SA myne loop lopie in steenkoolpryse mis
Francois Williams
Bestaande steenkoolmyne kan oor minstens die volgende dekade nog fluks geld maak, want daar sal internasionaal steeds ’n sterk vraag na steenkool wees.
Die Suid-Afrikaanse steenkoolbedryf kon nie regtig voordeel trek uit die onlangse stygings in steenkoolpryse nie, want swak infrastruktuur, logistieke probleme en Eskom se kragkrisis het hulle gepootjie.
Dit blyk uit die ouditgroep PwC se jongste mynbouverslag.
Andries Rossouw, PwC se sektorleier vir energie en hulpbronne in Afrika, sê hoewel niemand nou geld wil leen aan enigiemand wat ’n nuwe steenkoolmyn wil bou nie, kan bestaande steenkoolmyne oor die volgende dekade nog goeie winste behaal uit die uitvoer van steenkool.
Die vraag is waar hulle hul wins gaan herbelê, en of die infrastruktuurprobleme opgelos kan word.
Suid-Afrikaanse steenkoolmyners kon nie die volle voordeel van die onlangse sterk pryse benut nie want die volle uitvoervermoë via Transnet se steenkoolspoorlyn en die Richardsbaaise hawe kon nie ten volle benut word nie.
Eskom se verouderende steenkoolkragstasies gaan nie almal oornag sluit nie, so daar sal daarvandaan steeds ’n weliswaar stadige inkrimping van vraag wees, maar die internasionale steenkoolvraag kan nog lank hoog bly.
Spoorvrag se aandeel in totale vragvervoer het sedert 2008 tot so hoog as 28% in 2012 gestyg maar daarna afgeneem tot 20%, en steenkooluitvoer via Richardsbaai het verlede jaar van 72 miljoen ton in 2019 tot 70 miljoen ton afgeneem.
Die verlore 2 miljoen ton verteenwoordig miljare rande se verlore wins vir plaaslike steenkoolmyne, sê PwC.
Eskom se onvermoë om genoeg krag te lewer is volgens Rossouw egter die enkele grootste perk op uitbreiding vir myne. Hulle kan nie in waardetoevoeging of uitbreiding belê as hulle nie seker is daar sal genoeg krag wees nie.
Benewens vervoer en krag is water ook ’n kritieke faktor vir die groei in mynbou. Volgens Rossouw het ’n watertekort in die Noord-Kaap meegebring dat sommige mynprojekte gestaak moes word.
Rossouw meen die myne het nou kans om in modernisering te belê om produktiwiteit en doeltreffendheid te verbeter.
Hy meen in die regverdige oorgang na ’n skoner ekonomie word dalk te veel op net steenkool gefokus. Baie goudmyne gaan ook oor ’n paar jaar moet sluit bloot omdat myne uitgeput raak. Dié werkers sal ook ’n ander heenkome moet vind.
Die mynbousektor het geleenthede om vir nuwe bedrywe soos hernubare energie insetmateriaal te lewer. Veral die platinumsektor kan hierin uitblink.
LISENSIESTELSEL IS STUKKEND
Oor die gebrekkige mynlisensiëringstelsel van die departement van minerale bronne en energie het Rossouw gesê ’n tender is wel aan die begin van September uitgereik om ’n nuwe stelsel te lewer. Maar daar is nog ’n groot agterstand in die verwerking van aansoeke vir mynlisensies wat reeds ingedien is. Daardie agterstand sal eers weggewerk moet word.
’n Doeltreffende en deursigtige mynlisensiestelsel is noodsaaklik, het Rossouw beklemtoon.
Oor die onlangse uitspraak van die konstitusionele hof dat die Mynbouhandves van 2018 nie wetlik afdwingbaar is nie, meen Rossouw daar kan nog geruime tyd onsekerheid oor die Mynbouhandves wees.
Op die vraag oor die implikasies as die departement teen die uitspraak appelleer, sê Rossouw hy meen die howe is nie die regte plek om die kwessie op te los nie. Hy glo die gesprekke in die mynsektor is beter as voorheen, en ’n gesamentlike oplossing moet deur al die belanghebbendes gevind word.
Rossouw meen dis nie noodwendig sleg dat heelparty myngroepe wat in Suid-Afrika bedrywig is liewer in die buiteland genoteer is eerder as op die JSE nie. Die plaaslike beleggersbasis is te klein en regstreekse buitelandse investering is nodig.
– Lees die volledige berig aanlyn by Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie