SA nog ver agter met groenkrag
Francois Williams – Suid-Afrika het nog baie ver om te gaan om na ’n laekoolstofekonomie oor te skuif, soos blyk uit syfers van die Internasionale Energieagentskap (IEA).
Die bydrae van wisselvallige hernieubare energie, soos wind- en sonkrag, tot totale elektrisiteitsproduksie is in Suid-Afrika nog minder as 5%, teenoor byna 25% in Duitsland en meer as 20% in Brittanje – twee lande wat nie naastenby soveel sonskyn soos Suid-Afrika het nie.
Selfs Turkye, ’n ekonomie van min of meer soortgelyke grootte as dié van Suid-Afrika, het teen verlede jaar reeds meer as 5% van sy elektrisiteitsopwekking van wisselvallige hernieubare bronne gekry.
Dr. Fatih Birol, uitvoerende direkteur van die IEA, sê wind- en sonkrag is “kritieke pilare in die wêreld se pogings om aardverhitting aan te pak, lugbesoedeling te verminder en energietoegang aan almal te lewer”.
Die dalende koste van wind- en sonkrag is ’n groot geleentheid, maar kragstelsels sal meer buigsaam moet word en markmodelle sal aangepas moet word om die onbedoelde gevolge op kragsekerheid te vermy, het Birol die afgelope week op ’n konferensie in Duitsland gewaarsku. Die IEA het in Berlyn saam met energieministers vergader oor hoe kragnetwerke groter hoeveelhede hernieubare energie kan hanteer.
Daar is min probleme om die eerste paar persent van die bydrae van wisselvallige hernieubare energie by ’n kragnetwerk te integreer, sê die IEA. Kragnetwerke is ontwerp om die wisselvalligheid en onsekerheid van kragvraag te hanteer. Maar as die bydrae van wisselvallige kragbronne groter word, moet kragstelsels toenemend aanpas.
Intussen wil die kernkragbedryf ook sy plek in die son verseker. Agneta Rising, direkteur-generaal van die Wêreldkernkragvereniging, het Maandag op ’n internasionale konferensie oor klimaatsverandering en die rol van kernkrag gesê regerings moet die omstandighede skep wat nodig is sodat kernkrag sy potensiaal kan bereik.
As alle kernkrag met fossielbrandstof vervang moes word, sou dit kweekhuisgasvrystellings met meer as 2,5 miljard ton koolsuurgas per jaar verhoog het. Dit is die ekwivalent van sowat 400 miljoen motorvoertuie se uitlaatgasse.
Kernkrag is betroubaar en kan 24 uur van elke dag en in alle weerstoestande en seisoene krag lewer, het Rising gesê.
Hoewel daar voorbeelde is van kernkragprojekte wat al dekades sloer en begrotings oorskry, het Rising gesê die kernkragreaktors wat sedert 2000 in bedryf gestel is, is in gemiddeld vyf tot sewe jaar gebou, en meer as ’n kwart van hulle is binne vyf jaar gebou.
Hoewel die koers verdubbel het waarteen nuwe kernkragsentrales in die afgelope vyf jaar voltooi is, sal die tempo waarteen kernkragsentrales voltooi word, moet verdriedubbel as die ergste gevolge van aardverhitting vermy wil word, sê Rising. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie