SA ku00e1n sterk vleisuitvoerder wees
SA ku00e1n sterk vleisuitvoerder wees

SA kán sterk vleisuitvoerder wees

Die buurland is die wêreld se dertiende grootste rooivleisprodusent, maar moet eers struikelblokke uit die weg ruim voordat dit ’n noemenswaardige uitvoerder in die internasionale mark sal kan wees.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Kenners meen Suid-Afrika staan tans op die vooraand daarvan om ’n globale uitvoerder van hoë gehalte rooivleissnitte te word, mits dit saamwerk om rekenskap van dieregesondheid en naspoorbaarheid te kan gee.

Tydens ’n onlangse slypskool vir die Suid-Afrikaanse Rooivleisbedryf, het kenners soos dr. Michael Bradfield, hoof van Breedplan Suid-Afrika, asook mnr. Don Heatly, voormalige voorsitter van Meat Livestock Australia (MLA) en ’n lid van die beesraad van Australië, gesê die land moet ook meer geld om navorsing en ontwikkeling bestee – soos ander groot vleis-uitvoerende lande.

Bradfield meen Suid-Afrika is in die posisie om in die sterk internasionale vraag na hoë gehalte vleisnitte te voorsien, maar dit is kritiek dat daar eerstens aandag aan die dieregesondheidstatus van rooivleis gegee word.

Die slypskool is deur die buurland se Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die nasionale organisasie vir ontluikende rooivleisprodusente (Nerpo), die Rooivleisbedryfsrofum (RMIF), die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) asook die Vleisbees Genomiese Projek (BGP) gereël met die doel om ’n tipe ‘padkaart’ op te stel vir oor hoe die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf ’n wêreldklas mededinger kan raak.

Bradfield het gesê die rooivleisbedryf moet sy toekoms met die land se nasionale ontwikkelingsplan versoen en nie langer op die regering wag om sy inisiatiewe te finansier nie. Boonop moet rooivleis nie langer as ’n kommoditeit beskou word nie en die uitvoer- en premiummarkte betree.

Volgens hom het die droogte verskeie markgeleenthede vir Suid-Afrikaanse produsente geopen, wat benut sal kan word sodra produsente, abattoirs en uitvoerders ’n naspeerbaarheidstelsel ingestel het.

Heatly het ook hierby aangesluit en gesê Suid-Afrika produseer jaarlikse sowat ’n miljoen ton rooivleis, wat dit die wêreld se dertiende grootste rooivleisprodusent maak. Tog dra dit slegs 1,55% tot die wêreld se rooivleisproduksie by en maak dit minder as 1% (60 000 ton) van die wêreld se uitvoere uit.

Daarteenoor produseer Australië meer as 2 miljoen ton rooivleis (3,43%) en voer tot die helfte hiervan uit.

Heatly het verder gesê Suid-Afrika behoort oor te skakel van ’n karkas-gradering na ’n snit-graderingstelsel, wat beteken premies sal vir hoëprofielprodukte verkry kan word. Die land moet ’n waarborg van sy vleisgehalte kan verskaf.

Die DAFF-minister, Senzeni Zokwana, het gesê die sukses van die lewendehawesektor in terme van die bruto binnelandse produk (BBP), kan toegeskryf word aan kommersialisering asook intensiewe pogings om omset en afset te verbeter. Volgens hom kan dié pogings vergelyk word met die beste in die wêreld.

“Terselfdertyd genereer die land ‘n beduidende buitelandse verdienste omdat dit verskeie veevoedsel- en veselprodukte uitvoer.”

Zokwana het verder gesê dit is duidelik dat alle bedrywe die toewyding van die regering benodig om mededingend in ’n globale omgewing te wees.

“As ontwikkelde lande as model gebruik word, hang die verbetering van prestasie af van hoe goed die regering en private sektor kan saamwerk om doelwitte te stel en mededingendheid te verbeter.

“Ons moet plaaslike situasies asook globale vereistes in ag neem. Ongeag die prestasie van diere, is higiëniese vereistes belangrik vir potensiële kopers – dit sluit in die dieregesondheidstatus asook persepsies oor menslike gesondheid.”

Hy het verwys na die gebruik van hormonale groeistimulante, wat in Europa verbied word.

“Dit beïnvloed diereproduksie wêreldwyd en ander minder ontwikkelde lande moet ook aan die vereistes voldoen om hul mededingendheid te verbeter en van dieselfde risiko-assesering as ontwikkelde lande gebruik maak.

“Dieselfde word al meer in alternatiewe markte vereis, wat beteken lande wat hierdie verbod aanhou ignoreer, kan van markte uitgesluit word.”

Hy het gesê ’n integrale deel van die land se dieregsondheidstatus sluit in om die verspreiding van siektes te voorkom deur diere en diereprodukte se bewegings te beheer. Dit vorm deel van ’n naspeurbaarheidstelsel.

Ander sprekers op die slypskool sluit in dr. John Purchase van Agbiz; mnr. Johan Willemse, ’n bekende landbou-ekonoom; prof. Azwihangwisi Maiwashe, hoofbestuurder van die diereproduksiekampus van die Suid-Afrikaanse Landbounavorsingsraad (LNR), asook mnr. Dave Osborne van die Suid-Afrikaanse Varkprodusentevereniging.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer