SA myne nie meer onder top-40
SA myne nie meer onder top-40

SA myne nie meer onder top-40

Dit is die tweede agtereenvolgende kwartaal dat dié sektor agteruitboer luidens Statistieke Suid-Afrika.
Elvira Wood



Net een mynmaatskappy met 'n Suid-Afrikaanse verbintenis het die ouditfirma PwC se top-40-lys vir 2017 van die wêreld se grootste ­mynmaatskappye gegrond op markwaarde gehaal.

Dié enkeling is Anglo American, wat in Suid-Afrika en Brittanje gesetel is.

PwC stel jaarliks sy Mynbouverslag in Junie bekend. Dit is gegrond op genoteerde mynmaat­skappye se jaarverslae vir die voorafgaande boekjaar.

PwC het Dinsdag die verslag op die Junior Indaba in Aucklandpark, Johannesburg, bekend gemaak.

Anglo was verlede jaar die sewende grootste mynmaatskappy ter wêreld.

AngloGold Ashanti, die enigste “suiwer” Suid-Afrikaanse maatskappy wat tot 2016 onder die top-40 in die wêreld gereken is, het nou van die lys verdwyn.

Andries Rossouw, vennoot vir mynwese en energie by PwC, sê die 2017-boekjaar was 'n goeie jaar vir internasio­nale mynmaatskappye.

Die markwaarde van die top-40 saam het met 30% tot US$926 miljard teenoor 'n jaar tevore gestyg.

Hul inkomste was ook 23% hoër op US$600 miljard terwyl hul wins met 126% tot US$61 miljard gestyg het.

PwC voorspel hierdie neiging gaan in die 2018-'19-boekjaar voortduur.

Die goeie groei kan aan beter hulpbronpryse vir veral steenkool, koper, ystererts, sink, mangaan en chroomerts toegeskryf word, sê Rossouw.

“Ongelukkig het edelmetale nie so goed gevaar nie.

“Die goudprys in dollar het bykans ­onveranderd gebly terwyl die platinum­prys tans op die laagste vlak in 'n lang tyd is,” sê PwC in sy verslag.

“Met hoër insetkoste gaan mynmaatskappye wat hierdie hulpbronne ontgin na verwagting nie dieselfde goeie groei toon soos wat ander doen nie.”



Suid-Afrika

Die vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse mynbousektor is volgens Rossouw nie so rooskleurig soos vir sy internasionale eweknieë nie.

“In Suid-Afrika speel edelmetale 'n belangrike rol in hoeveel inkomste dié sektor genereer.

“Met druk op goud en platinum, verwag ons dat die afleggings wat tans hoogty in die sektor vier, waarskynlik in die nabye toekoms gaan voortduur,” waarsku hy.

Die ­Suid-Afrikaanse mynsektor het erg noustrop getrek met die nuutste syfers oor ekonomiese groei wat wys dié sektor het met 9,9% in die eerste kwartaal van die jaar gekrimp.

Dit is luidens ­Statistieke Suid-Afrika (SSA) se nuutste syfers oor ekonomiese groei wat Dinsdag gepubliseer is.

Dit is die tweede agtereenvolgende ­kwartaal dat dié sektor agteruitboer nadat dit in die laaste kwartaal van 2017 met 4,4% gekrimp het.

Luidens SSA het die mynbousektor in Suid-Afrika in 2017 met 4,6% gegroei.

Dit is beduidend laer as die syfers wat PwC vir die res van die wêreld bereken het. –Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!