SA landbou dankbaar grondplan misluk
’n Voorstel om Suid-Afrika se Grondwet te verander om onteiening van grond sonder vergoeding toe te laat, het Dinsdag misluk.
Ronelle Rademeyer - Landbou-organisasies in Suid-Afrika het Dinsdag met dankbaarheid reageer nadat die voorgestelde wysiging om artikel 25 van die Grondwet te verander, in die parlement afgestem is.
Dit handel oor die onteiening van plase sonder om die eienaars daarvan te vergoed.
Dié voorstel van die ANC het nie die twee derdes van die parlementêre stemme gekry wat dit nodig gehad het nie.
Wetgewers het gedebatteer of artikel 25 van die Grondwet verander moet word om owerhede in staat te stel om op grond beslag te lê ten einde die grondongelykhede reg te stel wat hulle sê deur kolonialisme en wit minderheidsregerings geskep is.
Die debat het om 14:00 begin en net voor 16:30 is stemme getel. ’n Totaal van 267 stemme was nodig vir ’n tweederdemeerderheid, maar net 204 het ten gunste van die voorgestelde verandering gestem en 145 daarteen.
Die uitslag van die stemmery is deur die landbou-organisasies Agri SA en TLU SA verwelkom.
Agri SA sê die poging tot die wysiging van artikel 25 van die Grondwet was “hopelike die laagtepunt van radikale benaderings tot grondhervorming”.
“Die uitslag van die debat oor die wysiging van artikel 25 van die Grondwet vandag (Dinsdag) in die parlement is positief vir die toekoms van Suid-Afrika en sal bydra tot hernieude vertroue in die ekonomie,” het Jaco Minnaar, die president van Agri SA, gesê.
“Agri SA verwelkom die erkenning tydens die debat dat titelaktes belangrik is, asook die voorneme om begunstigdes deel van die ekonomie te maak. Titelaktes is ’n uiters doeltreffende manier om werklike en volhoubare ekonomiese bemagtiging van begunstigdes te verseker,” sê Minnaar.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dié organisasie is dankbaar teenoor al die belanghebbendes “wat die rasionele insig openbaar het” om te besef die land se ekonomie sou in gevaar gestel word.
Hy sê ofskoon dit ’n goeie uitslag was, is dit egter beslis nie die einde van die onteieningswet nie.
“Die proses is beslis nie verby nie. Daar is dié wat vasbeslote is om dit op een of ander manier deur te voer. Ons as TLU SA is natuurlik dankbaar vir almal wat daarteen gestem het, maar ons kan nie nou terugsit en van die aangeleentheid vergeet nie,” het Van Zyl kort ná die stemming gesê.
“Dit gaan beslis weer geopper word. En die gevaar vir ons land se ekonomie is al word daar net daaroor gepraat, veroorsaak dit wantroue en gevolglike skade. Beleggers raak al hoe versigtiger om te belê en ons ekonomie het dié vaste beleggings broodnodig. Hoe gouer die ANC van die standpunt afsien, hoe beter.”
Hy het in ’n verklaring gesê hy wil spesifiek vir die ad hoc-groep vir die beskerming van privaatbesitreg en al 53 organisasies wat daarby ingeskakel het en ‘n rol gespeel het “om die ware feite op die tafel te lê”, bedank.
“Ons is wel baie realisties oor die pad vorentoe. Die saak is nie afgehandel nie en ons sal bedag wees vir enige pogings om ons ekonomie so omver te werp,” lui sy verklaring.
Van Zyl wys daarop die onteieningswet is ook nog in proses en daarvoor is net ’n volstrekte meerderheid nodig. “Daar sal beslis weer pogings wees om dit deur te voer. Die rooiligte van gevaar flikker dus steeds.” - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie