-Afrika het van sy kernkragkundigheid verloor nadat die korrelbedkernreaktorprojek (PBMR) in 2010 gestaak is en oudpres. Jacob Zuma se troetelprojek vir nuwe kernkrag in 2017 deur 'n hofbeslissing gestuit is.
Maar die land het ook die afgelope jare 'n suksesvolle uitvoerder van kernkragkundigheid geword danksy die swakker rand en die benutting van die kernkragvaardighede wat steeds in die land is, sê dr. Derik Wolvaardt, kerningenieurswesedeskundige by die kragmaatskappy Lesedi.
Wolvaardt het in 'n onderhoud by die Africa Energy Indaba in Kaapstad gesê Lesedi help om die land se kernkragkundigheid te behou deur internasionale opleidingsprojekte te koördineer waardeur ingenieurs van Zambië en Rwanda, byvoorbeeld, opgelei word.
Zambië en Rwanda het albei ambisies om hul eie produksiegeriewe vir kern-isotope vir mediese gebruik te ontwikkel.
Danksy bekwame universiteite soos die Universiteit van Kaapstad, die Noordwes-Universiteit en Wits, asook die feit dat Suid-Afrika Engels gebruik en in dieselfde tydsone val, is dit veel makliker vir sulke lande om hul ingenieurs hierheen te stuur vir opleiding, sê Wolvaardt.
Daar is tans 30 Zambiese ingenieurs in Rusland vir opleiding en dit is vir hulle baie moeilik, want hulle moet eers Russies aanleer.
Wolvaardt sê daar is tans sowat 120 Suid-Afrikaners, meestal mense wat voorheen by die Koeberg-kernkragstasie gewerk het, wat in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) help bou aan die VAE se eerste kernkragstasie, Barakah.
Baie van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) se kundige mense het al afgetree, maar hul kundigheid is steeds beskikbaar en volgens Wolvaardt word hulle byvoorbeeld gereeld deur die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) benut vir inspeksiebesoeke in verskillende lande waar nuwe kernkragstasies gebou word.
KOEBERG
Met die plaaslike kernkragbouprogram wat vir eers gestaak is, gebruik Lesedi sy kern-ingenieurs toenemend ook vir die konvensionele kragopwekkingskant, soos by Eskom se Medupi- en Kusile-kragstasie, en aan die program om die Koeberg-kernkragstasie se leeftyd met nog 20 jaar te verleng. Lesedi is betrokke om onder meer die stoomopwekkers en wateropgaartenks by Koeberg te vervang.
Wolvaardt sê die verlenging van Koeberg se bedryfstyd is terloops die goedkoopste manier om “nuwe” kernkrag te bou, en is selfs goedkoper as aflandige windkrag of sonkrag.
Die verlenging van Koeberg se leeftyd is volgens Wolvaardt een van die belangrikste energieprojekte in die land, want dit sou rampspoedig wees vir veral die Wes-Kaap as Koeberg in 2024 moes sluit. Koeberg is tans die betroubaarste kragstasie van Eskom en lewer 90% van die tyd krag teen die laagste koste van al Eskom se kragstasies.
Dit is omdat Koeberg se kapitaalkoste al ná 15 jaar gedelg is, en die kernbrandstof is veel goedkoper as steenkool.
KORRELBED
Baie van die kern-ingenieurs wat by die PBMR gewerk het, is na Amerika, wat self aan 'n klein modulêre kernreaktor werk. Daar is wêreldwyd meer as 50 projekte om klein modulêre kernreaktors soortgelyk aan die PBMR te bou, sê Wolvaardt.
Lesedi is self ook een van die maatskappye wat belang stel in Eskom se korrelbedkerntegnologie.
Eskom het onlangs 'n tender uitgereik om die oorblyfsels van die eertydse PBMR-maatskappy, wat sedert sy sluiting in 2010 in veilige bewaring by Eskom gehou is, te verkoop.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie