SA man vermis in Suide
SA man vermis in Suide

SA man vermis in Suide

Insleepvoertuig én bestuurder skoonveld
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - ’n Suid-Afrikaanse man, mnr. James (Doepie) du Plessis (68) van Upington, word sedert Dinsdagoggend in die Suide vermis.
Sy vrou, me. Corrie du Plessis, het gister aan Republikein gesê hy is Dinsdag om 05:00 met ’n insleepdiensvragmotor deur die grenspos by Ariamsvlei, onderweg na Grünau waar hy om 09:00 ’n stukkende voertuig moes gaan haal.
“Toe hy nie op die afgespreekte tyd op Grünau opdaag nie, is oproepe na sy selfoon op sy Namibiese nommer gemaak, maar dit het net op stempos oorgegaan. Die insleeplorrie én hy het net verdwyn,” het sy vrou gesê.
Volgens haar help haar afgetrede man nou en dan by mnr. Freddie Minders se insleepbesigheid, Pro-­Towing, op Upington.
“My man sou om 15:00 Dinsdag terug op Upington wees en die stukkende voertuig dan na Mpumalanga neem.”
Volgens me. Carina Nel, ’n vriendin van Du Plessis se dogter, me. Lisa du Plessis, moes hy die stukkende voertuig by Gondwana se Canyon Roadhouse by die Visrivier-canyon gaan haal.
Minders het Woensdag na Grünau gereis om die stukkende voertuig te gaan haal en na Du Plessis te help soek, maar nóg hy nóg die inlseepvoertuig was op pad te vinde.
Du Plessis se vrou se groot kommer is dat hy hartmedikasie moet neem.
“Hy is verlede jaar weens hart­versaking in die hospitaal opgeneem. Hy het Dinsdagoggend sy hartmedikasie geneem en het nie sy pille saam­geneem nie omdat hy die middag terug by die huis sou wees,” het sy vrou gesê.
“My man ken Namibië soos die palm van sy hand en het al baie na die land gery omdat dit so veilig daar is. Hy het altyd gesê hy ry liewer na Namibië as Johannesburg.”
Die familie is in kontak met die Namibiese polisie en “ons waardeer al die hulp van Namibiërs wat na my man help soek”.
Adj.komm Rudolf Isaak, bevelvoerder van die polisie se misdaadvoor­komingseenheid in die //Kharasstreek, het gister aan Republikein bevestig die polisie van Karasburg het ’n soektog na Du Plessis van stapel gestuur.
“Die polisie is besig om ondersoek in te stel en die gebied te fynkam,” het Isaak gesê.
Enigiemand wat ’n geel en blou insleepvragmotor van Pro-Towing of vir Du Plessis sien of oor enige inligting beskik, word gevra om dringend vir Isaak by 081 256 7017 te kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer