• Tuisblad
  • Sake
  • SA owerhede werk internasionaal saam oor Viceroy
SA owerhede werk internasionaal saam oor Viceroy
SA owerhede werk internasionaal saam oor Viceroy

SA owerhede werk internasionaal saam oor Viceroy

Capitec is vroeër vanjaar deur Viceroy geteiken wat meegebring het dat die bank se aandeleprys skerp gedaal het.
Die Gedragsowerheid van die Finansiële Sektor (FSGO) in Suid-Afrika is in gesprek met sy eweknieë in die VSA en Verenigde Koninkryk (VK) om Viceroy in die hande te probeer kry.

Viceroy het in Januarie ’n verslag, genaamd “A Wolf in Sheep’s Clothing”, oor Capitec Bank uitgebring. Die verslag, wat veroorsaak het dat Capitec se aandeleprys met soveel as 25% gedaal het, beweer die bank gebruik buitensporige leningspraktyke en onwettige fooie om winste te verhoog.

Verskeie markontleders het Viceroy se verslag sedertdien gekritiseer. Suid-Afrikaanse owerhede het intussen ook ’n ondersoek geloods om vas te stel of daar enige markmanipulasie of binnehandel daarby betrokke was.

“Ons wil, sonder om op die besonderhede in te gaan, alle opsies dek. Ons het ons eweknieë in die VSA en VK gekontak om ons te help om uit te vind wie Viceroy is en ook of hulle ons kan help om hom te kontak,” sê Solly Keetse, hoof van markmisbruik by die FSGO.

Die FSGO het die Raad op Finansiële Dienste (RFD) op 1 April as deel van die Wet op die Regulasie van die Finansiële Sektor – ook bekend as die Twin Peaks-beheerstelsel – vervang.

Capitec beskuldig Viceroy daarvan dat hy met opset die bank se geloofwaardigheid skade gedoen het om sy aandele kort te verhandel.

Viceroy, wat in die VSA gesetel is en wat bekend is daarvoor dat hy aandele kort verhandel, het die bewering ontken.

Finansiëlesektorowerhede mag volgens wet nie besonderhede oor deurlopende ondersoeke bekend maak nie.

Keetse sê hulle hoop om binne ses maande ’n betreklik eenvoudige ondersoek af te handel. ’n Meer omvangryke ondersoek sal binne ’n jaar afgehandel word.

Die FSGO se fokus is op misdrywe met betrekking tot genoteerde sekuriteite in ’n gereguleerde mark, binnehandel, markmanipulasie en vals en misleidende verklarings.

Steinhoff

Die verkoop van Steinhoff se aandele in Desember, asook dié van die eiendomsmaatskappye Resilient Reit, Nephi Rockcastle, Fortress en Greenbay in Februarie, het ook vrae laat ontstaan oor of enigiemand vóór die res van die mark inligting oor dié maatskappye gehad het.

Shaun Davies, direkteur van markbeheer by die JSE, sê hulle het ’n sensitiewe stelsel om die koop en verkoop van aandele dop te hou. Die stelsel kan ook handelaars identifiseer.

Hy sê as daar enige ongewone aktiwiteit is, word die JSE daarvan in kennis gestel. Owerhede kyk dan of daar enige inligting is wat algemeen beskikbaar is wat die veranderinge kon veroorsaak. As dit nie die geval is nie, kontak die JSE die genoteerde maatskappy en vra wat aangaan.

Die maatskappye erken soms dat daar verhandeling kon plaasvind voordat hulle hul resultate bekend gemaak het, of voor veranderinge by die maatskappy bekend geword het. Die JSE sal in so ’n geval kyk wie die aandele gekoop en verkoop het. Sou die JSE vind ’n ondersoek is geregverdig, sal hy die FSGO inlig wat dan die proses sal oorneem.

Davies sê dit is ook bekend dat genoteerde maatskappye soms tik- en ander foute in hul finansiële state maak. Dit lyk egter of dit in die geval van Steinhoff die eerste keer kan wees dat ’n maatskappy daaraan skuldig bevind gaan word dat hy aspris verkeerde en misleidende inligting gepubliseer het. – Netwerk24/Fin24, verwerk

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!