SA misdaad: Su00f3 u2019n strategie is nou nodig
SA misdaad: Su00f3 u2019n strategie is nou nodig

SA misdaad: Só ’n strategie is nou nodig

Polisiekenner meen dit is ook belangrik dat die strafregstelsel opgeskerp word en dat na die ekonomiese situasie gekyk word.
Sarel Van Der Walt

Die misdaadstatistieke wat Dinsdag bekend gemaak is, wys dat Suid-Afrika op misdaadgebied jaar ná jaar verder agteruitgaan. Sarel van der Walt wou by kenners weet of die situasie omgekeer kan word.

Daar móét ’n politieke wil wees om iets aan die misdaadsituasie in die land te doen.

Dié politieke wil moet by pres. Cyril Ramaphosa begin, sê dr. Johan Burger, ’n polisiekenner en konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Pretoria.

Burger, ’n oudgeneraal in die polisie, sê ’n geïntegreerde strategie is nodig om die verslegtende misdaadsituasie die hoof te bied.

“Die politieke wil moet by die president begin. Hy moet die rolspelers inroep en sê: ‘Ek is nou gatvol. Dít is nou die keerpunt. Nou gaan ons doen wat nodig is.’

“Dan moet die president vir ’n geïntegreerde struktuur opdrag gee.”

Só ’n struktuur moet bestaan uit verskeie staatsdepartemente – dié wat fokus op veiligheid soos die polisie en die strafregstelsel, asook dié wat op maatskaplike en ekonomiese terreine werk.

“Wat baie belangrik is, is dat dié struktuur se werksaamhede op baie hoë vlak gekoördineer moet word.

“Dit is onwaarskynlik dat die president dit self sal doen.

"Daarom het jy minstens die adjunkpresident nodig – iemand wat gesag oor ministers het en hulle kan dwing om die strategie wat op hul departement van toepassing is, in werking te stel.

“Die koördineerder moet die ministers ook aanspreeklik vir die pligte van hul departemente hou,” sê Burger.

‘Cele wil kitaar tokkel, maar niemand sal luister’

“Ons het Dinsdag met die bekendmaking van die misdaadstatistieke gehoor Bheki Cele, die minister van polisie, het die wil om iets aan die situasie te doen.

“Die probleem is egter Cele kan net die kitaar tokkel ten opsigte van die polisie, want ander ministers gaan tog nie na hom luister nie.

“Dis nie net ’n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Wêreldwyd luister ministers nie vir mekaar nie.

“Jy hét iemand bo hulle nodig wat die kitaar kan tokkel,” meen Burger.

“Daar was in 1996 so ’n nasionale misdaadvoorkomingstrategie. Dit was ’n baie goeie strategie, maar dit het misluk omdat dit nie ’n gesaghebbende koördinerende struktuur gehad het nie. Daar was ’n koördinerende struktuur, maar dit was destyds in die kantoor van die minister van veiligheid en sekuriteit geleë.

“Dit het misluk juis omdat dié ministerie nie die gesag gehad het om ander ministeries te dwing om hul kant van die strategie na te kom nie,” sê Burger.

Die strafregstelsel moet reggeruk word

Hy meen dit is ook belangrik dat die strafregstelsel opgeskerp word en dat na die ekonomiese situasie gekyk word.

Die polisie moet meer doeltreffend in hul werk wees. Op ekonomiese terrein moet daar ’n doelbewuste proses – én ’n politieke wil – wees om die ekonomie te laat groei om werk te skep.

“Armoede volg op werkloosheid. Navorsing wêreldwyd het al oor en oor bewys dat die oomblik wanneer werkloosheid toeneem, neem misdaad ook toe.

“Hoe meer mense werk het, hoe minder armoede sal daar ook wees,” sê Burger.

“Op die oomblik is ons in ’n situasie waar almal na die polisie kyk as jy van misdaad praat.

“Dit is waar ons die geveg teen misdaad reeds verloor het. Dit is tog duidelik die polisie kan nie dié (die maatskaplike) probleme in die land oplos nie.

“Neem byvoorbeeld moord: Ons weet dat slegs 15% tot 20% van die moordsyfer die gevolg is van sê nou maar gewapende rooftogte wat skeefloop en mense wat geskiet word. Die res is hoofsaaklik weens maatskaplike omstandighede waaroor die polisie geen beheer het nie.”

‘Vir misdadigers was dit ’n paradys’

Burger sê dit is allerweë bekend dat die polisie die laaste paar jaar nie goeie misdaadintelligensie gehad nie weens die probleme wat in dié afdeling voorgekom het.

Die speurders het boonop gesukkel en het nie goeie oplossyfers gehad nie.

“Die gevolg hiervan is dat misdadigers nie bang was dat hulle vasgetrek sou word nie. Dit was vir hulle ’n paradys.

“Hulle het voortgegaan met wat hulle doen sonder om te vrees dat hulle opgespoor en in hegtenis geneem sou word,” sê Burger.

“Ons weet ook almal watter toestande by die Valke geheers het. Dan praat ons nie eens van die nasionale vervolgingsgesag en al sy probleme nie.

“Die strafregstelsel het die afgelope dekade of so geen afskrikking meer vir misdadigers ingehou nie. Korrupsie het ook ’n groot rol hierin gespeel omdat die misdadigers geweet het as jy genoeg geld het, kan jy vervolging vryspring deur eenvoudig die polisiebeamptes, die aanklaers en landdroste om te koop,” sê Burger.

Die strafregstelsel, insluitende die polisie, moet reggeruk word. Dit sluit in die leierskap, die kwaliteit van sy mense en die uitroei van korrupsie.

“Selfs as jy al dié dinge doen, sal die polisie by wyse van sy vermoëns net aan daardie 15% tot 20% van moorde regstreeks aandag kan gee. Hulle kan nie uitkom by die ander 80% wat veroorsaak word deur die ekonomiese en maatskaplike faktore nie,” meen Burger. – Netwerk24/ Berig verkort

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!