SA: Namibiërs in vervalle TB-hospitaal in kwarantyn
Ronelle Rademeyer - Twee vroue van Windhoek en die een se 16-jarige dogter meen die vervalle staatshospitaal by Nababeep naby Springbok in die Noord-Kaap waar hulle in kwarantyn is, hou ’n gesondheidsgevaar in omdat tuberkulose (TB)-lyers en mense wat aan ander oordraagbare siektes ly, daar behandel word.
“Hierdie is ’n aktiewe gemeenskapskliniek waar mense met TB en MIV/vigs behandel word. Dieselfde susters wat hulle behandel, hanteer ons en dit sonder handskoene.
Ons gebruik dieselfde badkamers as die pasiënte en dit word nie tussen gebruike ontsmet nie.”
So het me. Leigh van Zyl gister uit Nababeep aan Republikein gesê sy waar sy saam met haar dogter, Mia, en ’n ander Windhoeker, me. Marié Liebenberg, sedert 14:00 Vrydag in kwarantyn is.
Die twee vroue se seuns is in graad 12 aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch. Volgens Van Zyl het die seuns vroeër reeds Kaap toe gevlieg, waar hulle in ’n hotel in kwarantyn was. In Suid-Afrika keer graad 12-leerlinge reeds vandag terug skool toe.
“Mia gaan ook op Stellenbosch skool en ons het besluit om af te ry. Ek gaan vir die res van die jaar op Stellenbosch bly sodat die kinders nie nodig het om koshuis toe te gaan nie, maar uit die huis kan skoolgaan,” het sy gister gesê.
“Ons het verduidelik dit sal vir ons veiliger wees om 14 dae in ons woonstel op Stellenbosch in afsondering deur te bring as by hierdie hospitaal, maar hulle hou vol ons is wetlik verplig om hier in kwarantyn te wees,” sê Van Zyl.
Intussen het me. Melanie Nel ’n pleidooi aan joernaliste in Suid-Afrika gerig om oor die toestande by hierdie hospitaal te berig. Sy bevraagteken die gesondheidsowerheid in die buurland se besluit om mense “uit ’n laerisikoland soos Namibië” waar net 24 gevalle is, in hierdie haglike omstandighede in kwarantyn te plaas.
Sy is die Suid-Afrikaanse vrou wat met die hulp van AfriForum daarin kon slaag om die bouvallige Zithabeseni-kwarantynkamp naby Groblersdal in Mpumalanga te laat sluit. Meer as 100 mense is daar in ewe haglike omstandighede in kwarantyn gehou, onder wie sy en haar gesin nadat hulle teruggekeer het van ’n vakansie in Mosambiek waar hulle reeds etlike weke in selfisolasie was.
Van Zyl sê daar is nie 'n heining om die hospitaal nie en ook nie diefwering voor die vensters nie. Verder kan die kamers se deure nie sluit nie. Volgens haar moes die verpleegpersoneel al verskeie kere mense van die gemeenskap vra om die hospitaal te verlaat.
Die veiligheidswag wat hulle kos bedien, dra ook nie ’n masker of handskoene nie, sê sy.
Nel sê in haar pleidooi mense uit laerisikolande moet by die grens skandeer word en indien dit vir hulle moontlik is om tuis in self-kwarantyn te gaan, hulle toegelaat moet word om dit te doen. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie